Vir Angus oor ‘beteuterde taaltjies’

  • 12

Beste Angus

Oor jou opmerking onderaan my brief van 13 Maart 14h46: Jy praat van ' ...beteuterde ou taaltjies wat vir niemand iets werd is nie ...' Dis bietjie onsimpatiek van jou; daar is op die oomblik tientalle tale aan die uitsterf weens verdringing deur veral Engels en Spaans. Daardie tale sou nooit eers bestaan het as hulle nie vir iemand iets beteken het nie, dis tog logies.

'n Taal sterf nie uit omdat hy 'beteuterd' is nie, 'n taal sterf uit omdat sy mense hom nie meer praat nie. Hy sterf ook nie oornag uit nie, hy kwyn omdat die mense hom al hoe minder praat en wanneer hulle hom wel praat, praat hulle hom swak.

Afrikaans, op die oomblik, word al hoe minder en al hoe slegter gepraat en as dinge so aangaan is sy toekoms donker, nie omdat dit ‘n beteuterde taaltjie is nie maar omdat sy sprekers beteuterde wesens is. Ons laat gods water oor gods akker dawer; verval word weggepraat as ‘groei’ en almal leer Engels dat die stof so staan. Dit is al so erg dat die radio en die TV aanneem almal moet Engels magtig wees, saai selfs programme uit wat hoofsaaklik Engels is.

Afrikaans, op die oomblik, toon al daardie tekens van ‘n sterwende taal, ‘n taal wat deur sy sprekers versaak word ten gunste van ‘n oorheersende taal, in ons geval Engels. Afrikaanse kerke sing Engelse liedjies. Pastore, predikante, TV- en radio-omroepers, mense wat veronderstel is om taalrolmodelle te wees (soos reverends, vicars en BBC-omroepers) gebruik gedurig sinsnedes soos “die Engelsman sê dit vir my so mooi ...” of “ ... die Afrikaans het my nou ontgaan...” of “ ... in Engels noem hulle dit ...”. Wat ‘n verleentheid.

Die gewone burger praat al hoe swakker Afrikaans, hoe anders; hy moet dan heeldag en aldag Engels praat om geholpe te raak. By die werk is dit net Engels en in die openbare lewe is dit 99.9% Engels. Jehova-getuies deel net Engelse traktaatjies uit en as jy vir Afrikaanses vra, moet hulle dit eers uit die kar gaan haal, dis nou te sê as hulle hoegenaamd Afrikaanse pamfletjies het.
Die hartseerstorie is dat hierdie toedrag van sake ons eie skuld is; dis nie uit hoofde van ‘n sterk persoonlikheid van die Engelsspreker se kant af nie maar as gevolg van ‘n belangeloosheid aan ons kant, teweeggebring deur ‘n gebrek aan trots in die algemeen en taaltrots spesifiek.

Maar, soos ek alreeds vir jou gesê het, daar is gelukkig nog mense soos Dan Roodt en Steve Hofmeyr. Onder ons ou volkie is daar ook genoeg mense met ruggraat om hierdie huidige verrotting en meelopery teen te werk (anders sou Afrikaans nooit eers gekom het tot waar hy nou is nie). Die eerste stap na genesing is natuurlik om eers die kwaal te identifiseer.

Terloops, as jy dink dat hierdie halfgebakte, geradbraakte taal wat deesdae so vertroetel word ‘gespierd’ is, of ‘n teken van groei is, het jy ‘n powere aanvoeling vir taal.

Groetnis
Jan Rap

  • 12

Kommentaar

  • Jan

    Ek antwoord jou vraag aan my vanuit jou vorige brief liewers hier, aangesien baie van wat jy hierbo genoem het, deel van my antwoord sou uitgemaak het.

    "Sê bietjie vir my, hoekom dink jy Afrikaans gaan uiteindelik uitsterf, gegee sy geskiedenis van oorlewing en ontwikkeling onder enorme vyandige omstandighede?"

    Die Afrikaner van die verlede het te doen gehad met 'n ander tipe druk op sy voortbestaan as die hedendaagse Afrikaner.  Die Afrikaner van die verlede het 'n hewige verset teenoor beide die Engelsman asook die Engelse taal gehad, beide wat hom probeer kniehalter het.  Juis as gevolg van Engelse onderdrukking, is Afrikanernasionalisme gebore, tesame met 'n baie fyner gevoel vir sy eie taal.

