Dagsê Angus
In jou laaste brief aan my oor jou taalsiklusstorie gee jy weer lang antwoorde op verkeerde aannames; jy skram weg van die basiese probleem. Ek weet nie of dit aspris is, rooiharingtaktiek dus, en of jy net nie mooi gelees het nie.
Byvoorbeeld, jy sê: " ... 'n woord wat ontleen is aan 'n ander taal ... word deel van die nuwe taal", so al asof ek sou beweer het dat dit nie die geval is nie. Ek het nooit so 'n bewering gemaak nie; ek het tog duidelik vir jou gesê daardie spesifieke sin is vol Engelse woorde, NIE leenwoorde nie. Die verskil tussen leenwoorde en vreemde woorde is selfverduidelikend; 'n leenwoord (hetsy ontleen aan Maleis, Engels, Duits of watter taal ookal) is deel van die taal maar vreemde woorde is nie deel van die taal nie, dit is woorde wat die taal besoedel of besmet (laat ek maar wegbly van 'kontamineer' af wat ek volgens jou nie reg gebruik nie).
Laat ek weer verduidelik: As Steve met Gert, wat geen kennis van Engels het nie, Afrikaans praat, sal Gert verstaan, ongeag of daar leenwoorde in die stuk gesproke teks is of nie want hierdie leenwoorde is reeds deel van Afrikaans.
Indien, egter, daar woorde in Steve se teks is wat Gert NIE verstaan nie juis omdat hy nie Engels ken nie, beteken dit daar is Engelse woorde in daardie teks. Steve se teks was dus besoedel met Engelse woorde. Een rede kan wees omdat Afrikaans Steve se tweede taal is en hy ken nie die regte Afrikaanse woorde nie. 'n Ander rede kan wees dat Steve net swak Afrikaans praat omdat hy in 'n Engelse omgewing bly en hy nie genoeg oefening in sy eie taal kry nie. Of so iets maar die feit is Steve se Afrikaans is vir Gert onherkenbaar besoedel.
Nog 'n voorbeeld waar jy dwaal en ek haal jou aan, "... as jy met jou Steve-Gert-storie wil te kenne gee dat Afrikaans ewe skielik slegter kommunikeer omdat Engelse woorde gebruik word, slaan jy die bal ver mis." In die eerste plek Angus, as jy Engelse woorde gebruik is dit nie Afrikaans nie; jy kommunikeer dus NIE in AFRIKAANS as jy Engelse woorde gebruik nie. En natuurlik KOMMUNIKEER jy glad nie as jy woorde gebruik wat die ander ou nie verstaan nie, dis mos nou logies.
Jou storie dat jy wonder waar Gert opgesluit was dat hy nie Engels kan verstaan nie kelder jou hele betoog want jy erken daarmee Gert MOET Engels ken om Steve te verstaan. Dit is juis wat ek vir jou sê; Steve se teks bevat Engelse, met ander woorde VREEMDE woorde en dit sluit nie leenwoorde in nie want soos jy weet leenwoorde, aan watter taal ook ontleen, is deel van die taal, in hierdie geval Afrikaans. En soos jy self ook sê, wat geld vir Afrikaans geld vir alle tale; as Wlodek se Pools met soveel Armeense woorde deurspek is dat mede-Pool Igor hom nie verstaan nie, omdat Igor nie Armeens ken nie, beteken dit dat Wlodek se Pools besoedel is met Armeens. Is dit so moeilik om te verstaan?
Met jou Adam-en-Eva-storie skiet jy nou weer heeltemal middelpuntvlietend weg: Waar kom jy nou aan dat die Bybelverhaal my model was? Ek het vir jou gesê dat die verwaarlosing van taal 'n beter (eenvoudiger, dus Occam se lem) model vir die moderner eenvoudige grammatika is as die idee dat taal eenvoudig begin, toeneem wat grammatikale ingewikkeldheid betref en dan weer, weens "ekonomie en suinigheid" vereenvoudig.
Miskien is dit nie 'n eenvoudiger model nie en ek sal graag wil dat jy verduidelik hoekom nie want, toegegee, die een moontlikheid wat ek gee naamlik dat ons eintlik aardsvreemde wesens is, is hoogs onwaarskynlik. Jou 'model' om hierdie, sê maar absurde, teorie te weerlê hou nie water nie want jy verduidelik niks, jy beskryf net. En terloops, my verwysing na Adam en Eva se Afrikaans was maar net 'n grappie, weliswaar flou maar tog. Ek sal maar grappies vermy want dit krap jou gedagtes blykbaar heeltemal deurmekaar want toe kom jy nou met die hopie grond en die slang en so aan, heeltemal irrelevant tot hierdie bespreking.
So, om op te som: Daar is mense wat Afrikaans besoedel met Engelse woorde en dit het met leenwoorde net mooi niks uit te make nie.
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Beste Jan,
Groete
Hallo Angus
Jy maak weer 'n hele paar foute omdat jy nie mooi dink voor jy praat nie, of jy lees nie mooi nie.
In die eerste plek, natuurlik sal Gert verstaan as daar leenwoorde voorkom. Jy van alle mense, wat selfs dink 'n Engelse woord WORD Afrikaans as hy in Afrikaanse teks gebruik word, behoort te weet 'n leenwoord, hetsy uit Frans, Grieks of Engels, IS mos Afrikaans (touché, establishment ens).
Jou tweede fout is dat jy dink dat alle woorde van Romaanse oorsprong via Engels kom en dat sodanige woorde dan leenwoorde is. Dit is nie so nie; jy sal moet gaan seker maak wat 'n leenwoord is. Terloops, ons woord 'venster' is van Romaanse oorsprong waar die Engelse woord 'window' van 'wind ooghe' afkomstig is, ooglopend Germaanse oorsprong.
Jou derde fout is dat daar nie een leenwoord in jou sin is nie. 'Konklusie' in plaas van 'gevolgtrekking' is maar net slordige taalgebruik, soos byvoorbeeld 'informasie' in plaas van 'inligting', 'gedetermineerd' in plaas van 'vasberade', 'intensie' in plaas van 'bedoeling' ens ens.
Fout 4 is dat Steve nie sou gesé het 'daaruit' nie; hy sou gesê het 'uit dit'.
Mooi dag vir jou
Jan Rap
Hi Jan, is daar 'n verskil tussen 'n haring en 'n harder? Het net nog altyd gewonder. Groete
Beste Jan,