Verduidelikings aan Angus tov mengeltaal

  • 2

Beste Angus

Jou kommentaar onderaan my brief van 9 deser verwys.

P1
Daar is Afrikaanssprekendes, ook Afrikaners, wat beteuterd ten opsigte van taalhandhawing is. Die kanse is nie uitgesluit dat mens ook sulke Engelse, Zoeloes, Duitsers en Armeniërs ten opsigte van húlle tale kry nie. Ook kry mens beteuterdes, van alle nasionaliteite, op allerhande ander terreine en dit, lyk dit my, is wat jy wil weet. Wel, daar is jou raaiskoot so goed as myne en jy kan maar ‘n lysie maak. As jy wil, kan jy hom vir my aanstuur maar jy hoef nie.

Ek wil nie ‘n saak teen Pietie maak nie; ek het mos duidelik gesê dis sy saak as hy slordig wil praat. Ek het net gesê hy kan geradbraakte taal nie regverdig op grond van eienaarskap nie. Ek vra om verskoning as die troeteldier-analoog jou in die war gebring het; ek wou maar net met ‘n gelykenissie vir jou laat verstaan dat vernielsug nie regverdigbaar deur eienaarskap is nie.

P2
Jy praat daarvan dat jy nuwe woorde as groei beskou. Dis ‘n heeltemal ander saak; nuwe woorde sal gedurigdeur bygevoeg word – dink maar net byvoorbeeld aan al die nuwe name wat ons vir die onderdele van die vresens se ruimtetuie sal moet uitdink. Maar wat jy tot dusver as groei beskou het is die vervanging van Afrikaanse woorde met ou Engelse woorde (jy’t mos self al gesê Engels is so ou taal).

Angus, leenwoorde is wat in ‘n taal opgeneem word as daar in die taal geen woorde vir die begrip is nie, soos ‘yacht’ byvoorbeeld wat die Engelse van die Nederlandse ‘jacht’ gekry het. Woorde wat IN PLAAS VAN Afrikaanse woorde gebruik word is nie leenwoorde nie, dis mengwoorde; hulle is nie toevoegings wat die taal verryk nie maar vervangings wat die taal verarm. Sulke mengwoorde is die gevolg van onkunde (die ou, weens soveel blootstelling aan Engels, ken nie sy eie taal so goed nie of dis iemand wat nie Afrikaans kan praat nie – vgl daardie kunsproffie waarmee Martelize en Johann gepraat het Vrydag oor die radio) of dit is slordigheid of dit is moedswilligheid.

Jy sê ek beweer die Nederlanders en die Duitsers is beswaard. Waar kom jy aan hierdie twak? Skep jy ‘n strooipop of laat jou geheue jou in die steek? Jý is die ou wat te kenne gegee het dat, met die totstandkoming van Afrikaans, Nederlandse puriste nie gelukkig daaroor sou wees nie. Ek haal jou aan: “ Destyds, toe Afrikaans vorm aangeneem het, het taalpuriste ook woes geprotesteer teen die verminking van Nederlands en die gebruik van vreemde woorde.”

Ek het jou gelyk gegee ten opsigte van hulle ongelukkigheid, vandaar my gebruik van die woord beswaard maar bygevoeg dat dit nie eintlik oor vreemde woorde gegaan het nie, gaan lees weer. Waar jy daaraan kom dat ek ook gesê het die Duitsers was beswaard weet nugter.

P3

Ek het nie gesê dis jou siening dat mense Engelse woorde invoeg nie, ek het gesê jou siening dat sodanige praktyk nog steeds Afrikaans as Afrikaans beskou kan word belaglik is. Ek weet ook nie waaraan jy daaraan kom dat ek sê Afrikaans sy ontstaan aan taalslordigheid te danke het nie. ‘Slordigheid’ is ‘n moedswillige aksie, die manifestasie van ‘n traak-my-niks-houding en dit is beslis nie hoe Afrikaans ontstaan het nie. Mengeltaal is slordig en word bedryf deur Afrikaanse woorde met (ou) Engelse woorde te vervang wat logieserwys taalverarming meebring.

