Max is die bliksem in

  • 12

Max du Preez het met een of ander skrywe van hom vir Jacob Zuma redelik ontstig, tot so’n mate dat Zuma Max blykbaar ‘n rassis noem.

Ek weet nie wat Max alles gesê het nie maar ek kan kwalik glo dat Max iets rassisties sou kwytraak. Max is nie rassisties nie nee, hy’s suur. Hy is suur omdat alles wat die ‘dom regses’ toe voorspel het presies so uitgespeel het. Dit gaan nou so sleg dat selfs Max dit nie meer kan goedpraat nie (dit lyk my Piet Croukamp kan nog maar ek weet nie vir hoe lank nie) en arme Zuma, alhoewel ook een van die belhamels (soos Mandela, Mbeki en Motlanthe) is nou die sondebok.

Max probeer voorgee dat die verval net aan Zuma toe te skryf is; hy moet die verval wat ‘n aanvang geneem het met die Mandelabewind (eintlik met die liberale besetting deur die Kaap van die Transvaal en Vrystaat so in die 70’s) ignoreer want hy was een van die voorbokke wat dit betref. Hy het hom beywer vir hierdie bedeling en nou dat dit hier is, en die agteruitgang plaasvind presies soos voorspel was deur die sogenaamde verkramptes, nou moet arme Zuma dit ontgeld.

So, Max is die bliksem in maar eintlik is hy die bliksem in vir die lat wat hy vir sy eie gat gepluk het, en die bed en die perd wat hy respektiewelik self opgemaak en opgesaal het en sy vingers wat hy besig is om te verbrand maar, eerder as om die morele moed aan die dag te lê en te erken hy’t opgef#k, verguis hy Zuma.

Jan Rap

  • 12

Kommentaar

  • Mooi gestel Jan. Daar is niemand so die moer in as iemand wat vir homself die moer in is nie. Gewoonlik moet die persoon nadat hy almal en alles om hom blameer het op sy gat gaan sit en teruggaan op sy woorde en dade. Dit is 100% seker alles sal op homself dui. 'n Hond keer altyd terug na sy braaksel. Dit geld nie net vir Maximilion du Pré nie maar ook vir Jacob Regop. Die ander latte van wie jy praat ploeter nog lekker voort. 

  • George Bekker

    Jan Rap, ek dink nie Max du Preez is die bliksem in nie. Hy juig oor sy oorwinning.

    Max du Preez is 'n rubriekskrywer vir die Independent-koerante, waar hy in Engels skryf. Jy sal hou van wat hy aan die einde van verlede jaar reggekry het, al is julle nie vriende nie. Veral Jacob se persoonlike aanval op Max moes soos manna uit die hemel gekom het, want dit verhoog Max se prestige. Terwyl die berig van 31 Desember op Netwerk24 kort en kragtig is haal ek dit aan (het waarskynlik op papier in Beeld verskyn).

    Opskrif: Jacob Zuma woedend ná hy slae kry. Hy rig erge skade aan, sê Du Preez

    Pres. Jacob Zuma het Dinsdag woedend gereageer op ’n rubriek waarin Max du Preez hom kritiseer oor die “skade” wat hy aan Suid-Afrika en die land se sleutelinstellings aangerig het.

    Dié veteraanjoernalis en skrywer het in die rubriek, wat Dinsdag op Facebook en deur die Independent-koerantgroep gepubliseer is, gesê Zuma is ’n “one-man wrecking ball” en dit sal jare duur om die skade te herstel, “selfs al doen hy vandag afstand van sy amp”.

    “Klink dit ’n bietjie wreed? “

    Wel, ek dink nie die ernstige skade wat die president ons politieke kultuur en sleutelinstellings aangedoen het, verdien ’n sagter veroordeling nie.” Die enigste talent wat Zuma geopenbaar het, is dié van “ ’n politieke straatbakleier en manipuleerder”, het hy geskryf. Onder Zuma se leierskap het “tenderpreneurskap gedy en korrupsie opgeskiet met byna geen gevolge vir oortreders nie”. Du Preez skryf dat Zuma:
    ? Vir die parlement gelieg het oor Nkandla en sy party gedwing het om namens hom te lieg;
    ? Blatant in die strafregstelsel inmeng;
    ? ’n Kultuur van vrees in die ANC kweek; en
    ? In die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), die Valke, die SAUK, die nasionale vervolgingsgesag en die polisie inmeng. Zuma se kantoor het in ’n bitsige verklaring gesê die manier waarop Du Preez die president beskryf, “spreek van vooroordeel en rassisme”.

    Nou ja, ons weet Jan Rap klou aan sy standpunte, maar hier is stof om hom te laat nadink.

  • George B

    Ten minste jy het iets hierbo interessants gemaak wat Jan met sy afgesaagde treur-liedere net "boring" laat voorkom.

  • Jy vertolk my standpunt (waaraan ek nou so sou klou) verkeerd George; ek tree nie in die bresse vir Zuma nie, ek sê Max maak van Zuma 'n sondebok want hy sien nie kans om te erken die verval het al met Mandela begin nie.
    So op 'n punt van orde, dis nie die eerste keer dat jy beweer ek klou aan sekere standpunte nie.  Ek sal bly wees as jy 'n paar van hulle kan uitwys.  Nie almal nie, net een of twee, voor jy nou sê daar's te veel en dan geeneen noem nie.

  • George Bekker

    Jan Rap, my bedoeling was om 'n interessante perspektief op die huidige Max te gee en nie soseer om jou te antwoord nie. Vir my is dit vermoeiend om jou briewe te lees en ek sal gevolglik nie op jou versoek reageer nie. Jammer.

