So stukkie oor Aardklop op Fiësta gesien en daar was 'n kunstenaar/fotograaf wat al sy goed se byskrifte in Engels gehad het, Strijdom van der Merwe dink ek was sy naam. Ek sê mos hoeka hierdie Afrikaanse feeste word geleidelik Engels (soos die tydskrif VISI).
Ook op Aardklop: Die aankondiger vertel dat 'Wie's bang vir Virginia Wolf' opgevoer word en ook Kafka se 'Report to an Academy'. Die Engelse storie word in Afrikaans gesê maar die Duitse een word in Engels gesê. Hoekom?
Na die Fiëstaprogram – medewerkers en so aan – volg 'n lys van feeste in die nabye toekoms en daar is onder andere een by die NG-kerk, Moreletapark of iewers, met die naam van Craft Mark. Craft Mark??? Wat's fout met Vlytmark?
Hierdie einste lys van toekomstige feeste is so vol spelfoute dis moeilik om te glo KykNet is 'n Afrikaanse kanaal. Iemand moet tog die goed oortik van iewers af om die lys 'drukgereed' te kry; kan hulle nie 'n Afrikaanssprekende kry om dit te doen nie? Ek hoop hulle gee aandag daaraan; dit lyk baie onprofessioneel. Hoe moet anderstaliges byvoorbeeld wat op KykNet inskakel om hulle Afrikaans te verbeter ooit Afrikaans leer?
Moet dit nie 'Rugbymotors' in plaas van 'Rugby Motors' wees nie?
Die meisie wat die rol van Busi in Binnelanders speel het 'n baie mooi (en sensuele) stem, so ook die een wat die rol van Bea se ma speel. Margot Luyt kan hulle gerus inspan by Vers en Klank.
Op 'n skaal van 1 tot 10 kry Deon Opperman se Donkerland 0,5 en dit ook net-net. Dit behoort onwettig te wees vir 'n skrywer om sy terugblik te gebruik om karakters hulle toekoms te laat voorspel, veral as die terugblik nog verkeerd interpreteer word ook.
Groot rasse-onmin by 'n skool in Heidelberg. Ek hoop prof Jansen het nuus gekyk.
Op KykNet én RSG verwys hulle na karre, bote en vliegtuie in die vroulike in plaas van die onsydige vorm.
Die oordrewe namaak van die Engelse aksent op KykNet en RSG is 'n pyn in die gat.
Jan Rap

