Soos Walter Mitty of Billy Liar raak ek partykeer aan’t dagdroom. So gebeur dit toe dat ek nou die dag myself as die eienaar van ’n baie groot en uiters suksesvolle platemaatskappy sien. Sangers en sangeresse kom van heinde en ver en met ’n soort van Idolsbedryf staan hulle voor my en sing met die hoop nou dat ek die liedjie goedkeur en ’n plaat maak wat hulle dan kan verkoop.
Die wat lelik sing moet dadelik weg want buite voor die deur staan duisende hulle beurt en afwag, daar’s nie tyd nie. Die vinnigste manier om die afgekeurdes weg te kry is soos brandweermanne by ’n paal afgly maar aangesien die ou heel waarskynlik ’n kitaar of ’n ding by hom sal hê is daar ’n valdeur. Ek druk net ’n knoppie en die sanger of sangeres verdwyn met ’n soort van ’n geut ondertoe en, terwyl hy of sy gly, is die volgende ou al aan die beurt; daar’s nie tyd nie. Die wat suksesvol is kry darem kans om af te stap sodat van my personeel hulle name kan opskryf en so aan.
Nie almal wat mooi sing is natuurlik suksesvol nie want ek het streng kriteria; ek stuur nie sommer enige plaat die wêreld in nie. Hulle móét byvoorbeeld die stemknik gebruik so daar gly al die wat sing ‘as Sack’ in plaas van ‘as ek’ en ‘het Tack’ in plaas van ‘het ek’, die soort van ding. Daar gaan ook die meisie wat sing ‘en Naas Sack my laaste haas se myt plaas’ in plaas van ‘en as ek my laaste asem uitblaas’ (ek het laas Elizma beskuldig maar dis nie sy nie, dis twee ander mense, jammer Elizma) en ook daardie meisie wat sing ‘on zalmal’ in plaas van ‘ons almal.’
Hulle moet ook nie snaaks sing nie soos byvoorbeeld ‘blaai baai maai’ in plaas van ‘bly by my’ en Engelse woorde, en anglisismes, is natuurlik heeltemal uit. Daar gly Jak die oomblik wat hy ‘magic’ of ‘happy’ sê, daar gaan die ou wat van die ‘summer cotton dwess’ sing en Adam Tas as hy praat van ‘lover’ in plaas van ‘beminde’ of ‘minnares’ en daardie ou van die ‘beach house’ en ‘faiwy tale lifestyle’ en ‘baby ah’ve got gnus for you’ en ook almal wat praat van ‘bybie’ of ‘bybe’ in plaas van ‘meisie’ of ’nooi’.
Dis natuurlik nie neusie verby vir daardie sangers en sangeresse nie want almal het sangtalent, mooi stemme en so aan. Hulle val darem op ’n soort van matras so hulle is nie beseer nie en heeltemal in staat om ’n slypskool by te woon waar hulle bietjie reggehelp word en dan kom probeer hulle weer.
Terwyl ek nou die platebesigheid bedryf word ek dan sommer ook Keurder, Aansteller En Monitor Van Omroepers en Omroepsters Van Alle Afrikaanse Radiostasies. Dieselfde keuringsmetode geld as met die sang; hulle staan op ’n valdeur en sodra hulle fout maak verdwyn hulle die geut af matras, en daarna slypskool, toe.
Foutmaak sluit in elokusiefoute soos oorrond en/of oorplat, iets sê soos ‘laaisterôrs’ in plaas van ‘luisteraars’, of ‘aaitgebraaide plôsôktiwitaaite’ in plaas van ‘uitgebreide plaasaktiwiteite’. Ook klem plaas op verkeerde lettergrepe soos byvoorbeeld ‘onderwýs’ in plaas van ‘ónderwys’, úniversiteit in plaas van ‘universitéit’, die soort van ding. Die ‘e’ moenie so dun wees soos party Kapenaars s’n nie (rym met die Engelse fleck) en ook nie so dik soos party Transvalers s’n nie (rym met die Engelse rack). Dit is tussen ‘eck vreck op die pleck’ en ‘ack vrack op die plack’, so iets, julle weet wat ek bedoel.
Grammatikafoute is taboe; jy praat nie van ’n skip, vliegtuig, boot of ’n kar as vroulik nie, dis verkeerd. Jy gebruik nie die oortreffende trap van ’n byvoeglike naamwoord na ‘mees’ nie en jy gebruik nie ‘doen’ as ’n onoorganklike werkwoord nie, die soort van ding. Omroepers en –sters is rolmodelle vir studerendes (kinders en vreemdes) en hulle taalgebruik moet dus so te sê foutloos wees.
’n Algemene riglyn in die radio- en televisiewese is om Afrikaans nie as ondergeskik of ontoereikend voor te stel nie. Dus, vir ’n omroeper/-ster om iets te sê soos ‘ ... ek weet nie wat die Afrikaans hiervoor is nie ... ‘ is ’n doodsonde; so ’n persoon moet nie ’n omroeper wees nie. Ook om vreemde woorde in Engels uit te spreek soos byvoorbeeld ‘mersydies’ vir Mercèdes, ‘hande’ vir Honda, ’nissin’ vir Nissan, ‘iaaudie’ vir Audi, ‘toujouta’ vir Toyota, ‘tjoubie’ vir Chobe ensovoorts. Daar is selfs ’n omroeper wat ’n Afrikaanse van op Engels uitgespreek het; hy’t Ueckerman as ‘joekermin’ uitgespreek kan jy glo en hy werk as ’n Afrikaanse omroeper!
