Dis Vryheidsdag vandag, en hier op die dam wat ek swem, hier Noord van die Boereworsgordyn in Pretoria, is die oppervlakte redelik glad, en die atmosfeer heel rustig. Die rippels in die water is min, selfs al is dit nou so vlak voor die verkiesing.
Maar is dit ’n valse vrede? Ons het sedert 1994 al maalkolke gehad hier. Moord, roof en polisie wat so vrot skiet dat ek en Liewe Sannie in 1996 amper bokveld toe was as gevolg van hulle.
My dam se eende, asook die swart swane wat sedert 1994 hier op die dam kom land het, lewe in vrede met mekaar. Die gewoel is nie hier by ons nie. Ons lees daarvan in die koerante, en kry die nuus op die televisiekanale.
Malema wil die tolhekke afbreek, en indien ons land enige beskaafde regstelsel toegepas het, was ons president sekerlik weer in die tronk. Nie weer as politieke gevangene nie, maar as ’n krimineel. Die Jeugliga is al weer bankrot, en betaal nie die Gallagher Konferensiesentrum nie. Hulle vier hulle vryheid, maar neem nie hulle verantwoordelikhede ernstig op nie.
Maar nie hier op ons dam nie.
In die week gesels my Liewe Sannie mos met ’n man by Woolworths. ’n Swart swaan. Sommer oor die weer, die lang toue, en wat nog. Later by die Spar het sy nog so ’n geselsie aangeknoop. Sy sê na die tyd: “As dit net van die gemeenskap afhang, lewe ons almal in vrede met mekaar. Dit net die politici wat alles so deurmekaarkrap!”
Op my dam is daar vrede.
Ook nou na die baie reën in Maart. Ons groot pad hieronder was altyd bekend gewees as Zambeziweg. As ek vir hom 'n nuwe naam kon gee, was dit Slaggatweg. Nou is dit egter Sefako Makgathoweg. Dit lyk my nou dat ons vir Sefako hier het, is daar minder probleme met slaggate, want Sefako MaakGatToe! 'n Week na die groot reëns was alles weer reg.
Vanaand het Raymond Dye van Groot FM my geskakel en gevra wat my opinie is oor die Vryheid wat ’n Christen vandag in Suid-Afrika ervaar. Hy het my net 20 minute voor die tyd gewaarsku dat ons op die lug gaan wees met hierdie vraag, en ek moes vinnig op my voete dink.
“Raymond, die Woord sê dat as die Seun jou vrygemaak het, is jy waarlik vry,” het ek begin.
“Maar is alle Christene dan vry?” was sy teenvraag. Dis sy manier om 'n goeie gesprek aan die gang te kry. Hy laat my altyd sweet.
“Hebreërs 12:2 sê dat ons ons oë op Christus, die Begin en die Einde van ons geloof moet hou. Sekerlik is ons nie dadelik vry nie. Daar is 'n proses tussen die “Begin” en die “Einde”. Ons het almal ons bagasie, en moet werk daaraan om daarvan ontslae te raak.”
Radiogesprekke is nooit lank nie, en Raymond het voortgegaan met sy Vryheidsdagprogram. Ek het gaan sit en top oor ons gesprek.
Hoe vry is ons eende (en die swane) regtig op hierdie dam? Lewe ek dalk in 'n gekkeparadys?
Sekerlik het ons almal ons probleme. Die ekonomie druk almal swaar. Die lewenstyl waarmee ek grootgeword het, en wat daardie tyd maklik haalbaar was, is nou baie anders. Die gaping tussen ryk en arm is baie groter.
As kind in Muckleneuk het ek die wit boemelaars gefassineerd dopgehou by die Barclayplein-winkelsentrum. Dit was 'n rare verskynsel. Vandag is daar wit plakkerskampe wat jou hart breek as jy hulle swaarkry waarneem.
Daar was 'n tyd toe ek ook 'n ander dam oorweeg het. Soos die dag in 2008 toe hulle my plaasbakkie gesteel het.
My broer is jare reeds in Europa, en ek het lankal al opgehou om die Suid-Afrikaanse eende op die Europese/Kanadese/Australiaanse damme van 'n Chicken Run te beskuldig. Dis nie net die Suid-Afrikaanse eende wat in ander lande gaan broei nie. Die hele wêreld word 'n Global Village, en alle lande sit met hulle immigrante. London het 8 miljoen inwoners, waarvan 2 miljoen in die buiteland gebore is.
Ek hou van my dam se eende. Ek het vrede hier op my broeiplek. Ek is nou hier, en ek maak nou die beste van dit wat ek het. Sou ek na 'n ander dam moet oorvlieg, sal ek daar ook vrede ervaar. Die rede is eenvoudig: Vrede lê nie in die dam nie. Dit hang ook nie af van die ander eende, swane, paddas en krokodille nie.
Vrede of onvrede sit in die eend se hart, en hierdie eend het vrede.
Sandvelder


Kommentaar
Daar was 'n stadium in my lewe dat ek ook vlerke wou klap na ander damme toe. Gelukkig is ek daarvan genees. Op 'n stadium is daar erg aan ons bos gekap. Familie is op plaasmoorde afgemaai en was ek redelik moerig. Daar was ander krapperighede ook. Ek het op 'n dag besluit, se moer, ek bly net hier en irriteer die wit waks uit die manne wat ons wil verwilder. Ek het ook 'n gesindheid en mentaliteitsveranderings besluit geneem. Ek wil nie daarmee te kenne gee dat ek tou opgegooi het nie, ek staan en dring aan op my regte. Ek voorsien nie dat ek in die nabye toekoms sal uitwyk vreemde lande toe nie.
Sandvelder
... en hierdie vrede is 'n vrede bo die menslike verstand of gedagte. Jy praat waar: neerslagtigheid en vrees of vrede en geloof - dit word in die hart aangetref.