Opstaantyd

  • 2

Die jaar 1904 het die Afrikaner vuisvoos en platgeslaan bevind. Maar die geskiedenis leer ons dat hy weer vining opgestaan het. Alhoewel die vredesverdrag op papier geteken was, het die vrede in die kop egter nie so gou gekom nie. ’n Paar staaltjies uit my eie familiegeskiedenis skilder vir ons prentjies uit daardie tyd.

Die Horns van Morgenzon

Nadat die Standerton Konsentrasiekamp se hekke na afloop van die oorlog weer oopgegaan het, kon die vrouens, kinders en bejaardes huis toe keer. Dis nou diegene wat die begraafplaas vrygespring het. Maar baie wou nie dadelik gaan nie. Hulle het eers gewag dat die krygsgevangenes van Ceylon af moes terugkeer.

My een neef vertel dat sy oupa van Durban af met die trein tot op Standerton gereis het. Daar het hy sy vrou en kinders by familielede op die dorp gekry. Tussen hierdie kinders was ’n dogter van twee jaar oud wat hy toe vir die eerste keer gesien het. Hy wou natuurlik so gou moontlik op sy plaas op Morgenzon kom, en die hele gesin het te voet soontoe geloop.

Op Morgenzon (47 km vanaf Standerton) aangekom, was almal natuurlik al pootuit. Hy moes sy jongste dogter omtrent die hele end gedra het. Op die dorp het hy op krediet by ’n handelaar ’n sak meel gekoop en dit op die handelaar se geleende kruiwa gelaai. Die pad plaas toe met die ekstra vrag meel was natuurlik baie swaar.

Hy het sy dogtertjie op die grond neergesit, die kruiwa 20 tree gestoot en dit dan daar gelos. Dan loop hy terug na haar toe, tel haar op en dra haar tot 20 tree anderkant die kruiwa. Dan sit hy haar weer neer en draai om om die kruiwa te gaan haal.

Hoe lank hulle reis vanaf Standerton tot op die plaas geneem het, is nie duidelik nie, maar dat dit hulle uitgeput het, is sekerlik so.

Op die plaas aangekom was daar net ’n murasie oor waar hulle huis voorheen gestaan het. Maar die murasie was binne netjies skoongevee, en die verbrande dakbalke was verwyder. Buite onder ’n bos was die huis se sinkplate netjies op mekaar gestapel. Duidelik het hulle ou plaaswerkers die werf vir hulle skoongemaak nadat die Britte die huis verbrand het.

Die sinkplate het hulle so skuins staangemaak teen die murasie om as skerm te dien teen die wind en weer. Hulle het daar onder die skerm ’n vuur gemaak en kos gekook.

Binne ’n jaar of wat het was die huis weer sodanig herstel dat hulle ’n skaflike dak oor hulle kop gehad het. Buite was ’n nuwe groentetuin aangeplant. Op die lande het ’n belowende oes mielies gestaan.

Die Greylings van Standerton

My Oupa Kootjie Greyling was so vier jaar oud toe die Oorlog in 1899 uitgebreek het. Ek weet nie of sy pa, Michiel Daniel, ook ’n krygsgevangene was nie. Maar Oupa Kootjie en sy ma, broers en susters was almal in Standerton se Konsentrasiekamp.

Hier na die oorlog het hulle ’n behoefte aan ’n melkkoei gehad, en dié het hulle per trein “ingevoer” van die Kolonie af.

Ek wonder partymaal hoe hulle hierdie transaksies gedoen het? Hoe het die verkoper in die Kolonie geweet dat ’n Transvaalse gesin ’n koei nodig gehad het? Daar was nie telefone op die plase nie. Die Landbouweekblad het seker nog nie eers bestaan nie.

Omdat hulle meubels ook alles in die slag gebly het nadat die huis verbrand was, moes hulle meubels ook kry. ’n Buurman was ’n goeie skrynwerker, en ’n ruiltransaksie was aangegaan. Wat hulle in ruil gegee het, weet ons vandag nie, maar hulle het ’n eikehout riempiesmatbank daarvoor gekry.

Oupa Kootjie was toe al seker so agt jaar oud, en hy en sy jonger broer Izak het die opdrag gekry om by die buurman die riempiesmatbank te gaan haal. Hulle het gestap, die bank gekry en begin terugdra plaas toe.

Maar langs die pad het eers gerus. “Rus” vir twee klein seuntjies het beteken dat hulle met dolosse “plaas-plaas” gespeel het. Dat ’n Hoëveldse storm aan die opsteek was, het hulle nie eers agtergekom nie.

’n Sterk wind het die splinternuwe eikehout bank omgewaai en oor die veld gerol soos ’n bossie. Van die middelste poot het net spaanders oorgebly. Terug by die huis moes hulle verduidelik hoekom die bank stukkend was.

Sowat twaalf na vyftien jaar later het die twee broers saam begin boer, en die riempiesmatbank het saam met hulle getrek. Dit was sterk genoeg vir volwassenes om op die kante van die bank te sit, maar slegs ’n kind kon in die middel sit.

