Vir Jan Rap oor ontlening en mengeltaal

  • 1

Beste Jan,

As jy wil argumenteer oor taal, sal jy beslis moet leer om noukeuriger te lees. Ek het nie gesê die probleem is ontlening nie. Ek het gesê die probleem lê in die woord “ontlening.” As jy my brief met aandag lees, sal jy agterkom dat ek daarmee bedoel het dat ek en jy nie kan ooreenkom wat die woord “ontlening” beteken nie. Vir jou het dit die eng betekenis van slegs in noodgevalle word gebruik gemaak van ’n vreemde woord in Afrikaans, terwyl my keuse van insluiting tot ontlening heel wyer is.  Daarom het ek gevalle genoem waar leenwoorde gebruik word. Jou kommentaar daarop wys dat jy nie verstaan het nie. Daarom gaan ek dit herhaal met jou kritiek daarby om die onsin daarvan te bewys.

Ek het geskryf:

“Ek kan dink aan verskeie redes waarom enige taal van leenwoorde gebruik sal maak. Ek sal slegs Engelse leenwoorde uitwys, want dit is nog produktief, terwyl leenwoorde uit ander tale soos bv. Duits, Latyn, Portugees en Frans gevestig is.” (Ek beklemtoon om die lees daarvan virjou tevergemaklik.

Verder skryf ek:

“1. Vir die begrip wat deur die Engelse woord aangedui word, bestaan in Afrikaans nie ’n term nie. (Woorde wat betrekking het op die Wetenskap, Regswese, Landsbestuur, tegniek, ens.”

Jou kommentaar:

“1 Jy sê, vir die Engelse enkele woord, is daar 'n hele omskrywing in Afrikaans wat betref wetenskap, regswese, landsbestuur, tegnologie ens.  Onsin, vir al daardie Engelse terme bestaan daar in Duits, Russies, Afrikaans, Frans ens terme.  Om die waarheid te sê, veral in filosofie en sielkunde is baie Engelse terme aan Duits ontleen. Daar is wel terme en begrippe in Engels waarvoor daar in Afrikaans (en ander tale) 'n omskrywing nodig is maar net so is daar in Afrikaans (en ander tale natuurlik) weer terme en begrippe waarvoor daar in Engels 'n omskrywing nodig is.  Dink maar aan die sinnetjie "doen moeite" of "jy is darem oulik" of "ek het my sommer vervies".   Daar is duisende voorbeelde.”

Vergelyk noukeurig wat ek geskryf het, en hoe jy dit verstaan. Ek volg nie jou argument met “doen moeite”, “jy is darem oulik” en “ek het my sommer vervies” nie. Verduidelik asseblief. Is dit wat jy onder die begrip terme verstaan?

Wat jy hier geskryf het, bewys dat jy nie die vaagste benul het waaroor dit gaan nie. Hier raak jy al klaar deurmekaar met 1. en 3.  Parlement, senaat, sersant, konstabel, kolonel, delete, komputer, elektronies, elektronika, elektroskoop, eleksie, ektopie, ektoplasma, ekwasie, ekwinoks, ens. is voorbeelde van leenwoorde uit Engels. Ek sien ek het sport uitgelaat: rugby, tennis, krieket, sokker, ens. Natuurlik kan daar sinonieme vir hierdie woorde wees wat in Afrikaans geskep kan word, of ontleen is aan Duits, Frans, Latyn, ens.  Dink maar aan Volksraad, rekenaar, verkiesing, ens.

Feit bly staan, op die gebied van die wetenskap veral, kom daar byna daagliks nuwe woorde by, en die enigste bron is deesdae Engels. Selfs al is die term oorspronklik Latyn, soos bv. Homo Sapiens, dan kom dit via Engels in Afrikaans.

Ek het geskryf:

“2. Die Engelse woord druk die gedagte noukeuriger uit as die Afrikaanse woord, en het ook soms ’n effens ander betekenis. Die gevoelswaarde van die woord speel hier ’n rol. (konversasie x gesprek, affronteer x beledig, soepel x buigsaam, kompensasie x vergoeding, heppie x gelukkig, bend x orkes, introducé x voorstel, stage x verhoog, jollie x vrolik, jintelman x heer,  spiets x toespraak, ens.)  

Jou kritiek:

“2 Jy sê die Engelse woord "... druk die gedagte noukeuriger uit  as die Afrikaanse woord...".  Onsin; die ou wat Russies, Afrikaans, Duits of Fins praat, enige taal, druk sy gedagtes net so goed uit.  Wil jy nou vir my sê, omdat iemand Engels is, hy beter kan redeneer of filosofeer as iemand wat, sê Russies of Duits of Frans, is?”

