Beste Angus
Soos ek gesê het, die probleem is taalvermenging en nie ontlening nie juis omdat jy nie mooi weet wat 'ontlening' presies beteken nie soos blyk uit jou brief van 1 Augustus aan my.
Jy gee mooi die HAT se verklaring naamlik " ... oorneem van, put uit: Woorde aan ’n ander taal ontleen. Ontleende gedagtes.Ontlening ..." maar dan maak jy 'n wilde denksprong en gee jou eie verklaring naamlik " ... enige woord van enige taal wat in enige ander taal GEBRUIK word, is ’n leenwoord ..." (jou vetskrif, my skuinsskrif). Verkeerd, dis duidelik dat jy dink 'ontleen aan' en 'gebruik' het dieselfde betekenis wat natuurlik nie so is nie.
Om die storie vir jou mooi te verduidelik, beskou die volgende sinnetjies:
Hier is 'n Engelse sin met Afrikaanse leenwoorde in: Come over for a braai and then I'll show you the slides of the family's trek through Africa in that old Kombi I bought voetstoots from Kariem.
Hier is 'n Engelse sin besoedel met Afrikaanse woorde: Gewoonlik, once I've stelled myself some doelwitte I'll bereik them.
Hier is 'n Afrikaanse sin met leenwoorde uit Engels: 'n Gentleman sal my nie so treiter oor my neef so anti-establishment is nie.
Hier is 'n Afrikaanse sin besoedel met Engelse woorde: Usually, as ek my goals geset het achieve ek hulle. Hier is nog een wat ek die naweek op 'n nuusinsetsel gesien het: Ons is willing om te move maar ...
So, weer eens, 'n leenwoord is NIE, soos jy die HAT verkeerdelik vertolk, "... enige woord van enige taal wat in enige ander taal" gebruik word nie. Die HAT sê ook duidelik 'n "leenwoord is 'n woord aan 'n vreemde taal ontleen", dus hoegenaamd nie enige vreemde woord van enige ander taal wat bloot gebruik word nie. Hoe moeilik is dit nou om te verstaan?
Oor die algemeen: As iemand kennis van twee tale moet hê om 'n spreker te verstaan dan, kennelik, is die spreker besig om mengeltaal (mooi woord wat ek by jou geleer het) te gebruik. Die spreker is dus besig om die een taal met die ander te besoedel.
Wat betref die goed waaroor ek nou " ... nie 'n benul ..." sou hê nie: In punt nommer 1 (jou brief van 1 Augustus) sê jy wat betref begrippe in sekere vakgebiede bestaan daar in Afrikaans nie 'terme' nie. Aangesien jy nie voorbeelde genoem het nie het ek maar aangeneem jy bedoel dat daar dan in Afrikaans 'n omskrywing moet wees, vandaar my verduideliking dat daar in Engels ook langer omskrywings voorkom vir Afrikaanse terme (vir begrippe) en ook vandaar my verwysing by punt 3 na punt 1 waar ek reeds aangedui het dat daar ook gevalle in Engels is waar 'n omskrywing van 'n enkele Afrikaanse term vir 'n seker begrip nodig is.
Dit blyk nou, na aanleiding van jou laaste brief, dat volgens jou die Afrikaanse terme vir hierdie begrippe almal leenwoorde uit Engels is. Ook natuurlik onsin, dink maar aan die Afrikaanse 'naklankduur' vir die Engelse 'reverberation duration', 'wipsaag' vir 'oscillating saw' ens, daar's talle voorbeelde.
Maar, ek gee toe, daar is seker plekke waar ek nie mooi lees nie of nie mooi verstaan wat jy bedoel nie. As daar dus nog sulke gevalle is, laat maar weet dat ek dit kan regstel.
Groetnis
Jan Rap

