Dagsê Jaco
Ek reageer op jou stukkie kommentaar (18/9) onder aan my brief van 9/9.
Jy sê ek " ... spog oor Dan se WAARNEEMBARE dade." Verkeerd, ek het reageer op jou vraag wat ék doen om 'n volkstaat te bevorder en ek het geantwoord dat, al sou ek jou vertel wat ek doen (indien enigiets, want jy vra juis omdat jy nog niks waargeneem het wat ek doen nie), jy nog steeds giftig gaan wees en dit lei ek af van die feit dat jy uiters vyandig teenoor Dan is omdat hy wel iets doen (en dit moet waarneembaar wees aangesien hy reaksie by jou uitlok wat nie die geval is met Piet Pompies of Joe Soap nie).
Jy het dus 'n drogstelling gemaak en ek weet nie of dit moedswillig is en of dit maar net is omdat jy nie mooi verstaan wat jy lees nie. Maak seker nie saak nie want die een is so erg as die ander. Terloops, hierdie vraag van jou is ten opsigte van een sinnetjie in 'n brief waar ek jou gevra het om vyf van jou stellings te kwalifiseer wat jy toe maar besluit het om te systap.
Jy sê jy is kwaad vir Dan oor wat hy NIE doen nie; jy sê die " ... derms wat [jy] uitryg is juis oor wat Dan NIE DOEN NIE." Hoe kan jy so iets sê sonder om te kwalifiseer? Byvoorbeeld, Dan speel nie vir die Bokke nie, ek vermoed sterk hy versamel nie Netsuke nie, of maak kaas nie, of bedryf nie 'n varkboerdery nie, daar's seker duisende goed. Hoe kan jy kwaad wees daaroor?
Maar laat ek nou maar vir jou sê wat hy doen: Hy lewer verslag oor die sotlikhede van diegene wat hulself as liberales beskou deur verslag te doen, hy jag en slag die liberale establishment se heilige koeie, hy lê onregverdighede bloot, hy skud die hokkies van die wat stroomaf dryf. Hy maak die jabroers en agterryers woedend deur hulle te ontmasker.
Dit doen hy onder andere deur artikels wat hy op sy webwerf skryf en boeke wat hy publiseer. Hy reis oorsee en verkondig die ooglopende, naamlik dat die keiser kaal is en dit kan die keffers wat saam met die Rottweilers blaf nie verwerk nie (hulle heul met die Rottweilers). Hulle haat en verguis hom en hierdie reaksie kan godsonmoontlik spruit uit niksdoen van Dan se kant af nie.
Terloops, en ironies genoeg, baie van die goed wat ek gelees het op sy webwerf was te danke aan jou; jy't hom aangehaal en verwys na sy webwerf. Jy is dus weldeeglik bewus van wat hy doen.
Wat die taalles betref; ek het jou nie 'n taalles gegee nie daar is gewoon nie tyd om so iets te doen nie; ek het jou bloot daarop gewys dat jy aanhoudend 'heul' verkeerd gebruik. Dis niks om jou oor te wip nie; ek is byvoorbeeld al baiekeer gewys op taalfoute (die gebruik van 'huidiglik' byvoorbeeld) en ek slaan ag daarop, mens is nooit te oud om te leer nie. So, sluk jou trots en hou op om 'heul' in plaas van 'neul' te gebruik.
Groetnis
Jan Rap

