Ons het elkeen mos maar 'n familielid wat altoos en gedurig van die pad af is. Wat om redes onbekend altyd verkies om die smalle weg te ontwyk. Ek het heelwat, nie omdat dit 'n genetiese afwyking is nie maar dalk omdat die voorsate gewoon net so baie klogoete had. Hoe meer daar is hoe makliker is dit mos maar om 'n hele spul te hê wat jou naam ook dra en wat jy gewens het eerder 'n wildvreemde ene moes hê. Neef J is een van hulle.
Het nie groot geword op 'n normale manier met "normale" huislike setup nie. Want die pa het na die vyfde kleintjie skaars kon loop die moeder uitgeskop en het die klogoete gevat en nuwe huis gebou. Vir moeder 'n huis laer straat af gekoop en haar beduie dat sy kan kom kos maak soos gewoonlik maar die klogoete moet hier bly en basta. Die mense sê dit was maar omdat sy van kleins af die bokwagter moes wees wat haar nederig en onderdruk gelaat het vir die res van haar lewe. Sy het nie die aanbod aanvaar nie en het maar 'n houman gevat wat eintlik haar eie bloedneef was en die twee is vort. Vir baie jare die land, of wel die Kaap deurkruis.
J en die ander klogoete het hard grootgeword. Wild is dalkies 'n beter woord? Selfs in destyds se terme was hulle lewe soms letterlik hel. Want die pa was feitlik nooit tuis nie, en as hy was moes die klogoete werk. Skool was iets wat die regime gebruik het om die nuwe generasie te indoktrineer. Hulle het dus basies op die Blou Dam se strande grootgeword. Nie om te lê en sonbruin nie, om te werk. Nette te trek, nette deur te swem, vis te vlek en dikwels, selfs gestuur om vis te loop aflewer al kon ta nie eens oor die stuurwiel kyk nie.
Dit was jare terug en neef J se pa was iewers by Greyville of waar een van sy perde gehardloop het. Langs die huis die splinternuwe Ford wat nog nie eens ingeloop was nie. Wat J besiel het om die bleddie bakkie te vat sal nugter alleen weet maar J is weg met die splinternuwe Ford. En hier annerkant naby die witkrans se draai is J en die Ford in een van die Robertsons se hoekpale in. J ongeskonde maar die Ford moer toe. Afgeskrywe soos die versekeraars sal beduie. Nie dat daar versekering was nie, want dit is ook iets uit die bose.
Wat gebeur het daarna is die reine waarheid en daar loop 'n hele paar mense wat dit onder enige eed sal getuig: Met die dringende terugroep is J eers goed onder hande geneem. Met 'n outydse waaierband. Freek beduie dat die mense hard moes keer want J was besig om vermoor te word. Freek beduie dat hy hard moes ingryp toe J se hanne op die kapblok vasgemaak is en die ou man die kapmes loop haal het, want vandag word J se hanne afgekap en dalk sal hy dan minder kak aanjaag as hy nie hanne hettie, die klein moer. Freek beduie dat hy later handgemeen moes raak met die ou man want almal weet as hy beduie dat hy gaan straf hy dit bedoel. Die hale op J se gat van nou die dag is nog nie eens besig om behoorlik te verkleur nie ...
Die mense is daar weg en oorle oom Sias het kom beduie dat ons moet kom kyk want daar’s al weer 'n lelike besigheid daar waar die spul wildes bly. J loop rond met vyeblare om sy kop gebind. Die mense het gevra hoe dan nou?
"Die klein bliksem wil mos nie hoor nie en ek mag mossie sy hanne afkap nie nou moet hy loop met die vyeblare. Die ou mense het mos gesê vyeblare laat jou beter luister ..."
J het vir 'n paar dae rondgeloop met vars vyeblare elke oggend om sy kop gebind. Hy lag vanmiddag saam oor die blare en al lag ons nou daaroor dink ek aan ou J en hoe hy nog steeds aan die verkeerde kant van die smal weg is en betrap word by die stopstrate want die breë weg is blykbaar vol stoppe. Hy was al soveel kere die gas van ons berugte staatsgastehuise dat hy volgens sommiges selfs 'n nommer het. Ek beduie hom dat daardie blare eintlik niks gehelp hettie want hy luister nou nog minder. Hy vra of ek 'n halwe brood kan afstaan want hy gaan nou gou Blou Dam toe want die water lê soos 'n tafel so plat. Ek gee hom 'n stuk kaas by die brood en hy is weg op sy fiets en ek weet dat die bloue wat ek hom agteraf gegee het in elk geval net 'n lollie gaan koop want 'n lollie is R70 en dan is dit nie eers regte tik nie. En hy gaan daai lollie rook in die skuiling wat hy hier langs Oesterland se kus iewers innie duine staangemaak het.
Iemand vra annerdag vir my hoeveel pakke my klogoete al gehad het en my Blom beduie dat sy nie so iets ken nie. Sy dink sy en haar boeta word in die grond in bederf. Want hule ken nie pak nie. Sy weet van eenkeer waar Oester kwaad was vir hulle en toe geraas het en gedreig het dat die pak binnekort op hande is. Sy beduie dat sy heimlik uitsien na daardie dag ...
oester

