Sonja Loots, selfopgelegde skuld, versoening en al daai

  • 4

Sonja skryf (Young Voices) sy’s op ‘n partytjie en haar respons op ‘hoe gaan dit’, naamlik ‘kak, dankie’, laat ‘n ander partytjieganger, ene Fiona, in die duister; dié verstaan glo nie Afrikaans nie. Later laat hierdie Fiona blyk sy’s van plan om Zoeloe te leer (10 uit 10 vir Sonja se opmerking dat sy sal moet opskud; as sy in 30 jaar nog nie twee eenvoudige Afrikaanse woordjies verstaan nie gaan Zoeloe ‘n taamlike tydjie neem). Dus, by implikasie, nie Afrikaans nie, want Afrikaans is nie belangrik of nodig nie.

Onder SA Engelse is hierdie soort van ding, naamlik dat Afrikaans totaal en al onbelangrik is algemeen. In die 50’s het ‘n vrou in Witrivier vir my ma gesê sy gaan eerder haar kinders laat Zoeloe leer in plaas van Afrikaans (ek wonder hoekom; in Witrivier en omgewing praat die swartes Swazi). Hierdie mense is kamtig bekend vir hulle takt en goeie maniere en tog put hulle genot daaruit om die gewaande onbelangrikheid van Afrikaans onder Afrikaners se aandag te bring.

Hoekom sou dit wees? Rykie van Reenen (of was dit nou Madelein van Biljon?) het ‘n goeie verklaring: Mag was nog altyd in die Engelse gesetel en Boereprestasie, veral sedert die slag van Majuba, die Jameson-inval en die Engelse oorlog het hulle status as belle of the ball erg aangetas. Toe kom die ’48 verkiesing ook nog en dié het hulle gal, by wyse van spreke, deur die dak laat spuit.

Ek dink daar was ‘n tyd, weliswaar kort, na die twee Engelse oorloë, wat hulle, die Engelse, vir ons Boere respek gehad het; wel nie van ons gehou nie maar respek gehad. Hierdie respek het verander na die veragting wat hulle deesdae vir ons het. En nie net hulle, die Engelse, nie maar die res van die land se bevolking ook.

Wie se skuld is dit? Is dit ons lotsbestemming, of word ons gestraf oor die meisies minirokkies dra en bra-loos rondloop, of is dit toeval, is dit die pous, of goëlery? Niks van die aard nie, dis ons eie skuld. Daar is ‘n spreekwoord, in baie tale, wat sê dat almal gek is na wenners wat, logieserwys, impliseer dat almal ‘n gly vang in verloorders.

Ons gedra ons soos verloorders.

Waar in die wêreld sal jy mense kry wat goedsmoeds aanvaar dat hul dorp- en straatname doodgekrap (met ‘n rooi streep) en met volksvreemde name vervang word?

Waar in die wêreld kry jy mense wat goedsmoeds aanvaar dat hul taal in hulle universiteite, tegniese kolleges en skole uitgerysmier word?

Waar in die wêreld kry jy mense wat gelate aanvaar dat hulle taal onwelkom is in die openbare sektor (selfs in die belastingkantoor kan hulle nie hulle eie taal praat nie)?

Waar in die wêreld kry jy mense wat ewe gedweë voortluister as hul radiostasie omslaan in ‘n vreemde taal?

Waar in die wêreld kry jy mense wat in ‘n vreemde taal korrespondeer, wat hulle besighede (al is dit vlooimarktafels) volksvreemde name gee, spyskaarte in ‘n vreemde taal laat druk en hulle kinders aanmoedig, en self streef om, ‘n vreemde taal foutloos, ten koste van hulle eie taal, te besig (lees en skryf)?

Jy kry dit hier. Jy kry dit seker ander plekke ook maar dan is dit waar mense oorwin en onderwerp is. Is dit die geval met ons? Dit lyk beslis so.

