As jy vir ses ure in my geliefde Blou Dam spandeer het en die sakke vol swaar skulpgoete die duine en kranse by Snuifklip moes uitsukkel is jy nie lus vir sports nie. Jy is eintlik lus vir niks buiten 'n pienk melkie of iets wat jou dorre keel en see-seer mond kan lawe nie. Want om vir ure die Blou Dam se seewater in jou bek te proe laat jou altyd met 'n nasmaak wat vir dae hou. Die duikpak skawe jou lieste en die salpeter slaan in die hitte van die klowe later wit hale oral uit. Uittrek kan jy nie want niemand duik met onnerklere aan nie en dan is daar nog altyd die ongenadige Afrika son wat nie kant kies nie want as hy jou alleen kry gaan jy weet daarvan.
Moeg geduik en nog moeër gedra en gatvol en dors en honger vat jy die pad terug huis toe. Stadig, want die wiele is slap want die Blou Dam het, soos Sy soms doen, mildelik gegee vir die mens wat altoos ondankbaar staan en kyk na die branders en lelike kasarms bou op Haar duine. Kasarms wat nie daar hoort nie want dit is mos altyd Toskaans of Romeins of Kaaps Hollands of een of ander styl wat in wese 'n gruwel is op hierdie Heilige grond.
So vat ons maar die pad terug en jy sit en teug al aan die Guinness of enige Stout of sommer net iets nat. Die manne lê want net harde manne kan daardie sandduine en kranse uit. Daarom dalk dat die seelewe nog so ongerep en beeldskoon is soos dit honderde jare terug was. Selfs die visse issie bang nie want hulle weet tog dat die man wat hier kom nie gaan kom om uit te roei nie. Hulle weet instinktief dat jy net bietjie kom haal om te sorg vir kos op die tafel vanaand. Nie meer nie want dit sal mos mors wees? Die kleiner gevindes skarrel wel weg vir die odd Groot Witte want hulle weet tog uit lang oorlewering dat die Groot Witte nie kom om te kom window shop nie. Hy kom om te eet.
Ons kruie stadig slapband aan terug huis toe en die jonge man wat moet bestuur beduie na vorentoe: Daar staan sy. Hy klop teen die bakkie se agtervenster en die manne wat moeg gedra is lê eens regop en ek sien hulle kyk want blykbaar ken hulle ook die dametjie met die geleerde swart sykouse wat staan en duimgooi. Dame met ’n kort rokkie wat kort duskant Mossgas staan en duimgooi? Moenie my kom twak beduie nie. Die manne roer en staan in hul moegheid op en met die verbygaanslag sien ek dat sy nie sommer net nog 'n dame issie. En ek kan sien waarom daardie sykouse lankal nie meer net sykouse issie want hulle word tien teen een tien keer per dag uit en aan getrek.
Die manne roer en raas en sy gooi vir hulle 'n klassieke middelvinger.
Ek vra vir die jong man of ek nou reg gesien het en hy lag by die venster uit en toe weet ek ek het nie verkeerd gekyk nie. Want net nou die dag het einste geleerde pantihose voor my gestaan growwe baard en al en gevra vir R5 Vodacom airtime.
Ek vra vir die jonge man, synde hy uit die aard van sy polieswerk die pantihose dude ken en hy sê ja.
"Sy bly in Albertinia. Dit gaan maar swaar daarso. Daar’s baie monde. Sy ry maar heen en weer met die trokke. Ek bedoel hy."
oester


Kommentaar
Ja dit gaan sleg in 'n land as die hoere al begin vas uitgaan.