  • Moenie liggeraak wees nie George.  Jy gee " ... stof om oor na te dink ..." en na ek nagedink het en jou daarvan vertel sê jy nie of ek verkeerd nagedink het, of jou brief verkeerd vertolk het nie; niks, jy sê net jy gaan nie op my versoek reageer nie.  Buitendien, jy's nou klaar deur my 'vermoeiende' brief, ek vra jou net om jou bewerings te staaf.

    Jaco, jou kommentaar is vir my 'n riem oder die hart, nie oor jy sê my brief was vervelig nie maar oor jy saamstem want jy weerlê niks.

  • Jan

    Weerleggings is tot vervelens deur myself en ander in die verlede aan jou weergee.  Om 'n herhaling daarvan te wil weergegee elke keer wat jy dieselfde deuntjie sing, is geensins tot stigting nie.

    Max ten minste poog nie om 'n aanhang te probeer bekom soos jou Rooi Daantjie nie (hoe meer aanhangers, hoe meer ledegeld!).  Ek stem gewoonlik nie met Max saam nie, glad nie met Rooi Daantjie nie.

    Rooi Daantjie het blykbaar van sy diensplig gevlug.  In sy jong dae was hy liberaal soos die Black Sash.  Intussen het vele Afrikaners van sy ouderdom in Angola gesneuwel.  Eers met sy terugkeer na SA het hy skielik verregs geword.  Ironies dat jy nie op Rooi Daantjie se verlede en sondes gedurig hammer soos jy so graag met Max doen nie.

    Jy teiken gereeld vir Max met dieselfde verwronge deuntjie dat hy vir die huidige bedeling gestem het.  Nie waar nie.  Die huidige gemors het hy  nie voor gestem nie. Ek, hy en vele het vir demokrasie gestem.  Selfs die meerderheid van jou verkramptes van die vorige bedeling is oorgehaal om in die demokratiese bedeling deel te neem, bewyse van DA stemme onder Afrikaners wat ooglopend jou vorige  verkrampte maatjies insluit.

    Nou Jan.  Ek haal my hoed af vir jou strewes vir die suiwerheid vir die Afrikaanse taal.  Ek kan ook jou en ander se reg op verregse sieninge aanvaar.  Maar ten minste wend dit produktief aan eerder as soos tans, 'n futiele gesanik oor die verlede, 'n gesanik oor Max, FW en ander wat jy ooglopend verfoei.

  • Jaco

    Kom ek behandel jou brief paragraaf vir paragraaf:

    Jy kon nie vele weerleggings in hierdie verband gegee het nie want ek het nie vele kere geskryf oor Max wat die bliksem in is nie.

    Max het met Vrye Weekblad dieselfde probeer doen; hoe meer lesers hoe meer intekenare en hoe meer adverteerders en dus hoe meer geld.

    Dan het diensplig vermy omdat hy nie saam met die destydse regering gestem het, onthou hy was liberaal soos jy aan my uitwys.  Hy het intussen besef hy was verkeerd.  Max was ook destyds liberaal soos hy nou nog is en, omdat hy nou besef hy is en was verkeerd, is hy de bliksem in en haal dit op Zuma uit.

    Ek teiken nie vir Max nie; ek lewer kommentaar elke keer as hy sy voet in sy mond sit.  Net soos dit Max se reg is om Zuma, Verwoerd, De Klerk, Dan Roodt, Steve Hofmeyr ens te kritiseer, is dit my reg om Max te kritiseer; hy's nie 'n heilige koei nie.  En nie alleen het Max vir die huidige gemors gestem nie; hy het homself beywer daarvoor en, weens die gebrek aan morele moed om te erken hy was aandadig aan hierdie sirkus, is hy nou de bliksem in en projekteer al sy frustrasie op Zuma. Jy reken jy, hy en vele het vir demokrasie gestem.  Wel, kennelik het jy, hy en vele nie die vaagste benul wat demokrasie is nie.

    Ek het al voorheen gesê ek is nie 'n taalpuris of taalbul of wat julle dit ookal noem nie.  Ek is teen die uitdruk van Afrikaans deur Engels, vgl die verandering van straat- en plekname, die afwesigheid van Afrikaans in die openbare lewe, die heksejag op Afrikaans ens ens.  Dit het met taalsuiwerheid weinig te doen en in die opsig is ek niks anders as die gemiddelde Engelsman, Pool, Fransman of Duitser nie.  Ek sanik nie oor die verlede nie, Zuma sanik oor die verlede (tot selfs by Jan van Riebeeck). Max sanik oor die verlede, net nou die dag weer het ek gehoor hy vertel hoe sleg apartheid was.

    Terloops: Dan Roodt is nie ver regs nie, net so min as wat Max ver links is.  Dan is regs en Max is links wat betref die politieke spektrum.  Ek verfoei ook nie De Klerk nie; ek het al hier gesê die moontlikheid is daar dat die man aan die kortes beetgehad is.  Wat ek wel verfoei is die menings wat tot hierdie gemors gelei het.

  • Jan

    Max is liberaal links.  AfriForum is konserwatief regs, Rooi Daantjie is verregs, nl die kantlyn van Afrikanerpolitiek.

    Jy het verseg om te noem hoe jy verregse politiek produktief kan aanwend.

  • Ja-nee, soos ek vir jou gesê het Jaco, Zuma kry nou die skuld vir alles wat sedert Mandela se bewind (eintlik al 'n rukkie voor die vrylating van Govan Mbeki) verkeerd gegaan het.  En die 'dom' regses het dit voorspel, nie omdat hulle met die helm gebore is nie, maar omdat hulle, soos almal, kon sien wat in die res van die 'bevryde' lande in Afrika gebeur het.  Al verskil is die dom regses het openlik gesê die keiser is kaal terwyl die ander sy wonderlike klere besing het (en nou nog besing).

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top