Vir Jaco Fourie oor sy brief "Jan Rap se probleme met homself"

  • 0

Hallo Jaco, ek verwys na jou brief van 26 September 2003.

Jy reken aan my "ontbreek die vermoë om feitlik te redeneer."  Mag so wees maar indien dit die waarheid is sal jy dan mos maklik oor enige vraag wat ek vra, of redenasie wat ek opper, kan loop.  'n Debat met my sal dan mos vir jou die spreekwoordelike wandelinkie in die parkie wees.

Dit is egter nie so nie; jou 'feitlike' redenasies is beperk tot 'n geweeklaag dat ek jou woorde verdraai en 'alewig analogieë gebruik' wat jou dan noop om nie verder te praat nie.  Jy't tot al op 'n kol, toe jy weer kop in die sand gedruk het, beweer dat ek 'n fanatikus is; jy praat nie met fanatici nie het jy gesê.

Kom ons kyk bietjie wat regtig gebeur het:  Onderaan my brief oor die kinders van vandag (27/8) het jy 'n paar stellings gemaak (29/8) en, omdat hulle vir my soos bloot persoonlike menings gelyk het, het ek gevra (2/9) dat jy hierdie stellings staaf.  Jou antwoord (kommentaar onderaan ook op 2/9) daarop was dat ek oor kleinlikhede kibbel en jy gaan nie tyd mors deur daarop te antwoord nie.  Arrogant, dink jy nie so nie?  Jy maak 'n stelling en as iemand dit bevraagteken kibbel hy volgens jou oor kleinlikhede. 

Jy het voortgegaan en gesê jy is bereid om saam te gesels oor die groot prent rakende die Afrikaner; watter positiewe toekoms ek sien vir die Afrikaner.  In 'n opvolgbriefie (kommentaar ook op 2/9) het jy my gevra of ek bereid is om met jou 'n debat oor die volkstaat te voer en, indien wel, moet ek afskop daarmee.

In my antwoord (4/9) het ek aangedui dat, wat jy as kleinlikhede uitmaak, juis jóú stellings was en my vrae ten opsigte daarvan herhaal.  Ek het ook gevra waarom jy oor 'n volkstaat wil debatteer want, sodra iemand van jou verskil, 'mors jy nie verder tyd nie.'  Ek het ook jou vertel dat ek al herhaalde male my siening oor 'n volkstaat gegee het.

Jou antwoord op my brief (kommentaar onderaan ook op 4/9) was dat jy maar 'gaan toegee' en my vrae probeer antwoord (eintlik, streng gesproke, moes jy nie my vrae beantwoord nie; jy moes jou eie stellings staaf) en jy raak toe dieselfde klomp stront kwyt, byna presies dieselfde as jou oorspronklike stellings.  Jy dring ook daarop aan dat ek moet sê wat ek DOEN ten opsigte van die daarstel van 'n volkstaat.

Op 9/9 antwoord ek jou en wys jou daarop dat jy elke vraag gesystap en/of nie behoorlik geantwoord het nie.  Ek voeg ook by dat wat ookal ek 'doen' wat betref die volkstaat geensins sal help nie.  Hierdie afleiding maak ek na aanleiding van jou galbrakery oor Dan Roodt want hy doen wel iets waarneembaar en dit maak jou histeries.  Jou antwoord hierop (kommentaar onderaan ook 9/9) is dat jy die storie maar 'n 'gemis' sal gee.

Op 17/9 neem jy toe wel die pen op en raak erg onthuts omdat ek sê Dan doen iets 'waarneembaar'.  Dit sou nou 'n valse stelling wees wat jou genoop het om uit te gewys het wat AfriForum 'WAARNEEMBAAR' doen (kan nie nou daardie skrywe kry nie, was dit aan Thomas?).

Skielik is AfriForum nou in die prentjie en jy besing einste verwoed, so al asof ek ooit AfriForum aangeval het.  Waar kom jy nou daaraan; is dit nou om die aandag af te lei en 'n ander onderwerp te begin, soos jy ook gepoog het met die voorgestelde debat oor 'n volkstaat?  Vir jou edifikasie, ek is half betrokke by 'n projek oor Afrikaans waar die ouens besig is om vir AfriForum te raadpleeg.  Ek sê hoeka vir jou, toeka se tyd al, enige organisasie wat Afrikaans en die Afrikaner op die hart dra het my ondersteuning.