    Vandag se Afrikaner het geensins enige direkte kontak met die vorige Engelse heerser nie, tot gevolg dat die bitterheid teenoor die Engelse en hulle taal glad nie meer onderling bestaan nie, behalwe onder die miniskule aantal gekkegrens Arikaners.

    Die deurslagewende oorsaak van die ondergang van baie tale, Afrikaans mettertyd ook, is die tegnologie in Engels wat in Engelsprekende lande, asook  wêreldwyd, heerskappy vier.  Die ontwikkeling van die tegnologie is so snel, met nuwe woorde gedurig amper onmiddellik in gebruik geneem, dat vertaling en aanname van sodanige vertaling deur die volk, net eenvoudig nie meer kan plaasvind nie.

    Die internet, en sosiale media krimp die wêreld, en om met die res van die wereld op 'n persoon tot persoon basis  te kan kommunikeer, moet dit deur 'n gemeenskaplike verstaanbare taal geskied, en Engels leen hom die beste daartoe.  Kyk net na Twitter en Facebook as voorbeelde,  Afrikaners en Swede as voorbeeld praat met mekaar in Engels.  Dieselfde geld enige ander plek in die wereld waar verskillende kulturele individue met ander wil kommunikeer, en om dit te olie, is Engels die aangewese taal.

    Besighede se samestelling ondervind geleidelik 'n gedaanteverwisseling.  Die tradisionele "office block" is besig om geskiedenis te word.  Van die groot koöperatiewe besighede se bestuur is nie meer onder een dak nie.  Die "CEO" kan miskien 'n Japanner in Tokoyo wees; die hoofrekenmeester bv 'n Afrikaner in Johannesburg;  die intenasionale bemarking-en-reklames-bestuurder bv 'n Spanjaard in Madrid, ens.  Hulle kom weinig fisies bymekaar, met groepvergaderings oor die internet gehou.  Engels leen homself natuurlik as  die aangewese taal om dinge glad te laat verloop.  Net soos die selfoon logisties geleidelik sy tentakels uitgebrei het om vandag as vanselfsprekend aanvaar te word, so ook word dieselfde met die ontwikkeling van die "virtual office" ondervind. 

    Die druk op Afrikaans gaan mettertyd so oorweldigend word as gevolg van tegnologie, dat Gilomee wesenlik tereg kon sê dat Afrikaans onder sodanige omstandighede alleen op sterkte van lojaliteit sal kan voortbestaan, maar soos ons reeds weet, dat geld deur middel van inkomste en nering altyd die laaste sê het.  Jou tipiese voorbeeld is die Afrikaner-emigrante wat groener weivelde elders in die wêreld gesoek het ten koste van sy taal.

    Kultureel sal daar onderling altyd 'n besonderse uiting aan gegee word, maar of dit in die kultuurgroep se voorouers se taal sal geskied, is vir die toekoms te betwyfel.

    Mbt tot jou stelling hierbo dat Rooi Daantjie en Steve Hofmeyr 'n ligbaken vir die Afrikaanse taal is, is jy besig om die verkeerde perde op te saal.  Steve se Afrikaans is alles behalwe van die beste, en Rooi Daantjie word by die dag al hoe meer onbekend onder Afrikaners.  Indien jy die Afrikaanse-taalperd wil saal, hoort jy eerder na Solidariteit en Afriforum te kyk wat  prakties daaraan werk  vir die uitbouing van Afrikaans, met hulle tegnikon, en voorgestelde Afrikaanse universiteit, hulle jaarlikse Afrikaanse fees by die Voortrekkermonument, om net 'n paar voorbeelde te noem.  Steve Hofmeyr, indien hy voortgaan met sy huidige onvolwasse politieke optredes, gaan mettertyd sy gat, tot sy eie nadeel sien.  Afrikaners is lankmoedige maar wanneer hulle keelvol raak, is dit verbye sake met sodanige persone.

  • Beste Jan,

    Waarom praat mense nie meer 'n taal nie? Omdat dit nie meer nodig is om die taal te praat nie. Hy word verdring deur ander tale wat beter aanpas by omstandighede, bruikbaarder is. So 'n taal sterf uit. 
     
