Straatbewoners

  • 4

Ek kan nie my medelye genoeg met straatbewoners uitspreek nie. Ek lees Hennie Frits se brief en is baie dankbaar vir die situasie waarin ek myself bevind. Ek kry die kinders en ou mense jammer, ek kry self 'n brak jammer wat in die strate ronddwaal op soek na kos.

Hier in ons geweste is daar vier menere, lekker bruingebrand wat op die een straathoek kantoor opgeslaan het. Afgesien van hul hare wat vuilerig en die klere wat vuiler is, is daar fisies niks met die manne verkeerd nie. Die een ou is 'n gekwalifiseerde elektrisiën. Ek weet nie wat die ander manne gedoen het nie, maar uit die trant van ons tyd tot tyd kortstondige gesprekke is nie een van hulle onopleibaar nie.

Niemand weet wat hulle genoop het om die rigting in te slaan nie. Niemand weet wat hul omstandighede is nie. Wat my egter erg die moer in maak is die manne wat daar staan met talente/gawes wat nie gebruik word nie. Die ouens weet hulle vra nie meer geld by my nie. Ek weier volstrek, want ek het die een (elektrisiën) eendag vasgetrap oordat hy nie werk nie. Hy het flou verskonings gehad van moeilike ekonomiese tye en ander swak ekskuse. Die oorgrote meerderheid vat fles. Ek het familielede gehad wat ook erg fles gevat het. Hulle was volslae alkoholiste, maar funksionele alkoholiste.

Ek glo die lewe bestaan uit keuses. Jy besluit wat jy met jou lewe wil aanvang. Die grootste oorsaak is of jy 'n wil het om te oorleef, 'n bestaan te maak of wil uitstyg. Harde eerlike werk en die regte gesindheid kan jou maak of afwesigheid daaraan kan jou breek. Ek was ook al werkloos, totdat die besef eendag by my deurgeslaan het, niemand gaan my bejammer en vir my sorg nie. Ek moet my gesindheid verander en van my stert af opstaan. Of ek verval in die dieptes van depressie en gee my oor aan die fles of lig my stert. Die geykte verskonings van regstellende aksie en gepaardgaande aksies, werk nie meer by my nie. As jy wil werk, soek jy werk, of jy skep jou eie werk. Ek het 'n redelike senior pos in die vorige staatsbestel beklee, totdat ek daar verwilder is. Ek het "neergesien" op sekere beroepe en het toevallig dit gaan doen vir ongeveer twee jaar. Ek het intussen aanbeweeg en werk nou vir myself. Nog steeds 'n "minderwaardige" beroep in die sin dat ek nie meer 'n statuspos beklee nie, maar my menswaardigheid het herstel. Ek dink nie meer aan verskonings nie. Ek het ook in die tyd geleer wie my ware vriende en goeie familie is.

Nou die dag vra ek 'n kennis, hoe dit gaan met die ophou-rook-aksie. Dit is nie so maklik nie antwoord hy. My reaksie was dit is maklik. Jy het besluit om te begin rook, jy kan net so wel besluit om op te hou ook. Die eerste stap is. Hou op koop.

Waar daar 'n wil is, is daar 'n weg.

Reusedwerg

  • 4

Kommentaar

  • CorneliusHenn

    Dankie Reusedwerg; die enigste waarde uit ons verlede is die lesse wat ons daaruit kan leer ... 'n mens besef nie werklik die waarde daarvan in die oomblik totdat dit 'n herinnering geword het nie ... goeie raad nog altyd is om 'n werk te kry wat nie soos werk te voel nie - vriende wat deur jou donkerste by jou staan - en 'n gade wat die wêreld in jou sien ... ek's nederig dankbaar vir die genade wat so onverdiend ook in my skoot val ... 'n mens het wel nie beheer oor die pad wat jy geloop het nie (dis verby en agter jou), maar dis presies nes jy seg Reusedwerg; jy't altyd wel die keuse waarheen jy wil ... 'n mens in desperaatheid mag nooit hul inspirasie uit die oog verloor nie ... die HERE versorg en kyk na ALTYD na ELKEEN van ons!