Nog is dit het einde niet. Op ons Boere (of Afrikaners as jy dan nou wil) wat nou so boete doen en besig is met mentorskap op enige denkbare terrein en welsynsorganisasies en praktyke bedryf om diegene op te hef wat nou die hef in die hand het, word gedurig ‘n beroep gedoen om te versoen. Kan jy glo? En, raar maar waar, hierdie beroep kom hoofsaaklik van ons eie mense af. Kan jy dit nou oorvertel? Wat gaan aan met ons? Goddank daar is nog mense soos Dan Roodt en Steve Hofmeyr wat daarop dui dat daar darem nog Afrikaners met ruggraat is.

‘n Oproep tot versoening dui op heersende onmin tussen partye en, as die oproep gedurig tot die een party gerig word, is die boodskap natuurlik dat daardie party gesondig het. Die ander party is dan ewe selfvoldaan die ontvangers van, spreekwoordelik, blomme, sjokolade, heuning-om-die-mond-smeerdery en lof en prysing. En hierdie vredesgeskenke is nooit genoeg nie; dis mos alte lekker om so knus in ‘n kombers van simpatie te broei en boonop nog met geskenke oorlaai te word.

Wel, in ons geval is dit nie so nie; nie so dat die onmin ons toedoen is nie. Versoening kan slegs bewerkstellig word as diegene, wat nou die hef in die hand het, húlle sondes, vanaf Bloukrans tot by die hedendaagse verval, bely en dan boete doen. Hulle moet hulle spyt uitspreek oor hulle onvermoë om plaasaanvalle en -moorde te keer en hulle heksejag op Afrikaans. Hulle moet die Afrikaanse straat- en plekname terugsit en as deel van hulle boetedoening moet hulle plekke soos Nkandla en Ulundi herdoop na Knoppieslaagte en Stofbulthoogte of so iets.

Die susterskerke moet ook terselfdertyd alle verskonings vir sogenaamde apartheid terugtrek en jammer sê vir die land in die algemeen en die Afrikaner spesifiek vir die pyn en lyding wat hulle verskoningvraery veroorsaak het. Eers dan, wanneer die Afrikaner van sy selfopgelegde skuld ontslae is, en alle oortreders boete doen, sal versoening in SA sin maak.

Jan Rap

  • 4

Kommentaar

  • Jy is REG - dit is die Afrikaner se eie fout. Nie verloorder-gedrag nie maar laaste-loopgraaf-gedrag - opgekookte bedreigings wat uitreiking versmoor.

     
    Afrikaans op die PUK-kampus is doodgeboer juis deur die WEN-beheptheid. Die ander kampusse mag sekere vakke nie aanbied nie, want die Afrikanerpappies in Vanderbijlpark is dalk tevrede dat hulle kinders uit die huis in Engels studeer as PUK toe ry en duur betaal vir SUIWER AFRIKAANS. 
     
    Wie sy lewe wil wen sal dit verloor ... 
     
     
  • Rietha Zondagh

    Eintlik Jan Rap, kan niemand meer reg praat nie. Die jong geleerdes en skoolverlaters klink nou vir my almal effens vertraag. Mens moet deur die vinnige gebrabbel uitluister vir hulle nuutgevonde geleerdheid om dit te kan waardeer. Dis jammer. Dis ook nie hulle skuld nie. Jong kinders tel maar tale op of verloor en nou sit ons met 'n eienaardigheid wat my my ore wil laat toedruk. Die meisietjie wat gekook het op Ontbytsake vermoed ek is nie Engels soos sy toe te sê gehad het nie (sy kon net nie natuurlik voorkom nie ongeag hoe pragtig sy was om na te kyk!) - toe sy en haar sussie op die kookkompetisie was, was hul Engels ook nie reg nie en hier en daar het 'n erge fout uit daai mooi bekkies geval. En nou is hulle in geen wêreld spraaksamig gemaklik nie. Dit is maar wat dit is.

  • Jy's in 'n mate reg Angus; die wat hulle kruisies verkeerd getrek het mag nie kla nie; hulle het hulself beywer vir hierdie sirkus.  Die ironie van die saak is, meeste van hulle sit oorsee en die wat nie oorsee is nie, sit en word woedend as diegene wat wel hulle kruisies reg getrek het vir hulle sê "Ons het julle mos gesê!"

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top