Beste Jan,
Grammatika van ’n taal is deskriptief, en dit is ’n basiese beginsel van die linguistiek. Die taalkundige kan alleenlik ’n taal wat hy bestudeer, ontleed, en dit dan met taalreëls omskryf. Duits het bv. vier naamvalle. Geen taalkundige het gaan sit en vier naamvalle vir Duits ontwerp en gesê: “Duitsers, julle moet vier naamvalle gebruik as julle praat of skryf” nie. Grammatika is nie die taal nie, dis die organisasie van daardie taal, en dis hierdie organisasie wat linguiste bestudeer en dan beskryf. Grammatika organiseer die woorddele, bepaal die vorm daarvan en dui die sinsposisies van woorde aan.
Dis maar eers in die moderne tyd dat linguiste besef dat, om taal te verstaan, dit noodsaaklik is om sintaksis te bestudeer. Hulle het ook begin besef dat taal ’n psigologiese verskynsel is en daarom nie net behavioristies bestudeer kan word nie. Die nuwe generasie linguiste wat seker met Chomsky begin het, bestudeer generatiewe grammatika.
Om generatiewe grammatika te verstaan, is heel maklik as ’n mens by die spreekwoordelike moedersknie begin. Elke kind het alreeds daardie ingebore taalvermoë (dieptestruktuur van taal). Eerstens leer die kind eenvoudige woordjies, miskien sinnetjies, en so leer hy onbewus hoe die woorde georganiseer word, (die oppervlaktestruktuur). Sy woordeskat brei uit en dis al! Nou kan hy sy eie taal genereer. Hy leer nie elke liewe sin wat hy kan sê, by sy ma nie. Hierdie vermoë van die mens om taal te genereer, kan getoets word. Gaan biblioteek toe. Neem enige boek van die rak af, en maak dit by enige bladsy oop. Neem die eerste sin wat jy sien, skryf dit af, en soek nou deur al die ander boeke of jy dieselfde sin kan kry. Elke groep woorde wat sin maak, is uniek, want dit is telkens opnuut gegenereer.
As iemand die organisasie van Engels baasgeraak het, en hy ken die woordeskat van daardie taal, sal hy vir seker nie sê: “I are much hungry” nie. (Tensy hy wil snaaks wees.) ’n Chinees wat nie die organisasie van Engels baasgeraak het nie, mag dalk so praat, en dan kan hy reggehelp word deur grammatikareëls preskriptief toe te pas. (Soos ek verduidelik het in my vorige brief. Volwassenes gebruik taalreëls preskriptief om ’n nuwe taal aan te leer.) Linguiste wat ’n taal bestudeer, kan onmoontlik taalreëls gaan maak en die sprekers beveel om so te praat. Hulle kan alleenlik beskryf wat hulle in die taal sien.
Gebeur dit wel dat ’n groep mense sê “I are much hungry”, dan sal linguiste hierdie afwyking taalkundig moet beskryf, net soos linguiste afwykings in Afrikaans van Nederlands beskryf. Dink maar daaraan dat ons in Afrikaans nie meer “wij” het nie, maar die, vir Nederlands, ongrammatikale “ons”. In Afrikaans is “ons” in die onderwerpsposisie weer deur linguiste as grammatikaal beskryf nadat Afrikaanssprekendes vir ’n lang tyd uitgeskel is weens hulle slordige, ongrammatikale taal.
Jou definisie van ’n leenwoord is gebaseer gedeeltelik op persoonlike smaak en gedeeltelik op onkunde, nie op linguistiese beginsels nie. (Jy beweer: 'n Leenwoord sal ingeburger wees in die taal en nie uitstaan soos 'n bosluis op 'n bees...ooglid nie. Hy sal ook nie 'n bestaande woord vervang nie;) Wie bepaal dat ’n woord soos ’n bosluis uitstaan of nie? Jan Rap? ’n Taalkommissie? Angus? Adam Small? Hy het tog immers al die Hertzogprys verower met Kitaar my kruis. Gaan lees dit ‘n bietjie, en kyk hoeveel van jou bosluise daarin is.
Dit berus ook op onkunde oor hoe taal werk. Geen vreemde woord sal ’n Afrikaanse kan vervang as die twee woorde presiese sinonieme is nie. As daar egter ’n klein verskilletjie is, sê bv ’n gevoelsverskil, dan sal die vreemde woorde gebruik word, alhoewel hulle tog nog gedeeltelik sinonieme is. (let op, ek is nie voorskriftelik nie; ek beskryf wat in werklikheid in Afrikaans gebeur.) Daar is duisende sulke voorbeelde in Afrikaans: eleksie x verkiesing, harmonie x samewerking, chaos x verwarring, forseer x dwing, horison x gesigseinder, chirurg x snydokter, brosjure x vlugskrif, fisika x natuurkunde, diskussie x bespreking. Laat weet as jy nog voorbeelde soek.