  • Dit is so waar gesê, en ek hoop eintlik al die mense kan hier lees. Ons mense wat so maklik gee om jou eie gemoed en gewete te sus, want 90% van die bedelaars koop nie kos nie maar ‘n fles of pille, sigarette, gom, dobbel of so iets. Mense asseblief stuur hulle na die omgewing se kerke of ander hulpsentras vir hulle kos en nodighede, daar sal hulle dalk ook ‘n werk kan kry. Ek dink aan Radio Pretoria kantore in Queenswood, Die AGS se hulpsentra in Maywille Pretoria, en so het alle ander dorpe ook sulke plekke. Die probleem is hoe meer ons gee hoe meer word die hande, want hulle kry regtig baie geld dalk meer as wat ‘n goeie salaris/loon sou wees. Ek het ook al sulke ouens werk wou gee maar hy daag nie die volgende more by die afgespreekte oplaai plek op nie en van die ander het my goed besteel toe ek hom wel op my plot werk gegee het en nooit weer gesien nie. Dis uit met my, selfs die sogenaamde karwagte kry zero by my. Die ander dag maak ek my asbakkie leeg van kopergeld die ding gooi dit toe sommer weer terug op die bakkie, dit was laaste.

  • Hallo Reusedwerg - jou skuilnaam vertel 'n beskeie verhaal. Ter aanvulling, deel ek ook graag iets oor die onderwerp:

    Dit is nou-al maande wat dieselfde mense by dieselfde padkruising elke dag volgens 'n oënskynlike skofrooster by die motors 'n geldjie vra. Ek noem dit vra, want bedel klink so vernederend, veral as dit mense van my kleur van die reënboognasie is. Aanvanklik het dit my soggens hartsag van jammer gemaak, wanneer ek in my voertuig sit en die vermaerde verwaarloosde man met sy bordjie “Gesin in nood – Help asb. God seën” daar aan die onderkant van die verkeerstrein langs die verkeerslig sien staan. Hy staan net daar. Doodstil sonder om oogkontak met die motoriste langs hom te maak. Die koerantman en die grysproduk verkopers hop soos sprinkane by hom verby.

    Dan flits daar gedagtes deur my gemoed wat wonder waar is die man se mense; het hy nie ouers wat kan help nie; is daar nie dalk kinders nie; wat as ek daar moet staan? So met die sit, dink ek aan die ydele sisteem waarvolgens ek op my manier mense soos hy help: ek gee vir een persoon op 'n dag 'n ietsie, synde 'n geldjie of iets te eet. Vir die ander wat na daardie een kom vra, sal ek altyd sê “ek het reeds iemand vandag gehelp – miskien is jy môre eerste”. Dan met die gedagte vars, besluit ek die teken dat ek vir hom 'n geldjie moet gee, sal wees indien ek vorder tot regvoor in die verkeerstrein en dan langs hom by die verkeerslig vir die groenlig wag.
    Party oggende het dit gebeur en het ek die stil man met die bord 'n geldjie gegee. Meeste ander oggende nie. Bedags ry ek dan-en-wan by hierdie kruising verby en mettertyd raak ek bewus van die wisseling van skofte en kruisings wat hierdie man en sy ander vraersmaters uitgewerk het. In die straat waar hy aan die bo-punt daarvan by 'n kruising “werk” is daar laer-af nog twee kruisings; seker so 200m uitmekaar. Daar sal twee of meer van sy maters “diens” doen. Gedurende die dag sal hulle plekke ruil en as't ware 'n skofwisseling toepas. Met hierdie besef, besluit ek dat dit absolute snert is – dit kan mos nie so werk nie en my jammer en gepaardgaande gemoedsentimente droog sommer weg.

    Vanoggend is hy nie daar nie. My oë soek na daar oorkant onder 'n groot palmboom langs die kruising waar hy en van sy kollegas smiddae aan weggooistompies sit en teug. Niks. Net die klompie buitelanders wat met nagemaakte goeters uit die ooste die motoriste probeer inloop, hop hier rond. En skielik is ek meer as alleen in die voertuig - ek voel skuldig. Sommer oor alles. Oor my vooropgestelde idee van “gee”. Al ons Here se hulp en genade wat Hy gee, stuur en aflewer. Al Sy seëninge teen daardie een of twee frustrasies wat geen ewigheidsimpak of -waarde het nie, maar wat mens se gemoed beswaar.

    Die meeste mense vra tog iets êrens. En, die meeste mense ontvang tog êrens iets. Niemand is daarvan vrygestel nie. Nie eers ou Sol nie. Wat maak dit saak as die mense van verkeersligte en padkruisings wissel? Maak dit hom minder behoeftig, of maak dit my meer veroordelend omdat hy durf waag om 'n strategie vir oorlewing te hê. Iemand sê die anderdag, “hulle bly bedel, want dit is lonend”. Toe wonder ek: sal jy hierdie lonende beroep wil betree?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top