Later jare, na my ma se geboorte, het die oujongkêrel Izak altyd op die kant gesit en sy pyp gestop. Oupa Kootjie het op die ander end gesit, en my ma was die gelukkige wenner van die middelste sitplek.

Die riempiesmatbank het het na Oupa Kootjie se dood by my ma geëindig. My broer Adam het ongeveer 90 jaar nadat dit gebreek het, die bank ’n nuwe middelste poot gegee met ’n sterk stuk kiaat.

Vandag behoort dit aan ons neef Koos, Oupa Kootjie se naamgenoot.

Die Barnards van Rustenburg

My Oupagrootjie van Rustenburg was ’n perdeboer. Jy moet nou verstaan dat daar daardie jare nie ’n Ford of Chrysler fabriek was nie. Express transport was ’n perd. Vragvervoer was ’n wa en osse. As jy nuwe tegnologie wou aanpak, het jy trein gery.

Voor die oorlog het President Paul Kruger begin perde opkoop vir die kommando’s. Hoeveel perde my Oupagrootjie verkoop het aan die Staat, weet ons vandag nie, maar dit moes honderde gewees het.
Daarvoor het hy goue ponde gekry, en dit moes hy bewaar. “Bewaar” was ’n gat in die grond. Hy het die ponde in ’n leersak onder ’n paal in sy perdekraal geplant.

Met die uitbreek van die oorlog was daar nog 800 perde oor in die kraal. Miskien nie meer die bestes nie, maar darem ’n hele klomp. Die Engelse het vir hulle oorlogstryd die perde kom “konfiskeer”, het hulle gesê. “Gesteel,” het Grootoupa gesê.

Na die oorlog was Grootoupa bitter oor die verlies van sy 800 perde. Daar was bitter min gereedskap beskikbaar om die boerdery weer op die been te kry. Hy het met ’n buffelhoring ’n kanaal gegrawe vir besproeiing, omdat hy nie ’n graaf of ’n pik kon koop nie.

Maar hy het darem sy goue ponde gehad. Klaarblyklik het hy sy bure wat swaargekry het na die oorlog, se plase opgekoop. Dan kon hulle daar aanhou boer en hom weer terugbetaal. Hoeveel van hulle hy weer op die been gehelp het, weet ons nie vandag nie. Of almal hom ook altyd terugbetaal is te betwyfel. Al wat sy kinders bly oorvertel het, was dat hulle bitter was oor die 800 perde.

Maar kom ons skuif nou my storie sowat 60 jaar aan.

My pa was eers ’n Spoorwegingenieur, daarna ’n Yskor ingenieur. Yskor het in die vroeë 1960’s by die Duitsers rotoroonde gekoop om staal te vervaardig. Maar die oonde het probleme gegee. Pa met sy spoorweg agtergrond het ’n “lanskar” gebou wat op twee spore heen en weer kon beweeg. Die “lans” was ’n waterverkoelde pyp wat suurstof binne die rotoroond in die gesmolte staal ingeblaas het. Die probleem was opgelos.

Maar die Britte het dieselfde rotoroonde by die Duitsers gekoop, en dieselfde probleme ervaar. Pa het Brittanje toe gevlieg en sy lanskar-idee aan die Britte verkoop. Binne ’n jaar of wat kon die Britte ook staal vervaardig daarmee, en hulle het ’n afskeidspartytjie vir die Boertjie van Rustenburg gehou.

Hulle het toe ook sommer bevestig dat die uitstaande bedrag ten volle na Suid-Afrika oorgeplaas was. “No”, sê Pa, “that was only the first down payment.” Die Britte stry. Hulle het alles betaal. “You do not understand”, verduidelik Pa, “you Brits still owe my family a lot after you stole 800 horses from us in the Second Boer War!”

Vrede was 64 jaar vantevore gesluit, maar die oorlog in die kop wou maar net nie klaarkom nie.

  • 2

Kommentaar

  • Tiens Pretorius

    Baie interessante vertellings, ons het meer hiervan nodig. Maar hoe bring ons dit onder die aandag van die Britte? Hulle moet ook weet ...

    Tiens

  • CorneliusHenn

    Dankie Sandvelder,

    Daar is Ingelse wat konsentrasiekampbegraafplase help skoonmaak en hanskakie Afrikaanses wat alles om die Kwien vir soetkoek oplek.  

    Laasgenoemde hang veral aan die DA antie Zille se pante vandag.  

    Ek het respek vir enige Brit wat my erfenis respekteer, dog ewe minagting vir Afrikaanses wat my erfenis uit die Groot trek en die Boereoorlog as iets verby geringskat.  

    Ek dra geen wrok nie, maar is oortuig dat die Britte en hul Kwien ons Boere- Afrikaners skuld.  

    In plaas daarvan het hulle 'n enorme mediamasjien opgestel en ons Boere- Afrikaners in 1994 met hul piesang demokrasie verkul.  

    Maar wie weet, eendag sal die Boere- Afrikaners dalk weer soos na 1904 tot hul reg kom.  

    Boeregroete,  

    Cornelius Henn

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top