Beste Jaco
Ek reageer op jou kommentaar van 4 September onderaan aan my brief van dieselfde datum.
Jy sê jy gaan " ... vir eens toegee en aan my vrae voldoen." Dit is nie my vrae nie; ek het versoek dat jy jou stellings toelig. Jy het onderaan my brief 'Die kinders van vandag' 'n klomp stellings gemaak en, as dit nie gestaaf word nie, bly dit maar net persoonlike menings.
Om debat te voer geld 'n paar beginsels en een belangrike een is dat persoonlike opinies, met ander woorde stelling sonder feitelike stawing, taboe is. 'n Ander een is dat jy nie kan debatteer met iemand waarmee jy saamstem nie ('debat' maak dan mos geen sin nie). Jy kan dus nie kwaad word vir iemand wat nie jou standpunt deel nie want jy tree juis in debat met iemand wat 'n ander standpunt as jy huldig. Jy kan ook nie voorwaardes stel nie soos byvoorbeeld 'ek praat net met blondines' of 'ek praat net met mense wat volgens my positief is' nie. Miskien gaan die debat oor wat positief is en wat nie, of so iets.
Wat jy veronderstel is om te doen is om MET FEITE die ander persoon te wys dat hy 'n ongeldige of verkeerde standpunt het. Om vir jou, noem dit maar opponent, te sê jy gaan nie met hom praat as hy nie 'positief' is nie is nie 'n argument nie, dis 'n verskoning, in effek 'n oneerbare manier om die aftog te blaas. Buitendien, wat jy as 'positief' beskou geld dalk nie vir hom nie.
Kyk nou maar vir Angus; hy raak kwaad maar nooit ad hominem nie. Ons het al hewig gestry en dis goed so; die Tswanas het 'n spreekwoord wat sê iemand met wie jy nog nie baklei het nie bly 'n vreemdeling.
Ek gebruik maar jou nommers:
1) Jy het die konstitusie geloof en ek vra hoekom. Ek vra weer, wat help hierdie konstitusie as daar in alle opsigte verval, misdaad en terreur is? Jou antwoord: "Die konstitusie is nie daar om oplossing vir probleem te soek nie, maar om deur middel van die hoogste wetlike gesag, menseregte in terme van die bewoording van die konstitusie, in SA te beskerm. (my vetskrif)". Wat vir 'n antwoord is dit? Ek vra dan juis vir jou wat help die wonderlike konstitusie as hy nie menseregte beskerm nie en jy antwoord hy is daar om menseregte te beskerm?
2) Jy het gesê daar " ... is 'n kliek Afrikaners wat demokrasie wil afskiet ..." Ek vra jou hoekom sou iemand demokrasie wil afskiet as hy juis demokrasie najaag en jy antwoord met 'n moerse relaas oor demokrasie en hoe 'gekkegrensers' demokrasie sien. Jy het die vraag gesystap.
3) Ek vra jou wat se soort verskoning is die feit dat "... ons demokrasie maar net 20 jaar oud is ..." en jy antwoord: "Omrede die regering 'n mislukking is, beteken dit nie dat die demokrasie 'n mislukking is nie." Ek het nooit gesê demokrasie is 'n mislukking nie; om die waarheid te sê, ek het al verskeie male gesê demokrasie is die enigste oplossing vir SA. Jy het die vraag gesystap.
4) Oukei hier's nou 'n nuwe een vir my naamlik dat Suid-Afrika nie 'n demokrasie is nie maar 'n regstaat. Jou verdere omskrywing maak sin vir my maar tog is die verkramptes (liberaal-demokrate) soos Max, Piet en Pierre kwaai opgedruk oor ons wonderlike demokrasie. Ek sal graag dat jy my bietjie meer inligting hieroor gee.
5) Oor die volkstaat. Ek was in die begin teen 'n volkstaat gekant en ek was nogal verbaas dat die regering nie vir die Afrikaner 'n volkstaat gegee het nie; ek het gedink hulle sou dit verwelkom om die Afrikaners iewers in die woestyn op 'n hoop te gooi en dus uit hulle hare uit te hê en ek wou nie in die woestyn sit nie.
Nou, egter, met dié dat Engels die amptelike taal is en in ons kele afgedruk word, plaasboere vermoor word, daar nie Afrikaanse wyn- en kaasetikette of spyskaarte is nie, ons universiteite verdwyn het en ons skole hewig verval het en die voorstedelike strate vol ysterhekke is en slaggate ens ens lyk die idee van 'n volkstaat baie aantreklik.
Jy beveel aan ek DOEN iets wat betref die volkstaat en nie net praat nie. Natuurlik doen ek iets; ek spreek, onder andere, my misnoeë uit oor die gebrek aan 'n volkstaat. Ek oorweeg om die gedeelte van my kerkgeld wat aan sending spandeer word te herkanaliseer na Dan Roodt se organisasie toe (alhoewel ek wonder of daardie paar sentjies Dan enigsins gaan help).
