Na aanleiding van Jan Rap se antwoord op vrae aan hom gestel onderaan sy skrywe: Vir Dirk Rigter (in leketaal).
Beste Jan,
Ek is bly ek het hierdie vrae aan jou gestel, want nou kan ek duidelik jou taalbeskouing sien.
Vraag 1. Wat jy as grammatika beskou wat in die menslike verstand geleë is, noem die linguiste taalstruktuur. Dit is afkomstig van die mens se vermoë om aanvanklik enige taal se woordeskat en struktuur aan te leer deur slegs blootstelling aan daardie betrokke taal. Chomsky en linguiste na hom, praat van dieptestruktuur.
Vraag 2. Grammatika is duidelik herkenbaar aan die terminologie van die dissipline: woord, voorvoegsel, agtervoegsel, woordstam, sin, sinsdeel, byvoeglike bysin, bywoordelike bysin, woordsoorte, spraakklank, en die beskrywing van spraakklanke, bv Die b-klank is ? stemhebbende bilabiale eksplosief, die g-klank (eie aan oa Afrikaans) ? stemlose gutturale frikatief, ens, ens. Hierdie grammatika-terminologie word gebruik om die struktuur van ? taal te beskryf, soos deur, dak, venster, fondasie, baksteen, sement, dagha, deurkosyn, terme is om die struktuur van bv ? huis te beskryf.
As ek dus vra hoe lyk grammatika, is dit nie ? snaakse vraag nie, dit is taal wat die linguis gebruik om taalstruktuur te beskryf. Om verder te verduidelik: taalvermoë (dieptestruktuur) skep taal met besonderse struktuur (wat Chomskiaanse oppervlaktestruktuur noem). Linguiste (mense met gespesialiseerde kennis van taal) gebruik grammatiese terme om die struktuur van daardie taal te beskryf.
Vraag 3. Jy beweer dat niemand weet hoe grammatika lyk nie. Hoe so? Alle mense wat skoolgegaan het, weet hoe dit lyk. Elke mens leer van babatyd af om ? taal te praat. As hy in die skool kom, leer hy dat as hy huis sê, dit ? woord is. As hy sê: “Ek wil huis toe gaan,” dan is daardie klompie woorde ? sin. Soos wat hy op skool vorder, leer hy dat hierdie woorde op spesiale plekke binne ? sin staan, en daarvolgens kry hulle woordsoortname. Die man eet vleis, se struktuur is lidwoord+s.nw.+ww.+s.nw. Nog verder, en veral as die leerling ? Duitser is, leer hy van geslag van woorde, en naamvalposisies in sinne. Nog later leer hy miskien dat taal ? geluidstroom is wat uit spraakklanke bestaan en dat boek se klankstruktuur stemhebbende bilabiale eksplosief + geronde voorvokaal + stemlose gutturale eksplosief is. Al hierdie grammatika kry ? mens in ? boek. Linguiste, wat taalnavorsing doen, het dit geskryf, of dit is geskryf as handboek vir skole. Kom die mens dan op universiteit, en hy stel belang in tale, dan sal hy tot die besef kom, dat die studie wat daar gedoen is ten opsigte van, sê nou maar Afrikaans, net die boonste nerfie is van die hele boerpampoen.
Deesdae se linguiste stel ook selde belang in ? enkele taal. Hulle doen navorsing oor die universele taal en wat in die mens se kop aan die gang is. Hulle krap die tradisionele taalbeskouing heeltemal omver. Darwin se evolusieleer het al daarop gewys dat taal ? produk is van natuurlike seleksie. Chomsky het aanvanklik gemeen dat die evolusie van taal ? te moeilike onderwerp is. Later het hy, soos Stephen Jay Gould, gemeen dat taal ? neweproduk van evolusie is. Die werk van mense soos Stephen Pinker en Paul Bloom het taalnavorsers laat besef dat Darwin dit reg gehad het. Dit is die produk van natuurlike seleksie.
Taal word, volgens Chomsky, vergelyk met ? rekenaarprogram. Daardie taalvermoë van die mens, wat hy UG (Universal Grammar) noem, het die vermoë om ? hele taal met al sy ingewikkeldhede, te genereer. Na hom kom Liebermann weer en hy sê: “Syntax is not the touchstone of human language, and evolution is not logical.”
Vir die moderne linguis maak die studie van taal (language) slegs sin in die lig van die evolusieteorie, en, sê Liebermann, “evolution doesn’t give a damn about formal elegance.”
Dink net wat hierdie laaste sin beteken in die lig van jou denkwyse oor Afrikaans.
Angus

