Ontlening vir Jan Rap

  • 2

Beste Jan,

Baie mense dink verkeerdelik dat die grammatika van ’n taal, reëls is wat gehoorsaam moet word wanneer daardie taal gepraat word. Grammatika is die beskrywing van wat gebeur as ’n taal gepraat word, maw dit is slegs beskrywend van aard, nie voorskriftelik nie . Die enigste taalreëls wat voorskriftelik is, is spelreëls. ’n Mens skryf so iets en nie so-iets, of soiets nie. Te voorskyn is twee woorde, nie tevoorskyn nie; so ook huis toe. Wanneer oor die grammatika van ’n taal geskryf word, kan ’n mens hoogstens beskryf wat gebeur in ’n taal, nie wat jy dink of wat jy hoop moet gebeur nie. Die taalonnie sal grammatika voorskriftelik gebruik wanneer hy opstelle nasien, en hy nie tevrede is met Pietie se woordorde, spelling, manier van skryf, leksikon, ens nie. Volwassenes wat ’n nuwe taal wil aanleer, en hulle kinderlike taalvermoë verloor het, maak gebruik van grammatika asof dit voorskriftelik is. Daarom dink die meeste mense dat grammatika die wet van die Mede en die Perse is, en daarom wil jy sommer voorskryf vir sprekers hoe ’n leenwoord moet lyk, en wat sy eienskappe moet wees. Daarom kan jy (Jan Rap) ook uit volle bors konstateer dat ek (Angus) nie weet wat ontlening is nie.

Wanneer  leenwoorde van een taal na ’n ander onder oë geneem word, kan ’n mens alleenlik beskryf word wat werklik plaasvind, nie ’n idealistiese siening voorhou van wat jy wéns dit moet wees nie.

Wat is die werklikheid?

’n Algemene rede vir leksikale ontlening, is die behoefte om nuwe woorde te vind vir o.a. nuwe voorwerpe, konsepte, plekke, en emosies. Die maklikste manier om dit te verkry is om dit van ’n ander taal te leen wat reeds hierdie woorde het. (Natuurlik sal dit wensliker wees om nuwe woorde te skep, maar nie almal van ons is ’n Fanus Rautenbach nie.) Aanvanklik word die woord netso oorgeneem soos dit in die oorspronklike taal bestaan. In die Engelse grammatika word ’n loanword soos volg beskryf: a word from another language used in its original form. (Vgl. Oxford Dictionary) Engels wemel van woorde wat wêreldwyd netso oorgeneem is: van die Amerikaanse Rooihuide is daar moccasin, toboggan, tomahawk, totem. Van die Australiese boorlinge is daar kangaroo, en  wombat. Van die Arabiese taal is daar zenith, algebra, nadir, alkali, bismuth, alcohol. Van Italiaans is daar opera, soprano, piano, sonata, sonnet, balcony, corridor, niche, mezzanine, dilittante. Dan het ek nog nie eens gekom by regeringsterme nie. Om dubbelsinnigheid te vermy, laat ek so ’n paar noem uit Frans: parliament, minister, sovereign, power, reign, country, duchess, prince, baron, nation, ens., ens. Soos dit vir my lyk, is omtrent die hele Engelse woordeskat leenwoorde. (Laat net weet, dan stuur ek nog voorbeelde.)

Die volgende evolusionêre stap, in die ontwikkeling van ontlening, is dat leenwoorde gemaak word om in te pas by die fonologiese en grammatiese sisteem van die taal wat die woord leen (natuurlik waar moontlik.) Hier gaan ek my bepaal by Afrikaans. Van die Engelse woord inspiration (van Middelengels, via Oud-Frans, via Latyn) is  inspirasie ontleen, maar nou het dit ’n Afrikaanse uitspraak, met Afrikaanse voegsels, ook wat verdere afleidings betref: inspireer, geïnspireer, inspireerde, inspirerende, ens. Woorde wat fonologies en grammaties aangepas is, staan bekend as leenvertalings. (Eng. Loan Translation).