    Jou standpunt is: Afrikaans word nie meer gepraat nie, daarom sterf dit uit.
     
    My standpunt is: Afrikaans word gepraat; dit pas aan by omstandighede, en daarom sal dit nie uitsterf nie. 
     
    Twee Mormoonse jongmanne stap nou die dag hier voor my huis verby, en klop aan die deur. Ek jaag hulle nie weg nie, maar nooi hulle binne, want ek was lus vir 'n struweling. Hulle praat met my Engels en ek maak of ek nie verstaan nie. Skielik slaan hulle oor na Afrikaans, heelwat geradbraak, maar tog verstaanbaar. Hulle vertel my hulle is van Amerika, en het Afrikaans leer praat in Salt Lake City. Hulle moes Afrikaans leer voordat hulle na Suid-Afrika kon kom vir hulle sendingwerk. Ongelukkig vir hulle het ek net in hulle taal belanggestel, nie in hulle godsdiens nie.
     
    Groete,
    Angus
  • Helmine le Roux

    Jaco,

     
    Lees asseblief weer jou paragraaf vier.  Vandag se Afrikaner kán nie meer kontak hê met die "vorige Ingelse heerser" nie, want dié het gedooi.  Ek dink nie Afrikaans het ontstaan, gegroei en gedy as gevolg van bitterheid nie. Dis 'n heeltemal te ongesonde medium.  Trots, ja en dankbaarheid.  Soos toe die eerste Bybel in Afrikaans verskyn het.
     
    Afrikaans het in 'n relatief kort tydperk ongekende hoogtes bereik.  Ingels word al eeue lank gepraat en geskryf en dis as gevolg van kolonisasie en die feit dat hulle taal op die plaaslike bevolkings afgedwing is dat dit so wyd gepraat word.  Nie eintlik iets om op trots te wees nie.
     
    Jou argumente oor die besigheidswêreld en tegnologie mag miskien water hou, maar dis suiwer materialisties.  En daarom sonder wesentlike inhoud. 'n Mens het met jou eie taal 'n geestelike en kulturele band wat jy nooit met 'n aangeleerde taal sal kan hê nie. Diegene wat dit negeer, doen dit tot hul eie nadeel.

     
    Dis ons eie skuld dat ons taal op die agtergrond geskuif word.  Dis mos te maklik om oor te slaan na Ingels. Ek het al in vergaderings gesit waar Afrikaans gepraat word totdat 'n piepstemmetjie opklink:  "Sorry, I do not understand".  En wat doen ons?  Slaan, uit pure ordentliksheidhalwe, oor na Ingels.  By geleentheid het twee Afrikaners tydens 'n tweetalige vergadering met mekaar Ingels begin praat!  Bid jou dit aan.
     
    Die ergste van alles is die geradbraakte taal wat baie van die jonges praat.  Dis van pure luiheid.  Pynlik vir die oor en 'n beswaarding van die gees om na hulle te luister.  En ag foeitog, mens moet hulle eintlik jammer kry.
     
    Daarteenoor is 'n vriendin wat net mooi die mooiste Afrikaans praat.  Suiwer in woord en uitspraak.  Sy is sewentig en het as agtjarige saam met haar ouers uit Duitsland hier aangekom en praat nog steeds Duits, ewe suiwer.  En ja, sy praat Ingels ook.  'n Voorbeeld vir ons almal.
     
    Vrede vir jou.
     
    Helmine le Roux   
     
  • Beste Jan,

    Jou siening is dus dat Afrikaans besig is om te verdwyn omdat die Afrikaansprekendes maar beteuterde wesens  is. 
  • Dis reg Angus, maar jy moet dit in die regte konteks lees:  Daar is Afrikaanssprekendes wat diep spore trap, manne en vroue wat leidende rolle speel in die wêreld, laat staan nog plaaslik.  Maar van hierdie einste manne en vroue is, wat die handhaaf van Afrikaans betref beteuterd, sommige van hulle praat selfs Engels met hulle kinders.

    Gelukkig Is Ons Nie Almal So Nie en hierdie feit sal Afrikaans se redding wees.

