Trance

  • 0

Ek het al beduie dat 'n lughawe vir my die mees alleen en hartseerste plek op aarde is. Ek het genoeg tyd aan en van diens af op lughawens spandeer om my mening te staaf.

Veral internasionale vertreksale is 'n droewige storie. As jy eenkant staan dan wonder jy dikwels, as jy die twee sien verskillende rigtings inslaan of die koebaai sê die moeite werd was. En dan wonder jy, terwyl jy so staan en mense bewaak of hulle mekaar ooit weer gaan sien. Maar die lewe het sy draaie wat hy loop en tyd is mos maar 'n geduldige ding wat niemand ontsien nie.

So sien ek net eergister hier op my plaaslike lughawe in Oesterland die meisie met die spierwit bene en pikswart stinkvoet tekkies besig op haar laptop. Ek sien sy glimlag bly toe die man met die Rasta haardos aangestap kom en ek wonder toe waarheen hulle op pad heen is. Ek het nie nodig om te wonder hoekom sy moes wag nie want ek sien hy het sy groen twak eers loop klaar rook en hy sit aan by die tafeltjie en ek sien hy trek die bordjie stywe, ontwerperstjips nader. Jy weet, daai soort tjips wat smaakloos is maar wat jy moet dokter met 1000 speserye en nog souse en die mense vertel vir my die goed vat ses dae om te verteer as jou gestel goed is.

Sy speel vir hom 'n song dalk net die middag afgelaai en ek kannie uitmaak wat dit is nie. Tussen die verveelde stem met die lelikste engelse aksent denkbaar se afkondigings en ding dong en taxi staners deur probeer ek sin maak wat sy vir hom beduie en ek sien hom net kop knik, diep instemmend. Ek se nie hy was hoog van die twak nie want ek vermoed die twak is reeds uitgewerk. Ek sê hy was hoog want ek het gehoor sy speel een of ander trance stukkie meesterstuk.

Ek groet die jong Ozzie en ons pik 'n traan want dis 'n lang tyd se vlieg ver weg van die land van melk en heuning en ek sien die twee staan swaar op. Die tjips half geëet en die Heinz ketchup lê die helfte van die bord vol. Ongeëet. Die ys maak die coke so laf en verdun en ek sien ek sou dit self nooit kon drink so in sy skoon vorm en sonder ten minste 'n vodka of dalk 'n Red Heart om die smaak weg te vat nie.

Sy talm nog en ek sien sy wil nog iets speel en toe weet ek sy gaan nie saam nie. Sy bly agter. Hy gaan vlieg. Wetie waarnatoe nie. Sy beduie sy't nog iets op die hart (of so het dit gelyk) en ek hoor die Trance musiek steeds in my ore.

Later, toe die vliegtuig se deure lankal toe is en die piloot sit en wag vir die kleine Cessna om tog net die lugruim oop te maak kry ek haar by die betaalpunt waar jy jou boetedoening moet betaal vir die voorreg om op ACSA se gronde te kon staan en ek sien haar oë is rooigehuil. Sy kyk vir my en ek kyk weg want ek hou nie van koebaai sê nie en ek hou nie daarvan om koebaaisê te beskou nie. Sy sukkel met die masjien want mens se oë is mos maar altoos vaag as daar te veel vloeistof in die pad is. Ek beduie vir haar dat ek die kaartjie sal re?l want ek ken mos maar die mense hier want ek stuur elke dag my goete hier weg.

Daar is werklik bitter min plekke so eensaam en alleen soos 'n lughawe.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top