Vir Angus oor die stand van Afrikaans

  • 1

Dagsê Angus

Ons hele bespreking het begin oor my bewering dat Afrikaans agteruitgaan, onder andere besig is om te verengels.  Dikwels, buiten anglisismes, word sommer die Engelse woord net so gebruik en dan praat ek nie sommer van enige Jan Rap en sy maat nie maar hooggeleerde mense.

Ek het op 'n kol vir jou gevra of jy dink Engelse mense praat suiwerder, of beter, Engels as wat Afrikaanssprekendes Afrikaans praat.  Kom ons kyk bietjie na hoe ernstig ons mense oor Afrikaans is:

Nou die dag sê 'n omroeper, voor hy sy program (top 20) afsluit, " ... kom ons hardloop net gou weer die lysie."  'n Ander omroeper praat van 'inlê', 'n hele paar van hulle gebruik 'doen' soos in Engels.  In die sielkundeprogram nou die Dinsdagaand praat die aanbiedster van 'n verandering "wat vir die beter" is.  Op 'n hele paar nuusberigte word na skepe as vroulik verwys deur die nuusleser of verslaggewer.  Verbasend baie gaste op die radio gebruik die dubbele oortreffende trap, soos byvoorbeeld 'mees ongelooflikste'.

'n Programaanbieder, saam met sy gas, praat nou die Sondag heeltyd van 'craft' kan jy glo.  Dit is nou al twee keer wat ek gehoor het die gas op die radio sê sy/hy weet nie wat die Afrikaans is nie en gebruik dan die Engelse term sonder dat die omroepster hom/haar antwoord (reghelp), en dan is dit iets eenvoudigs; die een wat ek spesifiek onthou was 'supply and demand'.

Dr (of is dit nou prof of albei) praat gisteroggend heeltyd van "... wat goeie gedrag determineer'.  'n Gas wat werksaam by 'n kwekery is, asook die omroeper, vertel nou die dag heeltyd dat jy jou eie plante kan 'groei'.  Predikante en pastore slaan kort-kort oor na Engels en in sommige Afrikaanse kerke sing hulle selfs Engelse gesange kan jy glo.  Daar is veral een pastoor wat Sielsgedagte aanbied wat gedurig kwoteer uit die Engelse Bybel.

KykNet is net so erg.  In Bravo! het die aanbieder nou die dag 'n onderhoud met 'n gesin waarvan die dogtertjie een of ander internasionale skoonheidskompetisie gewen het.  Die mense het 'n Afrikaanse van, die pa en ma is ooglopend Afrikaans maar hulle 10- of 11-jarige dogtertjie kan skaars Afrikaans praat, sy sukkel.  Wat 'n verleentheid. 

Programme soos Fiësta, Bravo en Ontbytsake is rillers wat spelling betref; omtrent al die opskrifte bevat spelfoute.  Na die Fiësta-program word 'n lys vertoon wat toekomstige feeste adverteer en dié met korrekte spelling kan op jou een hand getel word.  Gisteraand se Fiësta het gehandel oor een of ander wynfees in die Paarl en een werkneemster, met 'n Afrikaanse van, het haar eerste sin in Afrikaans gesê en toe oorgeslaan Engels toe.  Ek wonder wat soek die taalmonument in die Paarl?  Hulle moet hom Noord-Kaap toe skuif (alhoewel, ek weet ook nie hoe lank gaan hulle nog Afrikaans daar praat nie).  Op die nuusprogram (eNuus) word die week se afkortings as 'Maan', 'Dins', 'Woen' ens aangegee.
Die inbelprogramme soos Werksoek en Iets-vir-iets laat jou hare regop staan.  Daar is mense wat nie eers hulle telefoonnommers in Afrikaans kan gee nie!

Advertensies in tydskrifte, soos byvoorbeeld die Landbouweekblad, wemel van spelfoute.  Die kleinadvertensies oor die algemeen lyk reg maar die half- en volbladadvertensies se spelling is beroerd.  Soos ek al gesê het, ouens kan met gemak differensiaalvergelykings oplos maar kan net nie onder die knie kry wanneer in Afrikaans iets as een woord gespel word nie; hulle spel twee of drie woorde, soos in Engels.

Nou vra ek jou, dink jy onder die Engelssprekers gebeur dieselfde?  Met ander woorde, is daar Engelse predikante wat kort-kort uit die Afrikaanse Bybel aanhaal, of waar hulle in die kerk Afrikaanse gesange sing?  Is daar Engelse wat hulle telefoonnommers in Afrikaans gee?

Nee want Engels is meer hulle erns as wat Afrikaans ons erns is.  Dié wat ek vir jou sê, Afrikaans gaan agteruit, Afrikaans verengels en as ons nie moeite doen nie gaan die taal VERDER verdwyn want dit lyk my op baie plekke, veral die Suid- en Wes-Kaap is hy klaar halfpad dood.

Groetnis

Jan Rap

  • 1

Kommentaar

  • Jan Rap

     

    Die irriterendste woord wat ek gedurig op KykNet hoor, is die "waak" wat hulle saans tydens die weerberig uitreik. Dis tog 'n "waarskuwing". Van wanneer af is "waak" 'n selfstandige naamwoord? Dit klink amper soos die Skotte se "wake" wat hulle vir 'n gestorwene hou. Ons moet regtig waak daarteen om sulke mistastings te laat posvat.

     

    Ek stem heelhartig met jou saam, dat Afrikaners slap geword het en skaamteloos hul taal verkrag. Daar moet beslis fout wees in die onderrig van Afrikaans op skool en natuurlik ook die ouers se slegte voorbeeld wat hulle vir hul kinders stel.

     

    Groete

     

    Perdebytjie  

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top