Vir Angus oor sy lesse in linguistiek aan my

  • 1

Beste Angus

Jy gaan haal nou die bobbejaan agter die berg en raak nog die pad soontoe nog byster ook.  Jy maak van 'n erdwurmgaatjie 'n mynskag met jou lesse in linguistiek aan my.  Ek waardeer dit maar dis onnodig, jy mors tyd want dit het met die prys van eiers niks te doen nie.

Al wat ek vir jou sê dat dit wel moontlik is om jou taal te meng (ek gebruik maar 'meng' op die gevaar heen dat 'kontamineer' of 'besoedel' jou weer gaan ontstig) en die gebruik van leenwoorde – wat in alle tale voorkom – verteenwoordig, of regverdig, NIE mengeltaal nie.

Vergeet van Gert en Steve en Stavros; ek het dit net ter verduideliking gebruik maar ek sien dit maak jou net deurmekaar, trek jou aandag af van die onderwerp want toe praat jy van Gert wat in SA bly en Engels moet ken en Stavros moet kan kommunikeer om te verkoop en al so aan.  Laat ek maar net weer die algemene geval aan jou noem:  As jy kennis van 'n tweede of derde taal moet hê om 'n persoon te verstaan, dan is daardie persoon besig om sy taal te meng. 

Jy begin jou brief met een of ander omskrywing van grammatika.  Ek het nooit van grammatika gepraat nie behalwe deur kommentaar te lewer op jou stelling dat grammatika " ... die beskrywing [is] van wat gebeur as ’n taal gepraat word, maw dit is slegs beskrywend van aard, nie voorskriftelik nie.  Die enigste taalreëls wat voorskriftelik is, is spelreëls."  Ek het vir jou 'n sinnetjie gegee waarin alles reg gespel maar die grammatika moer toe is om te wys jou stelling hou nie water nie. 

Dalk het ek nie mooi verstaan wat jy bedoel nie maar in jou brief van gister verdiep die raaisel want jy sê grammatika "... is nie die taal nie, dis die organisasie van daardie taal...".  Maak nie sin nie want om 'n taal te kan praat moet jy die woordeskat hê en jy moet die grammatika (naamvalle, verbuigings, sintaks ens) onder die knie kry.  Die grammatika saam met die woordeskat IS dus die taal. 

Jou bespreking oor die naamvalle in Duits is bloot die noem van 'n klomp irrelevante feite, net so beduidend as sou jy noem dat ryp piesangs geel is.  Heeltemal die waarheid, maar ek het nooit die feit betwis dat Duits nie vier naamvalle het, of ryp piesangs nie geel is nie.  Dis 'n rookskerm om 'n eierdans te verdoesel.

Jy vra my wie bepaal of 'n woord uitstaan soos 'n bosluis op 'n bees se ooglid of nie.  Ek hét jou mos gesê, die ou wat aangespreek word en nie verstaan nie.  As die gemiddelde spreker wat by sy volle verstand is woorde gebruik wat die gemiddelde aangespreekte by sy volle verstand nie verstaan nie, dan is die spreker besig om vreemde woorde te gebruik.

Jy sê jou begrip van 'n leenwoord het jy van, en dan noem jy name van wat ek aanneem uitgelese linguiste is.  Dis nuus vir my; laas het jy die HAT aangehaal en 'n heeltemal verkeerde vertolking daaraan geheg.

Jy sê geen taal is vuil nie.  Natuurlik nie, daarom is dit 'n sonde om enige taal te bevuil met vreemde woorde.

Jy vra my of ek dink Engels gaan uitsterf.  Baie onwaarskynlik, daarvoor sal die Engelsman sorg.  Jy sal byvoorbeeld kwalik kry dat 'n Engelsman sal sê "gewoonlik, once I have stelled myself some doelwitte, I'll bereik them."  Nie net sal die Engelsman sorg dat Engels nie verdwyn nie maar ook sy geallieerdes soos Swede, Duitsers en veral Hollanders en Afrikaners want dié is mos Engelsbedonnerd; hulle praat sóóó graag goeie Engels.  Jy sal byvoorbeeld nie een Afrikaanssprekende wat gereeld geradbraakte Afrikaans praat kry dat hy Engels op dieselfde manier verkrag nie, hy sterf eerder tien dode.

Afrikaans, daarenteen, sal uitsterf as ons as Afrikaanssprekendes volhard met ons apatiese houding teenoor ons taal.  Alreeds kan selfs Afrikaanssprekende omroepers en Afrikaanssprekendes in leiersposisies dit nie eers meer ordentlik praat nie; luister maar na RSG. 

Jy slaan die spyker op die kop waar jy sê " ... as ’n taal nie meer bruikbaar is nie, nie meer die nodige woordeskat het nie, dan sterf hy uit..."  Soos ek gesê het, baie Afrikaanssprekers, weens die feit dat hy gelate aanvaar dat Engels in sy keel afgedruk word, het nie meer die woordeskat nie en hy begin Engelse woorde gebruik. 

Jy sit die pot egter mis waar jy byvoeg " ... maak nie saak wat jy trek nie."  Om enige iets te bewaar, vanaf die reënwoud, regdeur die renoster en die blou vlinder tot Afrikaans, moet jy moeite doen, vingertrek.  Niks kom vanself nie, vra maar die Engelsman.

Groetnis

Jan Rap

  • 1

Kommentaar

  • Beste Jan,

    Ek het lankal agtergekom dat ek my tyd mors om aan jou die eenvoudigste linguistiese beginsels te verduidelik, want jy verstaan geen snars daarvan nie, soos blyk uit bostaande brief. Neem as voorbeeld jou ongrammatikale sin. 
     
    Ek het mooi in eenvoudige taal aan jou verduidelik dat wanneer 'n kind 'n taal leer, leer hy woordeskat en hoe die taal grammatikaal funksioneer. Dan kan hy sy eie sinne genereer. 'n Moedertaalspreker  sal nie so 'n ongrammatikale sin genereer nie. Dit kan gebeur dat iemand wat nie Engels goed ken nie, so 'n sin met, volgens jou, "moer toe" grammatika, genereer. Dan kan die grammatika gebruik word om so iemand Engels te leer.
     
    Ten spyte van eenvoudige verduideliking van eenvoudige linguistiese beginsels, kerm jy nog dat wat ek verduidelik, nie water hou nie. 
     
    Al wat jy kan doen is om dit wat ek aan jou verduidelik as onsin, en irrelevant te beskou. Self dra jy niks by tot die gesprek nie, jy kerm net gedurig oor die mengeltaal -- ook 'n bewys van onkunde oor basiese linguistiese beginsels. 
     
    Dankie dat jy my daarop gewys het  dat ek my tyd mors.
     
    Groete,
    Angus
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top