Ontlening bestaan dus uit leenwoorde, maw woorde wat direk en onveranderd uit ’n ander taal geleen is, en leenvertaling  waar woorde verander om fonologies en grammatikaal in te pas.

Ontlening is afhanklik van die taalgebruikers. ’n Mens kan as jy wil, reëls neerlê en verklaar dat dit voorskriftelik is, en almal moet so praat. Hierdie woord mag ’n spreker dan gebruik, maar daardie “gemorswoord” nie, maar hoe gaan jy dit toepas? Gaan jy ’n Grootbroer aanstel met gesofistikeerde apparaat wat selfs mense se gedagtes kan lees? En hoe gaan jy hulle straf as hulle bv die woord amazing gebruik? In George Orwell se distopia word hulle in ’n geel kamertjie gemartel.

Engels bly nog Engels te spyte daarvan dat dit “besoedel” is met leenwoorde, nie net uit Afrikaans nie, maar uit alle tale regoor die wêreld. Engels is dus nie verniet ‘n wêreldtaal wat oral verstaanbaar  is nie. As ek kyk na jou Gert-allegorie dan is jy van mening dat Engelse ontlening Afrikaans heeltemal onverstaanbaar sal maak.

Dis rêrig jammer dat jy nie my verduideliking, dat ontlening ’n inherente deel is van taalevolusie, kan verstaan nie. Kan ek weer probeer?

Lewende tale staan nooit stil nie. Elke taal is die produk van verandering en dit hou aan met verander solank dit gepraat word. Tale tree dus op soos lewende organismes wat gedurig aan verandering onderhewig is. Ons kan nie sien as lewende organismes verander nie, omdat dit oor lang tyd geskied. Mutasie en seleksie is verantwoordelik vir verandering by lewende organismes. Vreemde woorde  in ’n taal het dieselfde funksie as mutasies. As een enkele vreemde woord in Afrikaanse leksikon  kom, dui dit op ’n verandering in die linguistiese sisteem, al is dit uiters, uiters gering, sodat n mens dit byna nie agterkom nie. Hierdie verandering is nie om dowe neute nie – dit is noodsaaklik vir die taal se aanpassing by nuwe omstandighede. As ’n taal nie aanpas nie, nie tred hou met nuwe omstandighede nie, sal niemand dit gebruik nie, en dan sterf dit uit. Baie organismes sterf uit, waarom nie tale ook nie?

Afrikaans sal nie uitsterf as gevolg van ontlening, of besoedeling, of kontaminasie of wat ook al nie. Nuwe woorde sal Afrikaans net ’n beter uitdrukkingsvermoë gee, want hierdie nuwe woorde kom nie van nêrens af nie; dit kom van ’n taal waar hulle alreeds betekenisvol was. Afrikaans sal alleenlik uitsterf as niemand dit kan gebruik om mee te kommunikeer nie, en dit sal alleenlik gebeur as Afrikaans nie die nodige woordeskat het nie.

Groete,

Angus

  • 2

Kommentaar

  • Angus: Jy is reg dat tale onvermydellik 'n evolusieproses ondergaan, of ons daarvan hou of nie.

     
    Tog kan ek myself nie help nie: ek wil die stuipe kry as ek hoor van 'n amazing show waar daar sulke great songs was. Ek weet nie of dit erger is as die taalmonsters wat skynbaar deur politici uitgedink is nie: leerders ipv leerlinge, sekswerkers ipvpros titute, en Me Zille eerder as Mev of Mej Zille. 
     
    Deesdae lees en skryf ek maar verkieslik Engels; ek herken my eie taal nie meer nie.
  • Beste Brianvds,

    Dieselfde ook hier, ek wil die piep kry vir sulke taal,  maar besef dat dit maar met alle tale gebeur. Mense wou die stuipe kry oor die taal wat hier aan die suidpunt van Afrika gepraat word, en nou is ons trots op Afrikaans. Ek voorsien 'n taal waarop die geslagte na ons weer op trots kan wees, en die stuipe kry vir vreemde woorde wat sommer so gebruik word.

    Dit is nou maar enemale so: geen taal staan stil nie, en as hy stilstaan, dan vrek hy.

    Groete
    Angus 
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top