Dis weer amper Desember. Tyd vir jaareindfunksies. Almal van ons weet wat om tydens die toesprake deur die bestuur te verwag: Mooi woordjies oor hoe die maatskappy se belangrikste bate kwansuis sy mense is. Hoe daar nie ‘n maatskappy sou kon wees sonder julle wat hier voor hom staan nie, terwyl die baas op sy voete swaai agv die paar brandewyne wat hy alreeds agter die blad het.
Net jammer die werkgewers glo dit nie vir een oomblik nie. Veral nie oor hulle bestaande werknemers nie.
Daar was gister ‘n interessante inbelprogram op Talk Radio 702, wat gehandel het oor ‘n verskynsel wat ons ook almal ken. Waarom word mense van buite die maatskappy dikwels aangestel teen ‘n veel hoër salaris as die mense wat dikwels jare al daar werk, al het die eksterne en interne ouens min of meer soortgelyke ervaring en kwalifikasies? Jy kry ook die fenomeen dat ouens bedank, vir ‘n paar jaar vir iemand anders gaan werk, en dan terugkeer na hulle oorspronklike maatskappy, maar teen ‘n veel groter salaris as wat hulle sou verdien het, het hulle maar net in hul groef gebly en by dieselfde maatskappy aanhou werk.
Teen die agtergrond hiervan word die nuttige idiote wat maar jaar na jaar by dieselfde werkgewer voortploeter, maar net telkens deur die ore gewerk. Ek het ‘n blitsopname onder my kollegas, familie en vriende gedoen. Ek kon nie een persoon kry wat in 2014 ‘n verhoging gekry het wat selfs net gelyk aan die beweerde inflasiekoers van 6% was nie. In sommige gevalle was die verhogings niks nie, en in ander gevalle ‘n karige 2% of so. In die tussentyd styg al hierdie mense, en my, se uitgawes teen veel vinniger as die beweerde 6% inflasiekoers. Dis Eskom se skrikwekkende stygings. Die brandstofprys het, tot onlangs toe, vinniger as die inflasiekoers toegeneem. En nou praat ek nie eers van e-tol nie. Almal waarmee ek gesels het, het in effek hierdie jaar net al hoe verder agter geraak en verarm.
En, ohoo, die bonusse wat nooit te voorskyn kom nie! Ek is doodseker almal wat al ooit op ‘n werksonderhoud gegaan het, is die bonuswortel voor die neus geswaai. Vir alle jongmense wat gaan begin werk: Pasop! Kry sulke mooi beloftes op skrif! My persoonlike bonusse oor die afgelope vyf jaar, nes my kollegas s’n was egter in 3 van die jare niks, en op 2 geleenthede ‘n fraksie van ‘n maand se salaris, en hierdie jaar glo weer niks nie. In die jare toe ons niks gekry het nie, was die direksie se bonusse nietemin wel van die vyfsyfer-verskeidenheid. Weer eens, tydens my blitssteekproef het ek baie soortgelyke stories gehoor. Sommige deelnemers het selfs so op ‘n hol manier begin lag toe ek die b-woord noem. Hulle het al daarvan gehoor, ja.
Ek kan dus verstaan hoekom mense “job hopping” doen – ek wou ook graag hierdie vakansie see toe gegaan het - nes ek kan verstaan hoekom baie mense vreesbevange aan hul werke vasklou, in ‘n land met soveel werkloosheid en ‘n ekonomie wat so sleg doen. Ek verstaan selfs dat werkgewers noustrop trek.
Wat ek nie kan verstaan nie, is hoe die werkgewers, veral diegene wat noustrop trek, dink met die duurder mense wat hulle so graag van buite af aanstel nie. Dis eerstens algemeen om iets soos 20% van die nuwe ou se salaris in die eerste jaar as ‘n werwingsfooi aan ‘n personeelagent te betaal. Dis maklik R100 000 op ‘n ou wat R500 000 per jaar verdien. Voeg nou hierby die ou se salaris wat, sê maar, 20% beter is as die mense wat reeds by ‘n werkgewer werk, en dan trek ons al by R200 000 ekstra vir die jaar. Voeg boonop hierby die nuwe ou se leerkurwe en laer produktiwiteit, en hy kos die werkgewer maklik R300 000 of R400 000 meer in die eerste jaar as wat die ou wat al jare lojaal was, die werkgewer sou kos. Dis asof die werkgewer iemand ‘n 80% verhoging gegee het, maar sy eie, lojale werknemers word maar net eenvoudig geïgnoreer. Wat maak die ouens van buite af so spesiaal?
Ek wil vir hierdie werkgewers, en daar is talle van hulle, vra waarom lojaliteit as’t ware gestraf word, en waarom hulle mense wat net minstens wil tred hou met inflasie, in effek aanmoedig om “job hopping” te doen. Help my hier, asseblief?
Hierdie jaar, as ek weer op die Kerspartytjie gaan moet luister na hoe belangrik die maatskappy se mense na bewering vir die base is, gaan ek waaragtig vir my ‘n swart sak gryp en ‘n paar bottels brandewyn as ‘n doggy bag huis toe vat, want die Jirre weet, dis al bonus en verhoging wat ek gaan kry.