  • Helmien le Roux

    Dankie vir jou respons wat opreg waardeer word.

    Ons, dws jy, Jan en Angus en myself is almal Afrikaners en lief vir Afrikaans.  Ek is 3 tot 11 April by die KKNK soos wat ek elke jaar doen (nieteenstaande dat Steve nie daar gaan wees nie).  Ek is lief, soos ek glo die ander ook, vir die Afrikanerkultuur waarvan Afrikaans 'n hoofdeel uitmaak.

    My sienswyse mbt die taal kan miskien met die ander verskil.  Ek is van mening dat elke geslag sy eie voorkeur het hoe Afrikaans gepraat word.  Die vorige geslag was gesteld op suiwerheid en taalkundige reëls.  Die huidige geslag nie. Kommunikasiekunde, eerder as taalkunde is vandag die aangewese taalwetenskap. Dit is nie enige vorige geslag wat gaan bepaal hoe Afrikaans in die toekoms daar gaan uitsien nie, maar altyd die huidige geslag van enige gegewe oomblik, dus sal die taal van die jongmense altyd vir die oumense aanstootlik en afgryslik voorkom.

    Vir 'n taal om onveranderd te bly, moet dit 'n dooie taal soos Latyn wees.  Afrikaans is 'n lewendige taal, en sal onvermydelik veranderings ondergaan.  Ek sien die voordeel in Afrikaans dat hy 'n groter woordeskat as Engels besit, want hy beskik oor beide die Engelse en Afrikaanse woordeboek, wat Engels nie die voordeel van het nie.  Ontbreek 'n Afrikaanse woord met enige oomblik in geselskap, is daar alyd die Engelse woord om uit te help, en steeds met die gebruik daarvan in die konteks van 'n Afrikaanse sin, sal die Engelsman die Afrikaner se gebruik van die Engelse woord nie verstaan nie.

    Spekulatief, is ek van persoonlike mening dat Afrikaans, soos die geval met vele tale, mettertyd in hierdie land met Engels vervang gaan word. Nie as gevolg van die ANC se aanslag op die taal nie, maar weens die druk van tegnologie, die sosiale media op internet,, emigrasie asook 'n negatiewe bevolkingsaanwas onder Afrikaners.  Alles gelukkig nie in my leeftyd nie.  Wat die daaropvolgende geslagte van die taal gaan maak, bly dit hulle reg tot watter mate hulle die nut daarvan al dan nie vir hulle gaan beskou.  Ek gaan my kop nie daaroor breek nie.  Ek leef in die hede en nie die toekoms nie.

  • Beste Jan,

    Soos ek jou nou verstaan, is Afrikaanssprekendes wat diep spore getrap het, maar wat Engels praat, beteuterde mense? Daaruit lei ek af dat Engelssprekendes wat Afrikaans praat, beteuterde mense is. 
  • Angus, ja en nee. 

    Ja wat taalhandhawing betref maar baie paraat en energiek anderins, anders sou hulle nie diep spore getrap het nie.  Hulle kan dus gesiene mense wees maar ten opsigte van die handhawing van Afrikaans is hulle beteuterd en slapgat. 

    Hopelik verstaan jy as ek jou 'n analoog gee.  Piet Dreyer*  is 6 voet 4, weeg 116 kilogram, is deeglik onderleg in Oosterse vegkuns en was huursoldaat.  Deesdae is hy die persoonlike lyfwag van 'n oorsese rampokker.  Hy ken gevaar en het homself en sy makkers al uit menig 'n moeilike situasie gekry.  Hy is bang vir niks behalwe 'n muis en hy het 'n doodse vrees vir 'n spinnekop.

    So, hy is vreesloos wanneer gekonfronteer deur mense wat hom aspris wil seermaak maar is beteuterd voor die aangesig  van piepklein soogdiertjies en sekere goggatjies.

    Groetnis
    Jan Rap

    *Naam verander om verstaanbare redes.

  • Angus, oukei, dit werk so:  Jy kan 'n yster wees op een gebied en 'n totale pateet op 'n ander gebied.  So daar is fijne Afrikaanssprekendes, trappers van diep spore in sekere opsigte maar, wat taalhandhawing betref, is hulle jammerlike flapdrolle, 'n verleentheid vir hulle eie mense.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top