Langsame tale dra meer inhoud oor

  • 2

Die Germaanse tale wat ‘stadiger tale’ is as die Romaanse tale soos Spaans en Frans het een groot voordeel: dit dra meer inligting oor in minder tyd! Wie sou dit nou kon dink?

Spanjaarde praat vinniger as Duitsers. Hulle bemeester agt lettergrepe per sekonde terwyl Duitsers net ses haal. Ten spyte daarvan het Spanjaarde kwalik meer gesê in dieselfde tyd. Dit is die gevolgtrekking van ’n studie wat onderneem is deur taalkundiges van die Universiteit van Lyon in Frankryk. Die resultate van hulle studie is onlangs gepubliseer in die tydskrif “Language”.

Die navorsers het 59 toetspersone verskillende kort tekste laat lees in hulle onderskeie moedertale. Hulle het vasgestel dat Spanjaarde, Franse en Japannese almal vinniger praat as Duitsers of Chinese, maar om dieselfde inhoud weer te gee, moes die snel-praters ’n langer teks voorlees.

Volgens Francois Pellegrino wat die studie gelei het, het die verskillende tale onderskeidelik meer of minder woorde nodig om dieselfde inligting oor te dra.

Hulle het ’n interessante verskynsel ontdek: hoe vinniger ’n taal gepraat word, hoe minder inligting dra dit oor. Duits is uiters langsaam, maar is onslaanbaar as dit kom by die effektiwiteit van die hoeveelheid inligting wat dit met knap woorde kan oordra.

Pouveer

  • 2

Kommentaar

  • Pouveer, ek het van jou bydrae gehou. Is nou half bevrees dat niemand anders dalk reageer nie. Moenie dat dit jou pla nie. Op van die beste briewe is daar geen kommentaar nie. Om oor taalkunde te skryf is dikwels moeilik, want 'n mens moet verkieslik kort wees en jou leser se belangstelling behou. Jy het my aangenaam gestimuleer oor 'n saak waaraan ek nog nooit gedink het nie.

    Ek kon ook nie help om die Duitsers se kant te kies teen die Spanjaarde en Franse nie. Dis seker oor die Afrikaanse en Duitse tale en kultuur veel nader aan mekaar is as Afrikaans en die Romaanse kultuur en tale.

    'n Mens bly maar 'n lui ding. Wonder wanneer ek laas 'n 'Language' opstel of enigiets taalkundigs gelees het. Dit sal goed wees om weer van jou te hoor.

  • Pieter Redelinghuys

    Beste Goerge,

    Jy is darem so 'n perfekte gentleman om te reageer op die dame se brief omdat jy "half bevrees (was) dat niemand anders dalk (sou) reageer nie". Sondagoggend wou ek graag 'n eksperiment uitvoer mbt hierdie studie, en dus begin om Pouveer se brief te vertaal, met behulp van my liewe en kundige vrou, in Engels, Duits, Nederlands, Sweeds, Finns, Frans en Spaans, om te sien hoeveel lettergrepe elke sin bevat, en dan met 'n stophorlosie die tekste in die verskillende tale te lees.

    Die vertaling van die Germaanse tale en Finns was geen probleem nie, maar die Romaanse tale , veral Spaans, was ons nederlaag. Dit weerspieël die algemene probleem met die vertaling van een taalkultuur in 'n ander.

     Trouens, hoewel interessant as 'n akademiese studie,  hoe relevant is so 'n studie werklik waar ses of agt lettergrepe nou nodig is om dieselfde inhoud oor te dra in dieselfde tydsbestek?

    Beste groete,

    Pieter Redelinghuys

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top