Verwarring tussen isiBhulu se “Boer” en ander “Boer”-identiteite

  • 5

Beste Oom Jan (X) Rap

Ek het al vir Jaco Fourie gesê dat u eerliker is as hy, want u spyker u kleure vierkantig vas vir ieder en elk om te gewaar. Die probleem is egter, niemand weet wie “Jan Rap” is nie, u sluit uself dus net so vierkantig uit van enige debat oor identiteit. Anonimiteit byt mens aan die hakskeen wanneer ’n mens dit die minste verwag.

Oor die “Boer” in “isiBhulu”:

  1. Toe Sello Malema gesing het van die “Boer” wat doodgeskiet moet word, het hy bedoel die apartheidsonderdrukker/rassis/persoon wat die meerderheid hul regte ontsê (het).
  2. Toe Cyril Ramaphosa verwys het na die “Boere”, het hy bedoel die apartheidsonderdrukker/rassis/persoon wat die meerderheid hul regte ontsê (het).
  3. Wanneer Umkhonto we Sizwe sing van die “Boere” wat doodgemaak moet word, bedoel hulle die apartheidsonderdrukker/rassis/persoon wat die meerderheid hul regte ontsê (het).

Indien u vrede het daarmee dat Afrikaans bekend staan as “die apartheidsonderdrukker se taal”, het u vrede met “isiBhulu”. Ek herhaal: Aanvaar u die term “isiBhulu”, dan aanvaar u as Afrikaanssprekende die identiteit van ’n apartheidsonderdrukker/rassis. Die meerderheid landsburgers beskou “umBhulu” en “amaBhulu” as synde die apartheidsonderdrukker(s).

U huldig dus ’n uiters miniskuul-skrale minderheidsopvatting, waarvan die liggie nie eens meer aan die ander kant van die tonnel wil flikker nie. Indien u as “Vierkleur-Boer” ’n volkstaat (buite Orania) wil vestig, is dit redelik laat en die kanse skraal om sukses te behaal. Behalwe die meerderheid se “apartheidsonderdrukkers-Boere” en die “Vierkleur-Boere” mag daar nog ander wees, met of sonder plase, maar hulle is nog minder as die AWB en Broederbond saam. Getalsgewys en met verloop van tyd gaan hierdie retrogressiewe vasklou aan nostalgie jammerlik ten gronde. Afrikaans is as taal te progressief om nog aan ’n lunsriem saamgesleep word in geskiedenis se argiefbewaarplek in.   

My bedoeling was nie om al die “Boere” (onder watter identiteit hulle hul ook al sou wou definieer) uit die kaste uit te laat tuimel nie, maar u het laat blyk dat my betoog versus die “Boere” is. Diegene wat hulself dusver as sulks beskryf het, het heel uiteenlopende sienings en baklei en stry ook teen mekaar. ’n Mens moet dus nie alle “Boere” oor dieselfde kam skeer nie, want party is klaar geskeer en ander is in hulself in verdeeld. Dit sal ook interessant wees om te hoor wat dink die “Boerinne” (oor “isiBhulu”).  

Min Afrikaanssprekendes wil egter nog as retrogressiewe, oudedoos-fascis-rassiste bekend staan, nog minder as ’n super-ultra-anonieme Jan Rap wat agter ’n skuilnaam lap-lap-navorsing as wetenskap probeer opdis.

Jacobus Faasen

  • 5

Kommentaar

  • Ek herhaal wat ek van tevore reeds gepos het en klaarblyklik nog nie posgevat het nie.
    Dit gaan nooit in ontplofbare situasies oor die werklike betekenis van woorde nie, maar wel oor die reaksie wat die gebruik van woorde by mense ontlok.

    Sou het die berugte woord 'kaffer' 'n heel ander oorsprong en betekenis. Dit kom naamlik van die Arabies 'käfir' wat die aktiewe vorm is van kafara wat ongelowige beteken. Dus is almal wat nie die spesifieke geloof onderskryf of aanhang nie ongelowiges.

    In Suid-Afrika het die woord sy oorspronklike betekenis verloor en 'n heel ander betekenis gekry wat heel ander reaksies ontlok.

  • Beste Jacobus,
    Jy wat so lekker met die woorde kan speel; ai, ek het gedink jy sal van beter weet!
    Doodskiet is doodskiet, hoe jy ookal daarna wil kyk: of hy nou 'n boer of 'n Boer of 'n apartheidsonderdrukker/rassis/persoon wil skiet, dit bly nog onaanvaarbaar; of is dit aanvaarbaar in jou boekies om sommer die geweer te gryp as iemand jou te na kom?

    En nog 'n ding: "Boer" beteken "witman" by die swartmense, of hy nou die Vierkleur of die Union Jack rondswaai, of hy regte ontsê, en of hy op sy knieë staan en om vergiffenis smeek.

    Groete,
    Angus (almal weet wie ek is) (nie die aartappelboer nie)

  • Beste Angus

     

    Amper volpunte vir jou erkenning dat die "isiBhulu"-term verdelend is. Hierdie pejoratief gee nie erkenning aan die feit dat die meerderheid Afrikaanssprekendes nooit in hul lewe "Boere" was, is of kan wees nie. Al is ek nie deel van die "almal" wat jou ken nie, sien jy tog in dat Afrikaans nie 'n "Boer-taal" is nie. Knap gedaan.

     

    Viva isiAfrikaans! Moedertaal. Afrika-taal. Local is mnca.

     

  • CorneliusHenn

    Boeregroete, Jacobus Faassen, jy tik: "Die meerderheid landsburgers beskou “umBhulu” en “amaBhulu” as synde die apartheidsonderdrukker(s)" ... is dit reg dat sulke breinspoeling en onkunde as gronde vir die leuen daarin gevoer moet word - al glo die meerderheid dit? ... ek respekteer jou Kaaps as Kaaps nes ek die Griekwa se Griekwa en die Namakwa se Namakwa respekteer ... waarom kan jy nie die Boer wat selfs meer deur die Profytmakers in ons land gemoor en onderdruk is respekteer nie? ... gaan lees die geskiedenis van Zimbabwe en Botswana as jy wil weet wie werklik die onderdrukker in Mzansi is ... en eendag as jy dit besef, gaan lees 'n bietjie wêreldgeskiedenis vir nog sekerheid ... nee my vrind - Ingels is die taal van die imperialis, kolonialis en apartheid/segregasie onderdrukker ... ek gee toe dat daar te veel hanskakies is wat Afrikaans praat, maar wie wil jy aanvat - die brak of die baas wat seg "sa"? ... Boeregroete, Cornelius Henn

  • Stryder Cornelius: Gee asseblief vir my en die res van die webwye wêreld jou skakellose uiteensetting van die verskillende groeperings Afrikaans en hoeveel van hulle as die "Boer se Taal" beskryf kan word. Ons kort 'n praktiese model waarop ons argument(e) kan baseer.

     

    Groete ytie Kaap.

     

    Kobus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top