P4

Nou goed, as ‘piesang’ té lankal ontleen is, daar is nuweres ook soos ‘establishment’ byvoorbeeld. ‘Achieve’ is nie ‘n leenwoord nie; hy word moedswillig, of weens onkunde, gebruik IN DIE PLEK van ‘bereik’ in daardie gruwelsinkonteks en is per definisie nie ‘n leenwoord nie. ‘Achieve’ is ‘n Engelse woord en dus ‘n mengelwoord. Ek sê jou mos, vir daardie soort Afrikaans wat jy nou goedpraat sal vreemdes, wat Afrikaans wil aanleer, ook ‘n kursus in Engels moet loop. Hierdie geld natuurlik vir alle tale; as jy Pools leer gaan jy nie diegene verstaan wat hulle taal met Russies meng nie.

P5

Jy spring nou na ‘n ander onderwerp want wie het gepraat van ‘n taal wat nutteloos raak? Die kwessie was dat jy mengeltaal en groei gelyk gestel het. Die besmetting (deur Engels in die geval van Afrikaans) het jy gesê is groei en dit gebeur met alle tale in die wêreld wat in kontak met ander tale is. Ek sê dit is nie so nie; wat wel met Afrikaans aan die gebeur is, is wat met ander BEDREIGDE tale ook gebeur, tale wat naas groot tale soos Spaans, Frans en Engels ‘n stryd het om te oorleef.

En ‘n taal, per se, word nie ‘nutteloos’ nie; die taal verdwyn as sy sprekers hom verwaarloos en uiteindelik nie meer praat nie. Dit is juis die stryd wat woed ten opsigte van Afrikaans; ‘n groot groep mense begin hom al hoe slegter praat en daar is reeds die uit-huis-uit Afrikaners wat hom glad nie meer KAN praat nie. Soos die lewende organisme (jou analoog) word Afrikaans op die oomblik op sy knieë gedwing deur besmetting.

Groetnis

Jan Rap

NS Al twee of drie briewe gelede wou ek sê: Baie dankie vir jou raad oor die Boslelie (Clivia). Het jy nie ook raad oor die Amarilla (Amarillis?) nie? Ek het die goed uitgeplant (buite) na hulle blomtyd en vir ‘n jaar of drie het hulle goed aangegaan en nou’s hulle weg. Hulle was teen ‘n muur, dus grootliks ryp beskut, en in halfskadu geplant. Kon dit miskien nogtans te koud vir hulle gewees het (Midrand-omgewing)?

  • 2

Kommentaar

  • Verbeteringe
    P3 se eerste sin moet lees: ‘Ek het nie gesê dis jou siening dat mense Engelse woorde invoeg nie, ek het gesê jou siening dat sodanige praktyk nog steeds as Afrikaans beskou kan word belaglik is.’

    Die tweese sin moet lees: ‘Ek weet ook nie waar jy daaraan kom dat ek sê Afrikaans sy ontstaan aan taalslordigheid te danke het nie.’

    Naskrif se voorlaaste sin moet lees: ‘Hulle was teen ‘n muur, dus grootliks rypbeskut, en in halfskadu geplant.’

  • Beste Jan,
    Par. 1
    Dis net ʼn kwessie van logika wat hier ter sprake is. Jou woorde was, en ek haal aan: “Jy’t oorspronklik gepraat van beteuderde taaltjies en ek het gesê daar is nie so iets nie, net beteuterde mense. Dit het jou tot die gevolgtrekking gebring dat ek sê Afrikaners is beteuterde mense wat natuurlik nie waar is nie.”

    Daaruit het ek afgelei dat jy bedoel: net mense is beteuterd, en dat my gevolgtrekking verkeerd is. Afrikaners is nie beteuterde mense nie. (logies, nie waar nie?)

    Toe sê jy sommer so in my gesig ek praat bog, jy het nie so gesê nie, maar hier is die bewys: “Verder beweer jy ek sê “...daar is net beteuterde mense, en hulle is nie Afrikaners nie.” Waar kom jy aan hierdie bog? En jy is die ou wat praat van strooipoppe ... “ (soos aangehaal uit jou skrywe.)

    Pietie se taal is nie geradbraak omdat hy ʼn Engelse woord in Afrikaans gebruik nie. Hy kommunikeer goed as hy sê hy het sy goals bereik. (beter kommunikasie as om te sê hy het sy doelwit bereik.) Geradbraakte taal kommunikeer nie goed nie.