Geen taal is vuil nie, selfs nie wat as vuiltaal beskou word nie. Tale kan mekaar dus nie bevuil of besoedel nie. Die woord “kontaminasie” word in taalkunde gebruik vir ’n sekere tipe woordskepping. (Vieslike woorde soos gatlekwoorde sal egter beslis nie deur Linguistiek as ’n tegniese term opgeneem word nie.)
My “wanbegrip” van wat leenwoorde is, is nie eens myne nie. Dit is gebaseer op beskrywing van ander linguiste, soos bv. Ronald Langacker, Francis Dineen, Noam Chomsky, Peter Denes, William Samarin, John Waterman, Winfired Lehman, en nog vele ander. As hierdie mense “’n wanbegrip van leenwoorde “ het, dan het ek ook seker. Jou begrip van leenwoorde is seker wat jy self uitgedink het hoe dit moet wees. Of miskien het jy ’n skoolgrammatikaboek wat geskryf is deur een of ander taalpuris, wat kinders “suiwer Afrikaans” wil leer, beetgekry. Ek verbeel my amper Die Lewende Taal vir standerds 6, 7, en 8 het presies jou beskouing oor leenwoorde, nl dat ’n leenwoord “ingeburger” moet wees, en “nie ’n bestaande woord moet vervang nie.” Dis mos pure twak; as jy ’n ding leen dan leen jy hom, finish en klaar. Al wat die linguis nou kan doen is, hy kan beskryf hoe daardie nuwe leenwoord in die nuwe taal funksioneer; word die leenwoord netso gebruik sonder stamverandering, of ondergaan hy morfologiese veranderings. Hy mag nie nou sy eie smake en fobies op die taal wil afdwing nie!
Ek wil net graag ’n regstelling maak op Ontlening soos in my vorige brief. Ontlening bestaan uit leenwoorde (maw woorde wat feitlik net so sonder stamverandering oorgeneem word, en leentranslasie, of dan leenafleiding. Ek het, myns insiens, laasgenoemde verkeerdelik “leenvertaling” genoem. Dit het niks met vertaling van een na ’n ander taal te make nie; die Engelse loan translation dui op morfologiese veranderinge. Daarom verkies ek “leenafleiding”.
Wat jou Steve-Gert allegorie betref: Jou storie maak nie sin nie. As twee mense wat verskillende tale praat, met mekaar wil kommunikeer, dan sal hulle ’n weg vind. Ek was al in Italië en Griekeland en het goed oor die weg gekom alhoewel ek feitlik geen Italiaans of Grieks ken nie. Ek kan sien jy weet niks van ’n Griek se kafee nie. As Gert hom nie verstaan nie, sal hy niks verkoop nie en honger ly. Ek het nog nooit ’n honger Griek in Suid-Afrika gesien nie. Die enigste rede waarom Gert sal honger ly, is as hy nie geld het om te betaal nie, nie omdat hy nie Grieks verstaan nie.
Jy is darem pessimisties wat Afrikaans se toekoms betref. As jy dink dit wat jy as besoedeling beskou laat ’n taal uitsterf, dan het ek slegte nuus vir jou, Jy praat lankal nie meer Afrikaans nie; dis ’n besoedelde taal wat jy praat, nie die Afrikaans van die Genootschap van Regte Afrikanders nie.
Net een vragie; dink jy Engels sal ook uitsterf? Ek meen, dit word darem regdeur die wêreld besoedel met vreemde woorde van vreemde tale – seker duisend keer erger as wat dit met Afrikaans die geval is.
Dit sal darem ’n wêreldramp afgee as Engels moet verdwyn; as Afrikaans verdwyn, sal dit nie soveel saak maak nie. Die meeste aardbewoners sal nie eens daarvan weet nie.
Jou vingertrekkery sal nie help om die ou sakie te red nie. As ’n taal nie meer bruikbaar is nie, nie meer die nodige woordeskat het nie, dan sterf hy uit, maak nie saak wat jy trek nie.
Groete,
Angus


Kommentaar
My hel, wat 'n les! Net te veel - ek dink ek gaan liewer koekversiering opneem, aanneem, begin afneem, bestudeer. Ek is so bly ek is uit die taalmilieu. Die lewe het net vir my ligter geword daardeur. Ek kom toe agter wiskunde is interessanter - weet jy? Een van my kinders gee toe vir my 'n boek genaamd Basic maths en sê ek moet elke dag so 3 bladsye daaruit leer, en daar is dit toe vir my so lekker. Ek onthou toe van die goed op skool en ek sien 'n nuwe wêreld oopgaan en almal (my anderstalige vriende ook) verstaan hierdie taal.