Die Patriotiese bloed in jou are veroorsaak dat jy dit wat ek geskryf het, heeltemal verkeerd vertolk. Ek het nie van ander tale gepraat nie, en ook nie van alle Engelse woorde nie; slegs in die geval van leenwoorde. Om enkele voorbeelde te noem: ’n nooi met ’n soepel liggaam is iets heel anders as ’n nooi met ’n buigsame liggaam; en ’n bend is darem nie ’n orkes nie. Ek beledig nie ander tale en hemel Engels op as sou dit ’n beter uitdrukkingsvermoë besit nie. Die omgekeerde is ook waar: Engels maak ook gebruik van ander tale se woorde omdat dit gedagtes noukeuriger uitdruk.

Ek het geskryf:

3. Engels het slegs één woord vir ’n sekere begrip, terwyl dit in Afrikaans ’n hele omskrywing is. (aktueel, nasionaliteit, prestige, memoriseer, ens.)

Jou kommentaar:

“3 Sien punt 1”

Sien jy wat ek bedoel? Jy is die kluts heeltemal kwyt. Jy kan nie eens die verskil tussen 1. En 3. insien nie. Met 3. Bedoel ek dat dit soms gebeur dat Engels net een woord het waar in Afrikaans ’n langer beskrywing sal wees. Dan is die Engels woord aangewese een om te gebruik. Die omgekeerde is ook waar: Die Engelsman sal verkies om te sê: “I’m going to a braai,” i.p.v. “I’m going to a social event at which food is cooked outdoors over an open fire .”

Dit is egter so dat tale soos Duits en Afrikaans beskrywend is met woordskepping, terwyl Engels staatmaak op klank wat dan betekenisdraend word. Duits sal bv. praat van Streichholz en in Afrikaans, vuurhoutjie, terwyl Engels sommer die woord match  is. In Duits het Hitler gepraat van ’n Schildkrötenpanzerwagen, en ons in Afrikaans sou seker van ’n motoraangedrewe kanon- en masjiengeweerdraende gepantserde kruipbewegende voertuig gepraat het, as die Engelse ons nie die woord tank  geleer het nie. Dit het ons toe verafrikaans wat uitspraak en spelling betref tot tenk.

Verstaan tog goed. Ek sê nie Engels is ’n beter taal as ander tale omdat dit hierdie eienskap het nie. Dit is miskien Engels se swak punt.

Voel jy regtig of Engels by jou keel afgedruk word? Jy sal iets moet doen aan hierdie Anglofobie van jou. Sou jy sê die antwoord lê in George Orwell se Newspeak? Dink jy daar moet ’n Grootbroer reg sit met ’n bliksemstraal en elke ou wat Afrikaans praat, reg bliksem  as hy dit durf waag om om te sê: “usually as ek vir my goals geset het, achieve ek hulle”?

Aan taal se verloop kan taalgeleerdes soos jy, niks doen nie, want taal is instink en by die mens ’n ingebore vermoë. (Vgl Chomsky.) ’n Voorbeeld: Die Duitser wat op die grens tussen Duitsland en Nederland woon kom makliker met sy Duits oor die weg as hy gaan inkopies doen in Amsterdam. Gaan hy Berlyn besoek, verstaan die Berlyners sy Duitse dialek met moeite, en sukkel hy maar met die inkopies.

Groete

Angus

Naskrif by Ontlening: Duits vir tenk.

Nadat ek die brief oor taal aan Jan Rap gesend het, kom my Duitse vriend hier aan en hy lig my toe in dat die Duitsers gepraat het van ’n Schutzengrabenvernichtungsautomobile terwyl die Engelse sommer van ’n tank gepraat het.

  • 1

Kommentaar

  • Kaak man, sê vir jou Duitse vriend hy moes, na hy sy taal aan moedersknie geleer het, gaan kersopsteek het wat betref tegniese terme aan vadersknie.  Die Duitsers het gepraat van 'n PK wat staan vir Panzerkraftwagen.  Buitendien, daardie lang woord in jou naskrif sou eindig in -kraftwagen en nie -automobile nie (dalk nog -auto maar dis te betwyfel).

    Dis 'n mite dat daar in Afrikaans altyd 'n omskrywing is waar in Engels net 'n enkele klank of woord is.  Engels praat van armoured car, ons van pantserwa.  So ook distribution box teenoor verdeelkas, cleaning eye teenoor steekoog, cantilever beam teenoor kantelbalk, distrubutor teenoor verdeler, reverberation duration teenoor naklankduur, roof truss teenoor dakkap ens ens. 

    Groetnis

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top