    Par.2
    Natuurlik is vreemde woorde wat in Afrikaans kom, ʼn verryking van die taal; dis groei, wat ʼn lewende taal nodig het, anders sterf hy. Neem nou maar die woord wat jy geskep het, nl. vresens (van vreemde en wesens). Dis ʼn nuutskepping. So word ʼn taal ook verryk deur samestellings en leenwoorde. Jou verouderde begrip van ʼn leenwoord is dat ʼn vreemde woord (bv uit Engels) nie ʼn Afrikaanse ekwivalent moet hê nie, maar waar trek jy die streep, en wie sit altyd reg om die streep te trek? Jy beweer dat ʼn woord slegs uit ʼn vreemde taal toegelaat moet word as leenwoord as daar nie woorde vir daardie begrip is nie. Wie moet hierdie toelating doen? Big Brother? Daar sal altyd woorde wees wat geskik, of amper geskik sal wees. Afrikaans het ʼn ryke Germaanse agtergrond en as daar nie ʼn woord is nie, kan een gemaak word. Fanus Rautenbach het vir scooter die woord bromponie gemaak. Dit verg egter eers dinkwerk, en hakkel en stotter, en daarom is die maklikste uitweg om die Engelse woord te gebruik. (Jy is al so gewoond daaraan om alles wat ek sê as bog af te maak, maar voor jy dit sê, onthou, ek beskryf wat ek in die taal waarneem, nie wat ek graag wil hê vir die taal nie.) Sulke Engelse woorde in Afrikaans is, soos jy sê, die gevolg van onkunde, maar dit kan onmoontlik die taal verarm. Met die vorming van Afrikaans, is Nederlands nie verarm nie, dit het slegs gelei tot ʼn nuwe taal.

    Nou goed, as die Nederlanders en die Duitsers aan weerskante van die Nederlands/Duitse grens nie beswaard is nie, waarom is jy dan so beswaard oor die invloed wat Engels op Afrikaans het?

    Par3.
    Natuurlik het Afrikaans sy ontstaan te danke aan taalslordigheid. Nederlands is al hoe slordiger gepraat. Gaan lees maar oor die geskiedenis van die ontstaan van vroeë Afrikaans hoe die Nederlanders gekla het oor die verminking van hulle taal aan die Kaap.

    Par4.
    Ek sien jy het geen beswaar teen die woord “establishment” as leenwoord nie. Hoe so? Dit vervang dan die mooi Afrikaanse woord “instelling”? As jy konsekwent wil wees, moet jy dit ook as taalverarming beskou. My antwoord is dat, alhoewel establishment en instelling sinonieme is, is daar nie algehele sinonimie nie. Daarom is dit gangbaar as leenwoord. So is daar ook nie algehele sinonimie tussen “goals” en “doelwit”, “actually” en “regtig” of “inderdaad” of “wraggieswaar” nie. Daar is ook nie algehele sinonimie tussen “achieve” en “volbring” of “bereik” nie. Jy moet nie uit die oog verloor nie dat die gesproke en geskrewe taal die algemeenste wyse is waarop mense kommunikeer. Hulle wil nie nog gebodder wees met “praat ek nou korrekte en suiwer Afrikaans?” of “wat is die woord nou weer wat ek moet gebruik?” nie. (Kyk hoe “bother” mooi verafrikaans is met voorvoegsel, uitspraak en al.) Jy sal sekerlik beswaard wees oor my gebruik van “gebodder”, want die korrekte Afrikaans is mos “Hulle wil hulle nie nog bekreun oor.....”

    Par 5
    Dis ek (Angus) wat sê as ʼn taal nie meer gepraat word nie, is hy nutteloos, en dan verdwyn hy. Die enigste taal wat nie meer gepraat word nie, en ook nie nutteloos is nie, is Latyn, omdat die wetenskappe ander gebruike daarvoor gevind het.
    Geen taal voer ʼn stryd om te oorleef nie. Hy lewe of hy sterf uit, dis so eenvoudig soos dit. Dit is maar die taalpatriotte wat namens die taal ʼn stryd voer. Dis juis hierdie taalpatriotte wat ʼn taal doodsmoor, want hulle smoor dit dood deur aan te dring op “suiwerheid”, wat tot gevolg het dat hy sy sêkrag en groei verloor.

    Plantkunde. Hier by ons verdwyn die amarillis om twee redes: molle en te veel water. Daar by jou sal jy ryp moet byvoeg. Moet dit ook nie te diep plant nie, anders vrot die bolle. Ek stel voor jy hou maar by potplante wat amarillis betref, dan hou jy die molle weg, jy kan die water en sonlig reguleer, jy kan hulle lekker vlak plant, en jy kan ook die ryp weghou.

    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top