Groot man. In lewe en in werke. Want oom Morkel was wel groot van postuur maar net vanaand sit ons weer 'n keer en praat oor hierdie besonderse mens. En daar is lag en traan en dan is daar wonder en weer lag. Soos dit mos maar is met die dooies.
Eerste keer wat ek met oom Mokkie kennis gemaak het was nie in lewende lywe nie. Ek het bloot na die ou mense se stories geluister. Hoe hy en sy broer wat nou wel bekend is in die sakewêreld hulself uit die mees skreiende armoede kon opwerk tot sekerlik die mees bekende kontrakteurs in hierdie land. Ek onthou die ou mense se beduie hoe die ander witmense nie met die kaal hanne aan hulle mog raak nie want hulle was te arm. Armoede was destyds blykbaar aansteeklik.
Ek onthou die stories stuk-stuk en ek het oom Mokkie eers ontmoet toe hy klaar ryk was. Ryker as enigeen wat hierdie wêreld ooit kon beleef. Niemand weet regtig hoe ryk oom Mokkie was nie maar almal weet dat oom Mokkie altyd oop hand was. Nooit nee gesê vir enigeen nie, en selfs die wat nie vra nie het gekry. Mildelik. En so het ek oom Mokkie die eerste keer gesien: in sy ou Toyota-bakkie met sy maatskappy se kenmerkende kleure en sy hond langsaan. En sy bottel whiskey byderhand.
Oom Mokkie het my gevra of ek die nuwe bloed is en ek het hom baie arrogant beduie dat ek wel nuwe bloed is en die nuwe bloed gaan anners wees as die ou bloed. Hy het stadig uitgeklim uit sy afgeleefde bakkie en my beduie om vir hom een van Oom Jannie se tamaties solank reg te kry. Met die instap was dit opmerklik hoe hy die ultimate gentleman is en hoe hy die vrouens so mooi dagsê. Ek het nie 'n idee gehad van wat so besonders aan oom Jannie se tamaties is nie tot daar in die fynste detail aan my beduie is dat oom Jannie nog die regte outydse tamaties kweek, self plant en elke plantjie versorg en vertroetel soos 'n regte boer (kleinwoord) behoort te doen.
"Oom Jannie se tamaties proe net anners. Die goed sallie oppie rakke hoort nie want die goed is nie reg vir die nuwe vroutjies nie. Kyk hier: Sien jy hoekom?"
Ek kyk en vandag besef ek eers.
"Sien, oom Jannie se tamaties sny nie maklik nie. Vandag se vrouens soek 'n tamatie wat jy niks nodig het om van weg te sny nie. Jy sny 'n snytjie en die kop en gat is weg. En die goed proe soos niks ... waar’s die sout wat jou pa vir my bêre?"
Ra Mavenster kom tot my redding want as oom Mokkie tamaties wil eet is hy lankal meer as 'n White Horse sterk. Oom Mokkie se sout, het ek geleer staan altyd iewers weggebêre. Want hy koop 'n pakkie sout en hy gebruik die sout om sy een tamatie te eet. Voor hy verder ry. En niemand raak aan oom Mokkie se sout nie. Want more kort na nege is hy weer hier, ruikend na ou whiskey op pad Brinkleys toe. Met die rustige Boerboel wat waak.
Eendag sien ek die lang slap Mercedes-Benz stadig aankruie. Twee mense in Oil-registrasienommer. En as dit ’n Oil-registrasienommer is dan kyk jy weer want dis mense wat jy nie ken nie. Oom Mokkie het besluit om sy slap kar te vat want die bleddie ding word nooit gery nie. En almal weet tog dat 'n ryding wat nie gery word nie staan en breek. Met die uitklim sien ek die anner persoon is sy getroue Boerboel wat ewe mens sit en vorentoe kyk deur die voorruit. Alte mens. En ek loop haal een van oom Jannie se tamaties en oom Mokkie se sout. Want ek weet hy is op pad om sy dop te loop drink by Brinkleys.
Ek vra hom eendag uit oor die manne van Guiness en hy beduie ja, hulle is wel genoem iewers daarso maar hy weet nie meer nie. Ek het my huiswerk gedoen en ek beduie hom toe dat ek weet van hom en hy beduie na Ra Mavenster se kant toe dat die klong hou van syfers en goete en ek vra hom of dit waar is dat hy en sy broer in die bekende boek is want ek lees hy en sy broer is daar in want hulle het blykbaar die meeste Mercedes-voertuie op die ganse aarde en hy beduie my dat hy nie weet daarvan nie.
Ek onthou die nag voor Oom Mokkie dood is het ek langs sy bed loop sit en hom loop dagsê. Hy het beduie dat hy moeg is en ons het gelag oor hoeveel bottels White Horse hy agter die blad het. Ek het hom gegroet en hy het beduie dat hy moeg is.
Paar dae later het ons sy graf uitgebou met mooi stene en die lang slap Mercedes het ons vir baie jare gery voor iemand 'n aanbod gemaak het op hom en toe nooit betaal het nie.
Snaaks genoeg onthou baie mense na soveel jare vir oom Mokkie en die heel eerste wat hulle beduie: Daai man het altyd 'n oop hand gehad vir 'n arm mens.
Dalk was dit omdat hy uit die mees skreiende armoede kon opstaan? Ek dink nie so nie. Want Oom Mokkie, dink ek, was 'n gebore gentleman. En gentlemen word bitter selde so gebore.
oester


Kommentaar
Oester
Omrede ek nie gereeld hier kommentaar lewer nie, beteken nie ek geniet nie jou skrywes nie.
Inteendeel, wanneer ek jou naam en Sandvelder s'n sien, maak ek jou en sy brief elke keer eerste oop om te lees watter nuwe plesier daar is om te lees, veral jou briewe met 'n lewendige plaaslike geur.
Dankie Jaco. Ek beduie maar net wie en hoe die mense is wat te gou deur die res van ons vergeet word. Wat gebeur het is hulle stories.
Groete uit oesterland.
Dankie Oester, dit was lekker om te lees.
Webvoet, dis dalk tyd om al die top-stories van die afgelope jare saam te gooi en te druk.
Duitswester