Beste Angus
Ek behandel jou brief van gister, 26 Augustus, maar weer paragraaf vir paragraaf.
Met jou eerste paragraaf het ek nie 'n probleem nie; die onstaan van taal is 'n heel ander interessante debat waaraan ek graag sal wil deelneem maar, wat betref swak taalgebruik, veral ten opsigte van Afrikaans, het dit niks mee te make nie.
In paragraaf twee sê jy jy verdedig niks maar in paragraaf vyf vergoeilik (oulike woord wat ek by Kobus Faasen geleer het) jy 'n sin met taalvreemde woorde in. As jy dan nie van 'verdedig' hou nie dan sê ons maar 'jy praat daardie sin goed'.
Jy sê ook in paragraaf twee dat jy maar bloot beskryf wat jy sien in Afrikaans aan't gebeur is. Juistement, dis wat ek ook doen; die verskil is net jy noem dit 'evolusie' of 'ontwikkeling' en ek noem dit 'verkragting' en 'agteruitgang' en dit is waaroor ons bespreking gaan; wanneer word taal onsuiwer gepraat.
Volgens jou bestaan daar nie suiwer taal nie omdat 'alle tale deur ander tale beïnvloed word en daar dus nie 'n suiwer taal is nie' so kom ons noem dit maar 'meer suiwer' en 'minder suiwer' Afrikaans. Dr Anthony, Bella en Prof in die sepie praat meer suiwer Afrikaans waar Lerato, daardie outjie met die kuif (wat sy ma sommer op haar naam noem) en Morjis minder suiwer Afrikaans praat. Hierdie voorbeeld behoort jou baie te help.
In paragraafdrie sê jy geradbraakte taal " ... ontstaan as ’n spreker slegs woorde van ’n vreemde taal ken, maar nog nie die taalsisteem nie." Verkeerd; dit sou beteken ek hoef net 'n Russiese woordeboek te koop om geradbraakte Russies te praat en dit werk nie so nie. Geradbraakte taal is die onvermoë om die meer suiwer taal te praat en jy is dus daarop verlaat om die meer onsuiwer weergawe te praat.
Of dit die hoorder of die spreker se taal is wat verkrag is nie ter sprake nie want elkeen kry 'n spreekbeurt. As Morjis en Lerato byvoorbeeld gesels is dit beide die hoorder en die spreker wat die taal verkrag.
Jy sê die sin "usually as ek eers vir my goals geset het achieve ek hulle" kommunikeer goed. Verkeerd, dit kommunikeer glad nie want, as die hoorder nie 'n vreemde taal, naamlik Engels, ken nie sal hy nie verstaan wat die spreker vir hom sê nie. Die sin "gewoonlik, once I have stelled my doelwitte, I'll bereik them" is op dieselfde manier verkragte Engels want g'n Engelsspreker, selfs van die in Suid-Afrika (meeste om die waarheid te sê), gaan dit nie verstaan nie want daar is te veel nie-Engelse woorde in.
Voorts beweer jy die sin "... is nie geradbraakte taal nie, want dit kommunikeer goed, dit is grammatikaal en pas goed in by die Afrikaanse klanksisteem." Verkeerd, behalwe dat dit in elk geval nie kommunikeer nie, is nie alles wat wel kommunikeer taal nie. Oormatige winde byvoorbeeld kan laat blyk, te kenne gee, met ander woorde kommunikeer, dat jy te veel kool geëet het maar dis nie Russies, Engels, Afrikaans of enige taal nie.
Jy sê " ... die hoorder se onvermoë veroorsaak nie geradbraakte taal nie." Natuurlik nie, hy luister maar net. Dis die spreker wat geradbraakte taal praat en as die spreker vreemde woorde ingooi, of dit nou Japannees, Engels of Frans is, gaan die hoorder nie verstaan nie. 'n Waarskuwingskoot, en 'n Rottweiler wat grom, kommunikeer ook goed maar dis nie taal nie. 'n Kwessie van alle perskes groei aan bome maar nie alle bome dra perskes nie.
Hier hap jy nou 'n moerse borrel met jou stelling " ..jy kan nie sê iemand wat in perfekte Japannees met jou praat se taal is geradbraak omdat jý nie Japannees ken nie. Jou argument dat Gert nie Engels ken nie, verval dus." Dit wys jou tot watter absurde gevolgtrekkings jy kom as jy verkeerde aannames maak naamlik dat die HOORDER geradbraakte taal veroorsaak.
As die Japanner met my probeer Afrikaans praat en hy gooi te veel Japannese woorde in gaan ek hom nie verstaan nie want ek ken nie Japannees nie. Vervang nou die Japanner met Steve, vir my met Gert en Japannees met Engels dan het ons: As Steve met Gert praat en hy gooi te veel Engelse woorde in gaan Gert nie verstaan nie want Gert ken nie Engels nie. Beide die Japanner en Steve is dus besig om geradbraakte Afrikaans te praat; net die Japanner meng dit met Japannees en Steve meng dit met Engels.
Eenvoudiger kan ek dit nie stel nie maar ek sal probeer as jy dit nie kan insien nie, so laat weet maar.
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Beste Jan,