Ope vraag aan Magdaleen Kruger en/of enige van haar ondergeskiktes

  • 0

Liewe Magdaleen en/of jou 2IB

Terwyl ek LitNet oopmaak om die nuutste briewe te lees is Chill in die agtergrond aan die gang.  Die opskrifbrief is 'n uitnodiging om 'n brief oor nostalgie te skryf en daarby aangeheg is Laurika se Heartbreak Hotel (of do iets), mooier as enige van die liedjies wat tot op daardie stadium van die aand op Chill gespeel was.

Toe wonder ek, WEER EENS, hoekom is alles op Chill net Engelse liedjies?  Glo die magte die syn dat slegs Engelse liedjies daardie rustige, nostalgiese atmosfeer kan skep?  Tog vir seker nie, daar  is derduisende Afrikaanse plate (my kinders lag vir my omdat ek steeds die woord 'plaat' as sinoniem vir 'lied' of liedjie' gebruik) wat hier pas; dink maar aan dié van Koos du Plessis, Lukas Maree, Richard van der Westhuizen, Laurika, Coenie, André Swiegers en Swart, Danie Niehaus, Piet Botha ens ens.

Wat is die werklike rede?  Is dit deel van jou uitsette om Engels onder die Afrikaner te bevorder (lees in sy keel af te druk)?  Lyk so, Lynette Francis het byvoorbeeld gister 'n hele brief in Engels voorgelees.  Die vrou is kennelik 'n luisteraar (want die brief het oor 'n vorige program van Lynette gehandel) en, as haar Afrikaans nie goed genoeg is om 'n Afrikaanse brief te skryf nie, moet Lynette maar self die brief in Afrikaans vertaal as sy hom wil voorlees want daar is mense wie se Engels nie so goed is nie, soos daardie spesifieke luisteraar se Afrikaans nie so goed is nie.

Daar kan nie aangevoer word dat, aangesien Engels een van die amptelike tale is, word Engels 'toegelaat' op RSG nie; Lynette sal beslis nie 'n Zoeloe- of Tsongabrief in Zoeloe of Tsonga voorlees nie.

Om op te som:  Is dit RSG beleid om 'n sekere persentasie Engels te MOET praat?

Groetnis

Jan Rap

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top