Simson kry identititeit

  • 3

Sandvelder, Liewe Sannie en die 16-jarige Simson was vanoggend Binnelandse Sake toe in die Pretoria-middestad om vir die jongeheer se nuwe kaart-ID aansoek te doen. Eerste aansoekers en pensioenarisse kry dit mos gratis. Vanoggend was ons tweede poging gewees. Die eerste een by Akasia 'n paar weke gelede het droewiglik misluk toe ons 07h00 die oggend daar gearriveer het en die tou reeds 150m ver gestaan het.

Vanoggend was ons 07h50 daar, en 'n uur later het hulle ons, die tweede bondel van die dag, ingelaat. By die deur moes ons deur die sekuriteitshek en metaalverklikker gaan soos by 'n lughawe. Maar in plaas daarvan om al jou sleutels en ander metaalgoedere in 'n mooi plastiekmandjie te sit, kry ons sommer kartonhouers wat nog gister se bier bymekaar gehou het. Die sekuriteitswag het ons eers verkeerdelik na die anderkant van die saal geneem, en 'n halfuur later het 'n beampte ons weer verwys na die Greeter Meter waar jy jou nommer moet kry. Ons was nommer 129.

Ons het 'n sitplek gekry op vlekvrye staalstoele en die groot gewag het begin. Na 'n halfuur kon Simson sy foto geneem kry, en moes ons by die volgende toonbanke gaan wag.

Terwyl ons wag, hou ek die sekuriteit dop. Die derde bondel was baie vinniger as ons deurgelaat. Die metaalverklikker skree aanmekaar soos dit geïgnoreer word. Dan draai die sekuriteitwag om en ek sien die firma se naam op sy rug: Mafoko Security. Ja, seg ek vir myself, daar is ma' foko' sekuriteit hier!

Na nog 'n halfuur roep hulle nommer 129 en staan Liewe Sannie en Simson by toonbank 6. Almal glimlag nog vir mekaar en lyk vriendelik. Hulle kry die "Howayou's" agter hulle en begin die proses.

Van waar ek agter teen die muur van die saal staan, merk ek hoe die gemoedere geleidelik verander.

Liewe Sannie frons en ek sien hier kom moeilikheid. Na vyftien minute by die toonbank het hulle nommer 129 se rekord totaal verloor, en ons moet 'n nuwe nommer gaan kry.

Terug by die Greeter Meter kry ons nommer 300, en ek hoor hoe daar dui-de-lik op ho-ge-re Engels vir die beampte van A tot Z ver-dui-de-lik word dat ons NOU, nie later nie, gehelp gaan word. Vreesbevange stem die man in. Julle is nou VIP's, verduidelik hy. Julle gaan nou dadelik gehelp word. Simson en sy nuwe nommer 300 op 'n papiertjie loop weer na die fotohokkie toe.

Intussen het ek 'n geselsie aangeknoop met die ou oom wat die ou tannie gebring het vir haar nuwe kaart-ID. Die ou oom, sy skoonseun en ek staan en bespreek die "organised chaos". Ons hou Liewe Sannie en Simson dop. Die stelsel roep VIP nommer 300 dadelik en hulle loop na toonbank 7 toe hierdie keer. 'n Gemurmel van stemme gaan uit die gepeupel op toe nommer 300 lank voor nommer 220 by die toonbank kom. Liewe Sannie draai om en hulle raak stil.

Ek wou gespanne raak toe ek sien dat Liewe Sannie haar baadjie uittrek. Sy vat nie nonsens vandag nie. So by myself sê ek vir Toonbank 7: "Be afraid. Be very afraid!" Die gesukkel daar was groot. Na 'n wyle is daar drie mense by toonbank 7 om Liewe Sannnie en Simson te help. Hulle vat haar vingerafdrukke verskeie kere asof sy suspect number one is. Die frons op haar gesig sê vir my dat sy daardie vingerafdrukmasjientjie nou dwarsdeur die toonbank gaan druk. Of dalk êrens waar dit diep en donker is.

Eensklaps staan die tweetjies alleen daar. Alle hulp het spoorloos verdwyn. Sonder enige verduideliking. Liewe Sannie en Simson kyk links en regs soos vir 'n tenniswedstryd. Die gepeupel kyk ook links en regs. Toonbank 7 het eenvoudig net gesluit.

"Number 300 go to Counter 6!" kom 'n afkondiging weer. Die tweetjies skuif van 7 na 6 toe waar hulle oorspronklik begin het. En dit by dieselfde beampte wat in die eerste plek rekord nommer 129 weggegooi het. Net toe my moed in my skoene wou sak, roep hulle my. Dalk werk my vingerafdrukke beter.

Maar net toe ek daar kom gaan hulle laaste poging deur, en kry Simson sy SMS wat bevestig dat Binnelandse Sake sy aansoek ontvang het. Verligting! Dit was drie ure later, en ons kon nie gou genoeg daar uitkom nie.

Ek het hulle maar na die Royal Copenhagen Danish Ice Cream Bar toe gevat om die styf opgewende senuwees te kalmeer.

  • 3

Kommentaar

  • My simpatie Sandvelder,

    Ek het onlangs Tasmania toe verhuis en moes 'n vars bestuurslisensie kry asook my twee voertuie herregistreer in die nuwe staat. Kaartjie by die masjien kry,in die ry staan, foto neem, identiteit bewys, ou nommerplate inhandig en nuwes trek, betaal, al daai jazz.

    Die lang petalje het ten minste 10 minute geneem. Die verskil in ywer en doeltreffendheid tussen hier en daar het oor die jare nie verander nie.

     

    Groete

    Duitswester

  • Ek het jou stoei met die kry van die nuwe id kaartjie gelees. Ek kan onthou so  paar jaar terug was daar oral in staatskantore groot plakkate met " beware speed kills". Weet nie of dit nog daar is nie. Ek het geleer dat jy vat tydskrif en of iPad saam. Toebroodjies en koffiefles of enige iets te drinke kom ook handig te pas. 

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top