Vir Jan oor grammatika: Wat was eerste, die hoender of die eier?

  • 1

Ek en jy stry rondomtalie oor dieselfde ding. Ek beskou dit net uit ? linguistiese oogpunt, terwyl jy jou verlaat op woordeboekbeskrywing. Ek het niks teen die woordeboekverklaring nie. As iemand die woord grammatika teëkom, en hy weet nie wat dit beteken nie, dan is “die taak van grammatika is om woorde in sinne te organiseer” goed genoeg vir hom. As ek egter ? studie van grammatika maak met die oog op sê maar, die skrywe van ? grammatika, of miskien ? tesis, dan is so ? verduideliking nie genoegsaam nie. Kom ek stel ons standpunte teenoor mekaar.

My siening is: Alle tale het strukture, anders sal dit en uit losstaande klanke bestaan en onlogies wees. Hierdie strukture kom vanaf die menslike vermoë van taal. Niemand sê, of skryf reëls voor wat die klanke en woorde so organiseer nie; dit kom vanself, natuurlik voor. Hierdie vermoë is universeel, daarom die ooreenkoms tussen alle tale van die wêreld: almal bestaan uit spraakklanke wat woorde vorm wat ‘n bepaalde volgorde het om sinne te kan vorm. Dit beteken dat ? kind/kleuter hierdie uiters ingewikkelde taalstruktuur onbewus baasraak, deur net blootgestel te word aan die taal.

? Taalliefhebber/linguis, iemand wat hom verwonder oor taal, bestudeer nou die struktuur van ? sekere taal, en beskryf dit dan in die terminologie wat alle taalkundiges gebruik nl die terminologie van grammatika. Grammatika is ? vakdissipline en beskryf nie alleenlik die sintaksis van ? taal nie, maar sluit ook in Fonologie en Semantiek. Linguiste sal dus ook uitspraak-, vertalende en verklarende woordeboeke vir die taal skryf. Die woord grammatika kom oorspronklik van die Griekse woord grammatik? (tekhn?) wat letterkuns beteken. Taal is dus primêr deskriptief van aard, maar kan, nadat dit geskryf is, preskriptief aangewend word om bv ? taal aan te leer, of vir mense wat om een of ander rede belang stel in die taal, te verduidelik hoe daardie besonderse taal inmekaarsteek. Hierdie grammatika is nie volledig nie, en mettertyd sal ander linguiste ander aspekte raaksien en grammatikaal beskryf. ? Taal se struktuur is so ingewikkeld dat geen volledige grammatika daarvoor op een slag geskryf kan word nie. Linguiste vind gedurig nuwe aspekte wat hulle dan beskryf en logies probeer verklaar.

Jou siening is (as ek reg verstaan): “Elke taal het struktuur. Struktuur is die wyse waarop ? ding uit ? entiteit, abstrak of konkreet, saamgestel is uit elemente, deeltjies. In taal is hierdie deeltjies woorde en die grammatika skryf voor hoe hierdie woorde aanmekaar geskakel moet word om sinne (en sin) te maak.” Om ? taal te kan praat, moet ? mens die reëls van die grammatika van ? betrokke taal ken. Dan eers kan jy dit korrek praat. Die kleuter moet, voordat hy kan praat, eers leer van naamwoorde, werkwoorde, naamvalle en woordfleksie. Die Duitse kind sal bv eers moet memoriseer watter woorde manlik, vroulik en onsydig is, voordat hy hierdie woorde met hulle lidwoorde korrek in die betrokke naamvalle sal kan gebruik. Volgens jou is grammatika slegs preskriptief, maw dit skryf streng reëls voor oor hoe die taal gebruik moet word.

Verder is jou siening dat slegs ouer tale naamvalle het, en moderne tale, soos Engels en Afrikaans het nie naamvalle nie.

