My Naweekkind

  • 1

My Naweekkind

Jy was maar omtrent 4 jaar oud toe ek weer getrou het. Dit was 'n intense tyd vir ons albei, en ons moes aanpassings maak. Maar ons was albei nog jonk, en kon dit hanteer.

Dit was hartseer dat die huwelik tussen my en jou ma nie wou uitwerk nie. Maar die groter tragedie, het ek later vir jou ma gesê, sou wees as die egskeiding misluk. Ons moes bly kommunikeer en van die egskeiding 'n reusesukses maak. Vir geen ander rede as eenvoudig ... net jy nie.

Jou naweek-kuiertjies het ons propvol pret gepak. Ons het daardie tyd in Sunnyside in 'n woonstel gebly, en het geen ander verantwoordelikhede gehad nie. Dit was eintlik so 'n ongekompliseerde tyd gewees.

Toe jou ma en Oom Han trou en Pietersburg toe trek, moes ons die kuiertjies mooi beplan. Oom Han was ook voorheen getroud, en sy dogtertjie, net so oud soos jy, het weer hier in Pretoria gebly.

Die reëlings was eenvoudig: Ek tel Lunétjie by haar ma in Kilnerpark op, en ontmoet jou en Oom Han in Naboomspruit. Daar by die Wimpy drink ons koffie, doen die custody exchange en ry weer terug.

In die motor het dit vrolik gegaan. Jou gunsteling liedjie het jy uit volle bors gesing. “Ek kan doen met mirreljoen!” Ons het luid saamgesing en saamgelag. Jou sêgoed het met selfvertroue uitgekom, al het jy partymaal nie mooi gehoor waaroor dit gaan nie. “You're faratense. Vat 'n Valium!” Ons het gelê soos ons lag.

Vrydagaand het jy en Sanet sommer saam-saam in die bad geklim, en ek kon hoor hoe julle daar giggel en lag. Jy het haar net 'Sanet' genoem. Nooit nie 'tannie' nie. Dis mos hoe vriende dit doen! Sy het jou weer haar “Stiefie-Liefie” genoem, amper soos Liefie, jou pop.

Bedtyd was ook storietyd.

Ek het op die bed se rand gesit en dan gemaak of ek 'n storie uit my linkerduim uit suig, hom vasbyt, uittrêêêêk en 'n bietjie aan hom kou. Partymaal het ek hom kamstig uitgespoeg as dit nie 'n mooi genoeg storie was nie, en weer begin. Eintlik het ek net tyd gekoop, want ek moes kliphard dink om nou 'n storie op te maak vir jou. Dan, met 'n idee in my kop, het ek die storie begin vertel.

Jou gesigsuitdrukkings was iets om te aanskou. Ek kon net sowel in 'n spieël kyk. As ek my oë rek, het jou oë gerek. As my oë op skrefies gaan, doen joune dieselfde. Jy het jou ten volle ingeleef in elke storie, en dan behaaglik gesug wanneer dit op 'n einde kom.

Een aand het jy aangedring daarop dat die storie uit my regterduim moes kom, nie my linkerduim nie.

“Maar Diani, dis waar rekenaarprogramme sit! Ek suig programme uit my regterduim uit, en stories uit my linkerduim”, het ek probeer verduidelik.

Jy het nie daarvoor geval nie. Ek moes eenvoudig 'n storie uit my regterduim suig.

Dié storie het ek toe gekry. 'n Rekenaar-storie oor Japie, die IBM compatible computer. Wat Japie alles oorgekom het met sy dom, blonde gebruiker, kan ek vandag nie meer onthou nie. Wat ek wel onthou is dat jy “IBM compatible computer” kon sê nog voor jy 5 jaar oud was.

Om jou te laat slaap was so maklik.

Jou ouma het 'n sagte flennie kombersie wat gans te groot was in die middel deurgesny en omsoom. Teen slaaptyd sou jy letterlik enige plek aan die slaap kon raak as jy jou 'bersie' in jou handjie kon hou, en dan dieselfde hand se duim kon suig. Partymaal het jy op die bank voor die TV gelê, ander kere sommer op die harde klipvloer, of al in jou bed.

'n Krisis kon ontstaan as ons nie jou 'bersie' kon kry nie. Dan was ons in die moeilikheid. Maar jou ma het darem altyd 'n spaar een ook ingepak. Ek sou wraggies Pietersburg toe gery het net om een te gaan haal, maar dit was darem nooit nodig nie.

Saterdae het ons vroeg opgestaan, vinnig ontbyt geëet en jou niggie Yolande gaan haal. “My liggie Yolande!”, het jy gesê. Sy was op die kop vier jaar ouer as jy. Julle verjaar saam op 16 Oktober, en ons het party jare sommer saam partytjie gehou.

Saterdagoggende het ons soms Dieretuin toe gegaan. Partymaal Pretoria s'n, ander kere die een by die Hartebeespoortdam. Dan het ons ook sommer met die kabelkarretjie gery. Teen die middag was ons almal stokflou. Saterdagaand moes ek weer 'n storie uit my duim suig.

Een naweek, onthou ek, het ek 'n vervolgverhaal die Vrydagaand begin vertel, en die Saterdagaand klaargemaak. Die probleem het ingekom as jy dieselfde storie 'n tweede keer wou hoor. Ek kon dit gewoonlik nie onthou nie, en jy kon dit nie vergeet nie. Jy het my die hele tyd gekorrigeer, en ek durf nie van die storielyn afgewyk het nie.

Sondae-oggende het ons jou in jou Sondagbeste aangetrek. Met 'n deftige rokkie en blink skoene het jy by die kerk aangekom, en jy het jou aan die groot gebou en baie mense verwonder. Tydens die diens het jy met jou bersie in die hand en duim in die mond onder die stoele aan die slaap geraak.

Die lekkerste was dat Oupa Tienie en Ouma Adna ook daar was, en ons het na die tyd by hulle gaan teedrink en kuier.

Na middagete het ons almal stiller geraak. Die tyd vir jou terugkeer het aangebreek, en ons was almal hartseer. Ons het jou tassie gepak, 'n los bersie in die motor gesit sodat jy op die agtersitplek aan die slaap kon raak.

By die Wimpy op Naboomspruit het Oom Han en Luné net so bek-af soos ons gelyk. Na 'n koffie vir ons, en melkskommel vir julle, het ons gegroet. Die eerste paar kere het jy en Luné gehuil, en ek en Oom Han het braaf probeer lyk, maar ook ons trane afgevee. Ons het julle dan getroos daarmee dat ons weer oor twee weke sal saamkuier. Eintlik het ons net onsself getroos.

Ek kon nie wag vir die twee weke om verby te gaan nie, want my Naweekkind kon dan weer kom kuier!

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top