My vriend Piet, want ons noem hulle maar altoos Piet want dit is bekende mense, is 'n man wat nou wel nie innie Blou Dam gebore is nie, maar Vir die Blou Dam. So lief vir hierdie Blou stuk waters soos net iemand wat Haar wel en wee ken maar kan wees.
Jy kry vir Piet altoos iewers langs die water. Aan't tuur. En altyd op soek na ’n verskoning om duikpak aan te trek. En die blou waters aan te durf. Lankal nie meer vandag se kind nie, maar met 'n asem wat enige jongman sal laat snak na vars lug. Ek het al vir Piet baie male beskou as ons die Blou waters wil aandurf en sy baie seremonies en voorbereidings. Dis bottels seepwater en praksasies en toue en noem maar op, my vriend Piet prakseer iets.
Want Piet swem nie hier tussen die Great Whites op Hartenbos se strande rond nie. Hy swem baie dieper. Waar selfs die Raggies meesal rustig oppie bodem lê en rus. Is lank reeds bekend dat hy eendag selfs 'n Raggie wakker gemaak het en lank en diep die man met die ragged tanne see-in aangehelp het. Ek sallie sê Piet issie bang nie, want Piet het 'n doodse ontsag vir my Blou Dam maar Piet het ook 'n praksasie vir ingeval. 'n Praksasie wat nie aldag wettig is nie, maar dis net ingeval haai se pa of kind dalk wil hap. Wat sy praksasie is laat ons liewer met rus, want daar’s baie groenes wat tussen die manne met die tanne rondplas oppie strand en tot dusver met rus is, dis nou, tot iemand gebyt raak en almal dalk op moordtogte wil gaan en dalk haainette wil span.
Wat egter die dag gebeur het praat nie baie mense oor nie. Want Piet hou nie daarvan dat dit oorvertel word nie:
Piet het die vorige aand redelik baie mielies geëet. Sweetcorn, of dan suikermielies as jy wil. Van Jannie se mielies wat regtig soos suiker proe, en waarvan jy gewoonlik nie by een stronk ophou nie. Vroegoggend Blou dam in. Diep duik want die groot manne skiet jy nie hier in vier meter waters nie. Jy soek hulle diep op.
Piet beduie dat hy op die rubberduck reeds onaardig gevoel het maar die gevoel van onner af bloot geïgnoreer het want mens is altoos opgewonde beduie hy. En as jy eers die proses moes deurgaan om jou duikpak aan te woel is jy nie lus om weer alles uit te trek nie. Meesal nommer een jy sommer met die sakslag en dit is een goeie rede waarom dit nie altyd raadsaam is om 'n ander man se duikpak te koop nie. Nie eens op Gumtree vir spotgoedkoop nie....
Nietemin, Piet beduie dat toe hy hier verby ses meter water was kon hy nie meer hou nie en op swem terug boontoe is 'n lang proses. Toe laat loop hy maar. In die duikpak. Sy beduie van die salige gevoel kan ek verstaan want dit is tog 'n salige gevoel, veral as die waters baie koud is. Piet het egter nie rekening gehou met dit wat normaal is op aarde nie: Druk. As jy ses of meer meter onder water is is die druk, wel, redelik groter as op land en wat binne 'n sewe mm duikpak is moet uit na die plek toe wat logies sin maak: Daar waar dit oop is.
Piet sê dat, toe hy later bo by die Rubberduck opklim die ander manne hom gevra het waarom sy hele gesig dan so vol mieliepitte is. Hy sê hulle het gevra of daar 'n dooie stuk aas iewers in een van die viskaste vergeet is en hy toe maar sy hoodie afgehaal het en weer teruggeduik het om gesig te was en hoodie en duikbril en mondstuk uit te spoel, want dis met die bo-komslag wat hy besef het iets proe na reeds verwerkte mielies en daai mielies het nie uit 'n blik gekom nie.
Piet verseg tot vandag toe om sweetcorn te eet en hy beduie dat dit nog oukei is om te nommer een in jou duikpak, maar mens trek die streep by nommer een. Want netnou was jou maaltyd baie meer as groente.
oester


Kommentaar
Ek het medelye met jou pel. Ek weet wat hom oorgekom het my nooit sal geval nie. Ek is bang vir daardie manne met die grys jasse en baie tanne. Daar is geen erger gevoel van nood as jy moet gaan waar net jy alleen kan gaan nie. Jy slaan uit in 'n koue sweet, angs, wanhoop en dan einde ten laaste 'n gelatenheid wat dan in elk geval te laat is.