Buitendien, as ek jou vertel wat ek doen om 'n volkstaat te bevorder gaan jy ewe giftig bly, dalk nog net giftiger word as ek sien hoe jy Dan Roodt verguis omdat hy wel iets waarneembaar doen.
Wat DOEN jy wat betref die uitwis van die renoster, die vergiftiging van die aasvoëls, die onveilige berging van radio-aktiewe afval, die stroop van hout uit die reënwoud, die mishandeling van kinders, perde en honde, die besoedeling van die see met plastiek, riool en radio-aktiewe afval, lugbesoedeling, aardverwarming, die vervolging van Tibetane, kastediskriminasie in Indië, grondwaterbesoedeling deur hidrobreking, die heksejag op en agteruitgang van Afrikaans, die oorbevolking in ons tronke en die aanwas van ruimterommel?
Gaan jy slegs 'n gemis uitwys wanneer jy kamtig iets daaraan doen?
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Jan
Ek gee maar hierbo 'n "gemis"
Jaco Fourie
Amen... Jan Rap Circa 1955 in 'n groef.....
Jaco, wyse besluit. Ek meen, wat anders kan jy nou eintlik doen?
Wouter, hoekom ca 1955? En wat behels hierdie groef? Het jy iets in gedagte of praat jy nou maar net omdat praat praat is? Jy moet ook seker maar nie antwoord nie want hoe meer jy praat hoe meer pote stop jy in jou mond.
Jan Rap
Jan
Jy skryf hierbo: "ek sien hoe jy Dan Roodt verguis omdat hy wel iets WAARNEEMBAAR DOEN".
Dit was as gevolg van hierdie valse stelling van jou dat ek FEITLIK uitwys wat AfriForum WAARNEEMBAAR DOEN. Ek het gehoop jy sou in teenstelling al Roodt se WAARNEEMBARE DADE vir ons uitwys in teenstelling. Daaroor is jy tjoepstil, want jyself weet die ou is maar net die ene kwynende bitterbek. Jy gee nie eers AfriForum enige krediet of enige erkenning op dinge wat jy die afgelope 5 jaar oor kyf, wat hulle waarneembaar DOEN, oa. plaasmoorde; straatnaamsveranderinge; die gebruik van Afrikaans in die howe; swak dienslewering; ens. Is dit omdat hulle vir jou te positief en daadwerklik optree, vergeleke met Rooi Daantjie se onophoudelike negatiewe geheul, 'n negatiwiteit wat in jou kraal sit.
Jaco Fourie
Jaco
Deur my te vertel wat AfriForum doen is steenkoolkarwei Newcastle toe; ek het mos lankal gesê ek loof en waardeer almal wat iets vir Afrikaans en die Afrikaner doen. Wie sê ek gee nie AfriForum krediet vir wat hy doen nie? En as ek nou hier vertel oor hoe mooi, sê, die akkerboom is en jy lewer nie positiewe kommentaar daarop nie, moet ek dan aanneem jy dink die akkerboom is lelik? Natuurlik nie; so hoekom kerm oor ek nie kommentaar lewer op die mooi goed wat jy van AfriForum sê nie?
Ek hoef nie vir jou te vertel wat Dan Roodt doen nie want dit weet jy maar alte goed anders sou jy mos nie gedurig derms uitryg oor juis dit wat Dan doen nie, of hoe? Of hou jy nou bloot nie van hom nie oor dit mode is, jy weet nie eintlik hoekom nie?
En Jaco, maak tog seker van die betekenis van 'heul'. Ek wou jou al lankal daarop wys maar het dit gelos op die gevaar heen van uitgekryt te word as puntenerig maar genoeg is genoeg.
Jan Rap
Jan
Nee ou maat. So maklik gaan jy nie wegkom nie. Jy spog oor Rooi Daantjie se WAARNEEMBARE DADE hierbo, dan sê jy "Ek hoef nie vir jou te vertel wat Dan Roodt doen nie want dit weet jy maar alte goed anders sou jy mos nie gedurig derms uitryg oor juis dit wat Dan doen nie," Die derms wat ek uitryg is juis oor wat Dan NIE DOEN NIE. Ek weet regtig nie wat Dan doen nie, behalwe 'n klomp kak heul. So om vir beide my in te lig asook vir die edifikasie van ons lesers wat ook nie weet nie, laat waai oor sy wonderbaarlike WAARNEEMBARE dade. Doen jy dit nie, beteken jy erken vir ons lesers jy kan geen waarneembare dade van hom vind om te kan kwoteer nie.
mbt AfriForum oortuig jy my geensins nie. Maar dit maak nie saak nie. Daar is vele Afrikaners wat wel waardering het vir dit wat hulle vir die Afrikaner VERMAG.
Verder. Moenie bodder om vir my Afrikaans taal les op te sê nie. Wat jy van my lees is wat jy gaan kry.
Jaco Fourie