So, ook op 17/9 vertel ek jou van hierdie houding van my jeens Afriforum en sê ook ek het nie nodig om jou in te lig wat Dan Roodt doen nie want jy weet dit alreeds baie goed anders sou jy hom nie so gedurig verguis nie.

Op 18/9, ook in die kommentaarhokkie, vertel jy my dat ek nie so maklik gaan wegkom nie; ek " ... spog oor Rooi Daantjie' se waarneembare dade en dus moet ek jou en die lesers inlig oor sy 'wonderbaarlike WAARNEEMBARE dade'.  Hier het jy natuurlik weer, soos so vele male vantevore, die kat aan die gat beet gehad; ek het nooit gespog oor Dan se dade nie; ek het bloot vir jou gesê dit help nie ek vertel wat ek doen nie want dit sal jou nog net meer giftig maak soos ek kan sien aan die manier wat jy teenoor Dan optree.

Jy sê ook die derms wat jy " ... uitryg is juis oor wat Dan NIE DOEN NIE."  Ek wys jou oor die waansin van hierdie stelling van jou deur dinge aan te haal wat Dan heel waarskynlik nie doen nie en vra hoe jy nou kwaad daaroor kan wees.

Ek spel ook uit die dinge wat ek weet Dan wel doen (en dat baie daarvan het nogal onder my aandag gekom deur jou toedoen).  Onder andere dat hy die agterryers, meelopers en ja-broers ontmasker (ek hoor hy word selfs deur die pers gemuilband; dit gebeur nie met iemand wat sit en niks doen nie).

Jou antwoord hierop (26/9) is weer eens 'n eierdansbrief, vol aantygings soos dat ek byvoorbeeld jou woorde verdraai, dat ek wat jy sê herfraseer en sekere woorde dan uitlaat ens ens.  Dis nie waar nie; laat ek dus weer demonstreer (ek sit jou stelling in skuinsskrif en my vraag daarna in gewone skrif):

'n Sekere kliek Afrikaners wil demokrasie afskiet weens frustrasies omrede hulle dit nie kan regkry om hulle agenda deurgevoer te kry nie.
Hoekom sou die ouens wat juis demokrasie najaag nou demokrasie afskiet?

Ons demokrasie is maar net 'n karige 20 jaar oud en 'n demokrasie onderhewig aan die beste konstitusie ter wêreld is dit beslis.
Is 'n demokrasie wat 30 oud is beter as een wat 20 jaar oud is?  Om jou nou nie te ontstig nie sal ek maar nie weer 'n storietjie ter verduideliking gebruik nie maar ek sal jou dít sê; op 'n stadium was die ZAR ook maar net 20 jaar oud en daar's nie 'n manier wat dieselfde korrupsie, misdaad, plaasmoorde, verkragtings, bandebrandery, opstande, klipgooiery en dies meer so erg was soos hier op die oomblik nie.  Om die waarheid te sê, hier vererger dinge soos die tyd aangaan.
En wat help die wonderlike konstitusie om dinge te normaliseer?  Jy praat van die grondwetlike hof:  Moet 'n vrou voor sy verkrag word,  of 'n boer voor hy vermoor word sê wag nou, laat ons eers grondwetlike hof toe gaan?  Met die aankoms van die Nuwe SA is sogenaamde doemprofete, mense wat gesê het dinge gaan gebeur soos reeds ten noorde van ons gebeur het, gesus met die wonderlike grondwet.  Soos jy kan sien aan die heersende toestand help die grondwet net mooi niks.

Nog 'n vraag wat jy nie kon antwoord nie is jou gedurige gekweel oor mense wat negatief is.  Jý is negatief teenoor Dan Roodt, jy is negatief teenoor wat jy die gekkegrensers noem en jy is negatief teenoor my.  As ek nou jou filosofie volg moet ek vra wat DOEN jy omtrent almal wat jy as so negatief beskou.  Ek moet dan ook sê as jy my nie kan vertel wat jy POSITIEF hieraan doen nie, gaan ek nie meer my tyd met jou mors nie.  Gelukkig het ek nie daardie negatiewe houding van jou nie; ek is bereid om oor enigiets met enigiemand te praat.

Groetnis

Jan Rap

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top