’n Absolute gruwel is Engelse gaste op programme. Die omroeper/-ster moet besef dat daar Afrikaanssprekendes is wie se Engels net so swak as die gas se Afrikaans is so hoekom moet ’n klomp luisteraars nou ly terwille van een gas? En as daar dan nou nie anders kan as om ’n Engelssprekende gas te kry nie moet die omroeper alles vertaal wat die gas sê of, in die geval van ’n televisieprogram, sorg vir Afrikaanse onderskrifte. Omroepers wat hier oortree gaan onmiddellik matras toe ten aanskoue of aanhore van duisende kykers en luisteraars; daar sal ’n valdeur in elke ateljee wees.
Ook moet ’n omroeper se politieke rok nie uithang nie (maak nie saak watter kant van die politieke spektrum hy is nie) en daar gaan ou Kobus Bester en Ian Wessels (paar van die wat tot dusver die matras vrygespring het) ook matras toe, al wie oorbly is lyk my is omtrent net Terrance April (van die vrouens bly darem ’n klompie oor). Terrance gaan baie werk hê terwyl die ander in die slypskool is; hulle sal hom oortyd moet betaal (ek weet nie wie hom gaan betaal nie want die baas is laaankal matras toe).
Nou ja, tot hiertoe dan; laat ek maar terugkom aarde toe.
Jan Rap


Kommentaar
Nou wiet ons hoekom Jan Rap 'n skuilnaam gebruik. Anders was hy nie seker van sy lewe nie. Stel jou voor Jan en Nommer Een word ewe erg gehaat. Jan, jy is growwe sand tussen sekere ouens se tande, maar aan die ander kant moet die obviouse soms onderstreep word! Hoop jou landing is nie te hard nie.
George, ek neem aan jy stem nie saam nie?
Beste Jan Rap,
Ek deel graag die volgende misie met jou:
Jy kan hier kliek om te hoor hoe pragtig dit in die regte lewe klink: http://radiopretoria.co.za/luister/luister-aanlyn/
"Radio Pretoria se eerste goedgekeurde aansoek om ‘n uitsaailisensie het bepaal dat die Radio slegs in Afrikaans mag uitsaai. Sedertdien is die Radio alombekend as ‘n kampvegter vir die handhawing en uitbouing van die Afrikaanse taal. Slegs Standaard-Afrikaans word in die bedryf gebruik."
Boere-Afrikaner groete,
Cornelius Henn
Beste Jan,
Beste Angus
Daar's niks fout met 'n aksent nie; om met 'n aksent, soos die een waarin David Kramer sing, kan mos nou nooit verkeerd wees nie. My gunstelingplate van David is Meisie sonder sokkies en die hartseer Matchbox full of diamonds (of so iets) maar dit net so terloops.
Kenneth McKeller sing met 'n Skotse aksent en Ivan Rebrov met 'n Russiese aksent en dis mooi. Jim Reeves aan die ander kant se aksent is nie so mooi nie.
Affektasies (jy sal vir seker vir my die regte woord kry) soos oorrond en -plat is natuurlik ook nie verkeerd-verkeerd nie maar dis lelik vir my en ek is die platebaas; ek gooi dit uit.
Jou storie van die duisendpoot is soos die een van die ou met die baard toe die ouens vir hom vra of hy met sy baard bo of onder die komberse slaap; hy't hom toe maar uiteindelik afgesny.
Groetnis
Jan Rap
Beste Cornelius
Jou missievoorstelle kan ek nie fout mee sien nie; miskien bietjie gededailleerd want dink jy nie baie van daardie goed sal vanself gebeur as mens maar net trots Afrikaans is nie?
Wat Radio Pretoria betref; ek kan om een of ander rede hom nie hier opvang nie. Nogal jammer, want as hy net in Afrikaans uitsaai beteken dit die stasie se gesindheid is reg. Ek haal my hoed dan af vir Radio Pretoria.
Terloops, is dit nog steeds so? Was daar nie een of ander storie dat dinge verander het daar nie?
Groetnis
Jan Rap
Beste Jan Rap,
Ek luister wel nie 24 uur nie, maar oral waar ek luister klink dit presies nes jy dit sou wou het!
Kliek op die skakel en luister gerus self daarna op die Internet.
Boere-Afrikaner groete,
Cornelius Henn
Beste Jan,
Beste Angus nee man nee, dit het NIE alles met aksent te make nie. Jy kan twee ouens kry uit dieselfde streek (hulle het dus dieselfde aksent) maar die een, as hy sing, las die woorde soos waaroor ek kla en die ander een nie.
Daar is byvoorbeeld Engelssprekendes (veral vanuit die VK) wat 'n 'r' tussen woorde invoeg waar die woord op 'n klinker eindig en die volgende woord met 'n klinker begin (en gewoonlik is daardie die harde 'r', nie die gewone sagte 'r' wat meer na 'n 'w' [waarvoor Afrikaanssprekendes so lief is en dit so oordoen, luister maar na die omroepers op RSG]) ongeag sy aksent, hetsy toff of plat. Terloops, die meeste Engelse ontken dit; hulle hoor dit nie eers nie.
Wat eienaardig is, van die wat die 'r' tussen klinkers invoeg om die stemknik te vermy, bring juis die stemknik in deur 'h's of 't's uit te laat, soos "wha* a lo* of li**le bo**les".
Groetnis
Jan Rap