Stories uit die bos: Sneeuvlokkie

  • 1

Elke keer wanneer ek na Sneeuvlokkie se foto’s loer, roer dit my siel. Hierdie foto’s is geneem in die Krugerwildtuin gedurende Junie 2014. Daarom behoort Sneeuvlokkie se voetspoortjies vandag nog vars in die warm sand van die Sabierivier te lê, want dis waar hy rondskarrel.

Sneeuvlokkie is anders as die res van sy trop. ‘n Sku skim in die bos. Omrede hy gevaar vir ander inhou het van sy familielede hom verwerp. Hulle speel en klets nie graag met hom nie en hy weer verkies die skadu’s aan die donker kant van die bos. Want die son is sy grootste vyand.

Terwyl my vinger saggies oor die foto’s gly, kan ek vir ‘n oomblik sy afsondering voel ...

‘n Waarskuwing-sketter laat Sneeuvlokkie vervaard opruk. Dis sy ma (regs). Hoog vanuit ‘n lower vyeboom deurpriem haar oë die aarde rondom hulle. Haar liggaamstaal is duidelik gespanne, want die sluimerende krokodil op die rivier se sandbank het sy skurwe stert geswiep. Tande glimmend in die son. Ek besef net weereens dat hierdie plek is ‘n ander speelveld en nie vir sissies bedoel nie.

Sneeuvlokkie se ma bly onrustig. Want die sneeuwit pels van die kind is ‘n maklike teiken vir roofvyande. Hy dra nie dieselfde bontgestreepte geel-grys getinte hare met swart gesig soos die res van die trop nie, en as sy nie hier in die vrye natuur mooi na hom gaan kyk nie sal sy lewe kort wees. Die res van sy familie bied ook nie beskerming nie, want hulle skrik alreeds ‘n aap vir die spook en laat spaander eerder.

Onder die boom krap Sneeuvlokkie senuagtig tussen die droë stokkies en blare rond op soek na eetgoed. Die klippe en stompe moet ook stadig en uiters versigtig omgerol word, want ‘n slang kan groot konsternasie veroorsaak. Daar’s lekker eetgoed in die veld: sade, bessies, blomme en skerp wilde fluweelboontjies. Spinnekoppe, maaiers en ruspes is ook ‘n lekkerny. Soos die hitte salig raak stu die reuk van vrot vy en olifantmis vanaf die grond op en is dit net die rustige kliek-kliek van die kamera wat die stiltes verbreek. So word al Sneeuvlokkie se manewales vasgeprent.

Skielik voel dit of Sneeuvlokkie binne in die lens inklim. Ons oë ontmoet en my gemoed word nederig. Verrassend is die spierwit wolsagte perfeksie van sy lyfie met die netjiese reguit hare-gordyn wat oor die wakker ogies hang. Dit lyk sowaar of hy nou-net gestort het! Ek word hartseerom die pigmentlose pienk van die oë – wat onontbeerlik is vir beskerming teen sonstrale is – te aanskou. Kenmerkend ook die bloed in die vate van die iris wat ontbloot is en sigbaar vertoon. Alles so kwesbaar: ‘n duidelike teken van albinisme.

Sneeuvlokkie tuur egter om ‘n ander rede terug na ons. Want ‘n nuuskierige kamera mag ‘n nuutgevonde soetigheid beteken. Al is dit verbode. Van bo koggel sy ma weer skerp: bly weg! Hy knip oë, ontsnap vanuit die lens en skrop rustig voort terwyl hy sy rugkant aan ons toon dat hy alleen gelaat wil word.

Die kamera word swaar. Sou Sneeuvlokkie se ma weet dat hy anders is? Spesiaal? As ma weet ek hoe dit voel om ‘n besonderse kind groot te maak. Jy wil hulle altyd oorbeskerm. Teen jou hart bly vasklou, hopende dat jy hul só sal bewaar van die koue werklikhede buite waar die spotters en afjakkers in woon.

Skielik trompet dit deur die bosveld. Voëls spat vanuit hoë bome en skiet die blou lug binne. Dis die Grootvoete! Asof outomaties swaai die lens na links. Een vir een bars hul deur die oorkantste soom van die lower en kom slurp-swaaiend oor die warm sand aangehuppel. Grootvoete kan baie saggies op hul stewels beweeg en jy kan maklik in die ruigtes op een van hulle afkom nog voor jy dit besef.

Adrenalien bruis deur my are. Dis die lewe – dis die Kruger! Die hitte het ‘n groot dors opgelewer. Koel silwer strepe stroom tussen geharde ivoortande deur terwyl spelerige slange water oor alles heen spat-spuit. Op so ‘n warm dag kan olifante tot ure lank in die modder en water rondwoel.

My oë swaai terug. Dis te laat – die skim is weg. Sneeuvlokkie mag dalk nie weer gesien word nie. ‘n Albino-apie is een van die natuur se nare grille. Swak oë en velkanker volg onvermydelik, maar bo dit alles bly ‘verwerping’ vanaf ander familielede die mees traumatiese. Dit word ondervind by mens en dier.

Al wat oorbly, is die nostalgiese herinneringe wat om foto’s kleef. Aan ‘n uitsonderlike gebeurtenis wat ek dalk nooit weer in my lewe sal ondervind nie. Sneeuvlokkie sal egter nie maklik vergeet word nie.

Die son begin sak terwyl die aurora ‘n bloedskildery verf ...

Tyd om terug te keer na die veiligheid van die kamp terwyl geheimsinnige silhoeëtte in die bome begin rondritsel. Liplekkende katbeelde wat die wêreld intens om hul betrag. Gelukkig is Sneeuvlokkie nog klein genoeg om onder sy ma se armholtes in te kruip. Te voel hoe haar warm lyf met die sneeu van syne probeer wegkruipertjie speel.

Dit mag help. Vir nou. Om die oog van die luiperd te flous.

Trienie Mahne
(Foto’s geneem deur D Dreyer: Canon 600D - 150-500mmSigma)

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top