Seer nostalgie

  • 0

Ek het haar die eerste keer tydens 'n inligtingseminaar gesien. Daar was geen oog kontak of asemlose oomblikke nie. Net eenvoudig, ek het haar gesien.

Toe ek die aand in die bed rondrol sien ek haar so helder soos daglig voor my. Ek kry haar nie uit my gedagtes nie. Dae gaan verby dat ek haar nie sien nie. Wanneer dit wel gebeur is dit soos in breukdele of in die verbystap in die kantoor gange. Nog steeds geen oogkontak.

Uiteindelik doen die geleentheid hom voor dat ons formeel aan mekaar voorgestel word. Dit is weer tydens 'n geleentheid waar daar 'n horde mense om ons is. Ons skud hande, maak oogkontak. Die handdruk is ferm, kort en formeel. Die oogkontak 'n breukdeel langer. Iets in my skud en sidder. My hart mis 'n slag, my maag voel asof hy omrol, my bene lam. Dit voel soos 'n intense pyn, maar weet nie presies waar is dit seer nie.

Later by die geleentheid kry ons tyd om te gesels. Die gesprek is oor alledaagse onderwerpe en word daar 'n veilige afstand tussen ons gehandhaaf.

Ek sien haar van tyd tot tyd op 'n afstand. Kom net nie naby genoeg aan haar nie. Wil weer gesels, meer uitvind, meer oor haar weet.

Die dae word maande en op 'n dag hoor ek sy gaan vir 'n tyd lank in Europa werk. Ek is nogal weemoedig oor die nuus maar aanvaar dit. Gelukkig weet ek waarheen sy gaan. Sal van haar bewegings bewus wees. Ek is een aand in een van haar vriendinne se teenwoordigheid toe die 'n terloopse aanmerking maak wat my hart laat stilstaan. Sy is blykbaar mal oor my. Ek skryf 'n brief, en 'n ruk later vra die vriendin van haar dat sy vra dat ek nie weer moet skryf nie. Los dit daar. Ek probeer soveel as moontlik nuus van haar kry, maar tevergeefs. Ek probeer haar ook uit my gedagtes kry en probeer so min as moontlik aan haar dink. Dit is moeilik aangesien daar 'n foto in een van ons kollegas se kantoor is, waarop sy ook is.

Na sowat twee jaar sien ek haar skielik eendag. Ek gaan groet, die groetery is baie formeel. Ek is net bly sy is terug, en die wete dat ek haar meer sal kan sien. Ek sien haar mettertyd meer gereeld en spandeer ons selfs meer tyd in mekaar se geselskap saam. Die aard van ons werk vereis dit.

Na een van die werksfunksies neem ek haar huistoe en vergesel haar tot by die voordeur. Sy nooi my nie in nie. Ek piksoen haar op die wang en stap na my motor toe, klim in en ry weg.

Ek is weg by die betrokke maatskappy en verloor heeltemal kontak met haar. Daar gaan omtrent ses jaar verby en op een lente oggend stap sy uit 'n winkel byna in my vas. Dit is soos 'n emmer yswater wat oor my uitgegooi word. Ek wil haar omhels, in my arms vashou en haar altyd by my hou. Ek wil haar vertroetel, haar bederf, beskerm en haar saam met my vat. Die gesprek vlot nie, ek wil haar vertel hoe ek voel. Ek wil haar oortuig van my diepste emosies en my hart aan haar openbaar.

Ek mag nie. Sy is steeds in my gedagtes. Die erge seer is nie meer daar nie, dit is net wat sou gebeur het indien ons alles sou los en die lewe saam aangedurf het. Die verre hunkering en onbekende kom so nou en dan by my op. Dit is nou 'n lekker seer. Dit is my nostalgie.

Reusedwerg

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top