Beste Angus
Jy skep die verkeerde indruk as jy sê dat ek "... uit volle bors konstateer dat [jy] nie weet wat ontlening is nie ..." , so al asof ek dit uit die lug gryp. Jy het 'n HAT-definisie van die woord 'ontlening' gegee en toe die stelling gemaak dat "enige woord dus uit enige taal gebruik kan word" en dit dan 'n leenwoord is. Die feit dat jou stelling niks met die HAT-definisie te doen het nie, het vir my bevestig dat jy nie mooi weet wat 'ontlening' is nie.
Ek mag verkeerd wees, met ander woorde daar mag iets wees wat ek nie gesnap het nie en dat jou stelling ten opsigte van leenwoorde wel volg uit die HAT-definisie van ontlening en jy is dan welkom om my daarop te wys, ek sal dan askies vra. By ontstentenis van sodanige verduideliking hou ek egter voet by stuk; jy weet nie mooi wat 'n leenwoord is nie. Ek wou nog altyd die woord 'ontstentenis' gebruik het en ek hoop ek het hom reg gebruik. Indien nie sal ek bly wees as iemand my kan reghelp. Ek dink ek moet daardie woord borg; die HAT het mos nou so borgstorie aan die gang.
Ewentwil, laat ek weer vir jou verduidelik: 'n Leenwoord sal ingeburger wees in die taal en nie uitstaan soos 'n bosluis op 'n bees...ooglid nie. Hy sal ook nie 'n bestaande woord vervang nie; hy sal, oor die algemeen, 'n begrip aandui waarvoor daar nie 'n woord in die taal is waarin hy opgeneem is nie.
'n Vreemde woord is een wat die taal besoedel; hy's nie ingeburger in die taal nie en die aangespreekte sal hom slegs verstaan as hy kennis van 'n ander taal het. So 'n woord, of sulke woorde, vervang bestaande woorde in 'n taal, hulle vul nie 'n leemte soos 'n leenwoord nie en besoedel die taal dus. Ek gee ek weer vir jou dieselfde voorbeeld:
Gewoonlik, once I have stelled myself 'n doelwit, I will bereik it. Of, as jy dan nou wil, die Afrikaansspreker wat sê, usually, as ek eers vir my goals geset het, sal ek hulle achieve.
Dis nie kwantummeganika nie, dis mos maklik, of hoe? Die twee sinne hierbo is onderskeidelik vieslike Engels en vieslike Afrikaans en nie een van die sinne het leenwoorde in nie; hulle het vreemde woorde in.
Dit is die hele kwessie maar kom ek kyk na die res van jou brief laat jy my nou ne van 'n wegskrammery beskuldig nie.
Jy sê " ... Grammatika is die beskrywing van wat gebeur as ’n taal gepraat word, maw dit is slegs beskrywend van aard, nie voorskriftelik nie. Die enigste taalreëls wat voorskriftelik is, is spelreëls." Klink nie vir my reg nie. Grammatika, met ander woorde uitgange, verbuigings, naamvalle ens, saam met die woorde en sintaks, IS die taal. Dink jy dis reg as iemand, sê maar in Engels, sê "I are much hungry"? Die spelling is reg maar die grammatika is verkeerd so jy reken dis in die haak? Ek twyfel sterk; ek dink jy moet bietjie weer oor hierdie stelling van jou dink.
Met die Gert-Steve allegorie probeer ek vir jou wys wat die verskil tussen leenwoorde en taalvreemde woorde is. Die feit dat jy daarvan 'n spesifieke geval wil maak, naamlik dat Gert in SA bly en dus Engels MOET ken regverdig nie jou wanbegrip van wat leenwoorde is nie. As dit jou deurmekaar maak, kom ek gee vir jou 'n ander voorbeeld: As Stavros van die kafee op die hoek met Gert praat en hy gooi links en regs Griekse woorde in gaan Gert hom nie verstaan nie omdat Gert nie Grieks kan praat nie.
Jy sê Afrikaans " ... al nie uitsterf as gevolg van ontlening, of besoedeling, of kontaminasie of wat ook al nie." Jy het gelyk wat ontlening betref want, soos Engels en seker al die ander tale van die wêreld, is daar baie woorde in Afrikaans wat ontleen is aan ander tale. Wat besoedeling egter betref, sal hy uitsterf as ons nie vingertrek nie; dit is trouens reeds besig om te gebeur. Jaarliks sterf daar tale uit as gevolg van besoedeling; hulle is naderhand so besoedel die mense begin maar die besoedelende taal praat.
Groetnis
Jan Rap

