Jy kan hierdie lees net soos jy lus het. Gebruik Kerkorrel se beginsel as jy nie hou wat jy lees nie, en sit dit dan af. Ek beduie dit soos dit was en soos ek dit gesien het.
Ek het vir Optel leer ken lank voor haar geboorte. Lank voor sy gemaak is. Ek het haar Grootma geken as ou Mamma Mia. Of, soms, as iemand nie gedink het nie, Ou Skelmond, of Skelbek as jy wil. Mamma Mia drink egter nie meer nie. Haar nie so ou liggaam is nou oud en afgeleef. Baie jare se seskanne het hul merk gelos. Die vloek van te veel het haar gevat en nooit gelos nie. Maar sy is nou bekeerd. Drink geen druppel as dit alkohol bevat nie. Almal wat haar nou leer ken leer haar ken as 'n liewe liewe mens. Waardig en ineengekrimp. En tog trots.
Optel is verwek, ek vermoed, iewers doer bo Donaldshoogte. In die drievertrek kliphuis met die dak wat wil-wil inmekaarsak. Kort voor Krimis wit gekalkte mure en kort na Nuwejaar verf wat afdop. Arm mense. Brandarm. Plaasarbeiders gesin met lewensreg op die grond want die ou man wat jare terug dood is het gewerk op die plaas. Dit is voor hierdie nuwe manier van doen. Mamma Mia se jongste heet Kaffer. Ek beduie hom elke dag dat sy naam al baie jare nie meer deug hier rond nie maar hy verseg. FAS-kind wat skeef lag en skuifelvoet loop en eentand lag vir enigiets. Trap een voet lank en een voet ver. Werk soos n esel want Mamma Mia se haar jongste is maar soos 'n esel. Rook sy BB tabak en verseg om te deel. Allpay tyd moet "mammie" net sorg vir sy "groot pak BB" en les bes 'n tweeliter Coke.
In hierdie gewoonte is Optel gemaak en verwek. Ek het vir Sannie gesien grootmaag en slingerdronk pad op en pad af stap. Optel in die buik. My geliefde Moeder het dag vir dag mooi gepraat en soms hard gepraat en mooi woorde het altoos op die ore geval waar dit val as niemand na jou wil luister nie. Tot die een dag wat Sannie langs die pad le en tiep. Optel aan't kruip straat toe. Doek vol bekak van twee dae se stront. doodtevrede want Sannie het 'n fizz pop gekoop om die kind se gehuil te kalmeer. En ons weet mos maar suiker is 'n bliksem want hy maak jou mak en laat babas se krete ophou.
Sannie was nie bewus dat Optel saggies opgetel en weggeneem is nie. Sy het wel later kom verneem na die kind en ek het haar na die Boere toe beduie. Moeder het lang preke afgestuur oor die euwels van drank en die deugde van vars groente en kinders wat eintlik net vir mens geleen word. Sannie het bloot nie geluister nie. Ons verneem toe mos maar na Optel en dit kom toe uit dat Optel by die "Lessies" is. Sout van die aarde dames wat op grond van hul keuses as lewensmaats baie gou met plakkers moet rondloop. Liefdevolle mense met wie ek al 'n paar sakke sout opgevreet het en hopelik nog 'n hele paar sal saam opvreet.
Ek het nie tred gehou met die jare nie want tyd is mos maar soos 'n gedagte en die eerste wat ek weer hoor of sien van Optel is toe sy trots ingeskryf word by ons laerskool. Graad R. Ek sien haar dikwels Sondae as sy die Rapport kom haal want daar is nog mense wat die koerant lees al vermoed ek hulle wil net die week se TV programme he.
Snaaks genoeg, net noudie dag moet ek my Trots se laaste skoolkonsert bywoon. Revue noem hulle dit. 'n "Celebration of life" met al die sang en danse. Mens gaap mos maar tussen al die goed deur en kyk maar uit vir jou eie want jy is al hoevele male hierdeur. En hier voor my stap 'n jonge dame op die verhoog. Selfversekerd en in haar element (Ek hoor sy presteer bo en buitengewoon bo die res). Doen die passies van die kamma Franse hoofstad en hoe Franse dames stap met die satyn en lang sigaartjie en ek besef:
Jy kan nooit 'n boek sommer net toemaak nie. Nooit nie. Jy kan ook nooit net die agterblad lees en dink jy het die boek gelees nie. Sy is lankal nie meer net "Optel" nie. Sy het 'n naam (ek weerhou dit verkieslik om logiese redes).
Ek vra haar Sondag wat sy eendag wil doen as sy groot is en sy beduie: "Ek wil 'n suster wees, soos my mammas. Ek hou van oom se dogter. Sy is nie 'n baie streng prefek nie. Sy het altyd 'n sagte woord vir almal." Sy glimlag en ek besef: Nie alles om my is net shit en dawerende sarsies van onheil nie. Daar is nog hoop. Al le Optel se bloedma steeds onbewus van haar pragdogter wat besig is om in 'n dame te ontwaak. Vergeet ons nie te maklik die mens agter al die stories nie?
Groete uit Oesterland
oester