My siening is: Enige taal het struktuur, maw binne die sinne daarvan is daar sekere posisies. Grammatici wys in Germaanse tale op vier posisies, en hulle noem hulle nominatief, genitief, datief en akkusatief. Hulle word ook genommer omdat hulle struktuur beskryf: eerste, tweede, derde en vierde naamval. Net soos spelers in ? rugbyspan sekere posisies inneem, so beklee woorde ook posisies binne ? sin. Daar is egter ? verskil (behalwe die ooglopende). As ? haker bv op skrumskakel gebruik word, kan hy sy liggaamsbou nie verander nie. Hy moet maar na die beste van sy vermoë met sy swaar liggaamsbou daar diens doen. Met ? taal se woorde is dit egter anders; woorde verander van vorm om in te pas by die betrokke posisies. Neem bv die Duitse eerstepersoonsvoornaamwoord, Ich. In posisie nr 1 is dit ich, in 2 is dit meiner, in 3 is dit mir, en in 4 is dit mich. Ander woordsoorte ondergaan ook verandering. In 1 is dit der Mann, in 2 des Mannes, in 3 dem Manne, in 4 den Mann.

In Afrikaans: 1 ek, 2 my, 3 my, 4 my; 1 man, 2 man se, 3 man, 4 man. Dit is dadelik opmerklik dat Afrikaanse woorde in verskillende posisies kan diens doen sonder vormverandering. Die grammatikus sal, wanneer hy Afrikaanse grammatika beskryf, dus naamval as onbelangrik beskou en dit nie in ag neem nie. Die leek sal daarmee verstaan dat Afrikaans nie naamvalle het nie. Hierdie posisies bestaan wel in die Afrikaanse sintaksis. Kyk maar na die volgende: 1. Die man skryf ? brief; 2. Dit is die man se pen; 3. Die meisie skryf ? brief aan die man; 4. Ek sien die man.
Engels en Afrikaans, trouens elke taal het woorde in verskillende sinsposisies wat grammatici uitken as naamvalle.

Naamval (Case) is dus universeel by alle tale. Indien iemand ? kunsmatige taal sou skep, sal naamval noodwendig daarby betrokke moet wees; dit kan nie anders nie.

Dit is in elk geval hoe die grammatika pre Chomsky gelyk het. Met en na Chomsky het ? hele paradigmaverskuiwing plaasgevind.

Moderne linguistiek bestudeer nie meer ? betrokke taal wat in ? sekere deel van die wêreld gepraat word nie. Die klem lê nou meer op die diepere geheime van taal; daardie dinge wat ons nog nie mooi verstaan nie. Hoe het taal ontstaan? Is dit slegs ? neweproduk van evolusie, of is dit ook aangedryf deur natuurlike seleksie? Die generatiewe linguis is nie meer geïnteresseerd in die uithoeke van die aarde nie, hy stel meer belang in dit wat in die menslike verstand aan die gang is. Elke mens het die potensiële vermoë om taal (Language) te bemeester; dit is asof taalvermoë in die menslike brein ge-‘hardwire’ is, want hoe is dit moontlik dat ? kleuter so ? ingewikkelde taalstelsel kan baasraak, terwyl sy blootstelling aan die taal so karig is? Breinspesialiste raak nou ook betrokke in die soektog na daardie spesiale module wat sintaksis en betekenis kontroleer, asook ? module wat spraakklank prosesseer.

Daarmee kom ek by ? gebied wat ek liefs aan die linguis in samewerking met die genetikus en breinchirurg wil oorlaat.

Of, hoe lyk dit, Jan, gaan ek en jy hieroor probeer eiertjies lê, of gaan ons aanhou kibbel oor wat eerste was, die hoender of die eier?

Angus

  • 1

Kommentaar

  • Ek stem saam met jou Angus, ek reken ons het nou genoeg eiertjies gelê, ek is nou moeg vir grammatika, struktuur edm.  Daar het intussen 'n brief oor die onderwerp aangekom wat geplaas is saam met joune waarop ek nou kommentaar lewer so as jy nog iets daaroor wil sê maak dan maar so.

    Jy vra wie was eerste, die hoender of die eier?  Kwit man, ek het nie eers geweet hulle het 'n resies gehad nie.

    Maar dis 'n baie interessante vraag.  Die papie-een pla my al jare; wat was eerste, die wurm of die mot?

    Jan Rap

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top