Spoeg-en-plak? Dis niks nuuts nie!

  • 0

Om die waarheid te sê, dis so oud soos die berge, of ten minste, so oud soos lewe op aarde, en die eerste wat dit uitgevind het was sowaar ’n vroumens.

Voor ek met my storie begin, moet ek darem eers sê dat spoeg-en-plak ’n heel oorspronklike nuutskepping in Afrikaans is, maar nie die hele waarheid vertel nie.

Die geskiedenis is vol name van persone wie se werk as geniaal beskryf kon word: Pasteur, Curie, Newton, Einstein, Darwin, Mendel is ’n klompie waaraan ek nou kan dink. Onder twintigste eeuse wetenskaplikes moet ongetwyfeld ook die naam van Barbara McClintock genoem word. Ongelukkig vir haar was sy ’n vrou, en wie se bydraes tot die wetenskap deur baie as nie belangrik beskou is nie. In 1950 publiseer sy die resultate van verskeie eksperimente, maar dit is as te revolusionêr beskou en as sodanig afgemaak.

Barbara het met mielies geëksperimenteer. Mielies? Wat is nou so belangrik aan mielies? C L Leipoldt het lank terug al vir ’n klomp vrouens van mielieboere gesê dat daar absoluut geen voedingwaarde in ’n mielie is nie. Hoe kan ’n mielie nou enigiets te make het met menslike evolusie? Dit het wetenskaplikes dertig jaar geneem om uit te vind dat Barbara reg is: mielies het baie te doen met die evolusie van die mens. Sy is in 1983 met die Nobelprys vereer  vir haar werk, want nou het daar nuwe lig opgegaan wat die genetika, evolusie, siektes en veral kanker by die mens, betref.  

Sy was veral geïnteresseerd in die kolletjies op mielies wat nie ’n patroon volgens oorerwing gevolg het nie. Na jarelange navorsing en eksperimentering, het sy tot die gevolgtrekking gekom dat klein deeltjies van die DNA van een plek na ’n ander binne die genoom beweeg. Hulle het die vermoë om hulleself te transposisioneer en so is hulle dan transposons genoem. Soms is hulle sommer ‘jumping genes” genoem.

Hierdie Transposons kan soms die funksie van gene deurmekaarkrap, want gene is DNA-segmente wat verantwoordelik is vir die oorerflikheid van ’n organisme. Mutasies veroorsaak variasie in oorerflike trekke omdat een basispaar (bv C-G) ’n ander basispaar binne ’n sekwensie (bv T-A) vervang, of dat ’n basispaar sommer in die sekwensie indruk, of dat ’n basispaar sommer weggelaat word. As ’n mutasies eers gevestig is, word dit oor en oor gekopieer en gaan dit van een geslag tot ’n ander.

Barbara het ontdek dat as ’n transposon inglip in ’n geen, dan veroorsaak dit ’n mutasie wat die geen se funksie elimineer. Glip die transposon weer uit, dan hervat die geen sy funksie. Die transposon verdwyn dan nie sommer nie, nee, dit glip in ’n ander geen om weer die funksie daarvan te belemmer met ’n nuwe mutasie.

Wetenskaplikes het tot nou toe nog aanvaar dat mutasies, as dit eers posgevat het, stabiel is en op een plek bly, waar dit dan repliseer van een geslag tot ’n ander. Mutasies doen dit wel, maar Barbara se werk wys daarop dat ’n nuwe soort mutasie kan plaasvind wat onstabiliteit veroorsaak.

Transposons is omtrent 2.8 persent van die menslike genoom en hulle het die vermoë om te verdwyn uit een geen om dan later weer in ’n ander geen te verskyn; baie soos die “cut-and-paste”-funksie van die rekenaar.  Die ongeveer 300 duisend transposons in ons liggame het egter al so baie getransposisioneer, dat hulle hul vermoë om te beweeg, verloor het. Baie mutasies se werking is so afgeskakel. Dit is dan die goeie nuus dat die menslike genoom heel stabiel is. Die slegte nuus is dat nie al die elemente wat kan transposisioneer ten volle verstaan word nie. Daar is bv retrovirusse, infeksieuse deeltjies, bestaande uit RNA en beskerm deur ’n proteïnelaag. Hulle kom nogal algemeen voor en onder hulle is die VIGS-virus en virusse wat griep veroorsaak.

Al hierdie transposons en ander retroelemente gee ons ’n kykie in die verlede, want hulle word van geslag tot geslag oorgedra, alhoewel baie van hulle nie meer funksioneel is nie.

Groete,

Angus

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top