Kommentaar op Angus se kommentaar tov Mengeltaal

  • 8

Beste Angus
Ek verwys na jou kommentaar onderaan my brief van 13 deser.

P1
Soos jy sê, dis ’n kwessie van logika, soos alle perskes groei aan bome maar nie alle bome dra perskes nie. Almal wat Afrikaans wil bewaar is Afrikaners maar nie alle Afrikaners wil Afrikaans bewaar nie. (As jy wil, kan jy natuurlik ‘Afrikaners’ met ‘Afrikaanses’ vervang, of dit byvoeg, nes jy wil as jy voel dis meer PK.)

Jou stelling dat ek sou sê “ ... daar is net beteuterde mense, en hulle is nie Afrikaners nie” is bog. Wat ek wel gesê het, is “Jy [Angus het] oorspronklik gepraat van beteuderde taaltjies en ek het gesê daar is nie so iets nie, net beteuterde mense”; jy het dit dan net so aangehaal in jou kommentaar ook.

Soos ek al voorheen vir jou aangedui het, taal het nie ’n solar plexus of ’n limfatiese stelsel of ’n bloedsomloop nie, taal is ’n abstrakte ding en kan dus nie beteuterd wees nie; hy kan slegs hierdie etiket kry as die mense, wat veronderstel is om hom te praat, beteuterd is. Dit is hoekom ek al déééstyds vir jou gesê het jy kan nie praat van ’n ‘beteuterde taaltjie’ nie.

Snaaks genoeg, jy is van dieselfde mening so ek weet nie hoekom jy stry nie. Jy sê dan self onder P5 in jou kommentaar “Geen taal voer ʼn stryd om te oorleef nie. Hy lewe of hy sterf uit, dis so eenvoudig soos dit. Dit is maar die taalpatriotte wat namens die taal ʼn stryd voer” (my vetskrif vir beklemtoning).

Wat Pietie betref, sy taal is wel geradbraak as hy Afrikaans praat en ’n Engelse woord gebruik. Jy sê dit eintlik self want jy praat van ’n ‘Engelse woord’ en ’n Engelse woord is, per definisie, nie ’n Afrikaanse woord nie. ‘Goals’ kommunikeer ook glad nie beter as ‘doelwitte’ soos jy beweer nie; ‘goals’ kan ‘doelskoppe’, ‘doelhokke’ of ‘doelwitte’ wees, so hoekom kommunikeer dit nou kamtig beter as ‘doelwitte’ wat definitief nie ook doelskoppe of doelhokke kan wees nie? ‘Goals’ kommunikeer swakker, baie swakker.

P2
Jy moenie dit ter harte neem as ek sê jy praat bog nie; dis nie lelik bedoel nie maar ek sal nie weer nie. Kennelik dink jy ék praat bog (anders sal ons nie stry nie) maar jy sê dit nie; jy’t beter maniere as ek. So, ek sal nie weer nie, sorrie man.

Ja, ek hou vol dat ’n leenwoord hoofsaaklik sy inslag in ’n taal sal vind as daar nie ’n ekwivalent in daardie taal is nie; hoe anders, jy gaan leen mos nie iets wat jy het nie of hoe? En niemand, soos Big Brother (om nou by jou aan te sluit) doen ’n ‘toelating’ nie; die woorde kom maar in soos ‘veld’ en ‘yacht’ by Engels ingekom het (maar dit is ’n ander bespreking waaroor linguiste volumes sal kan skryf).

Die Engelse woorde wat nou so lukraak ingegooi word is nie leenwoorde nie want hulle vervang woorde soos ek al voorheen vir jou gesê het; hulle is nie woorde wat begrippe beskryf waarvoor daar nie Afrikaanse woorde bestaan nie. Die redes vir hierdie praktyk is onder andere 1) die spreker se gebrek aan kennis tov sy eie taal – Engels word by die werk- en speelplek en in die openbare lewe in sy keel afgedruk, 2) die heersende mode by die glansgroepies soos mode-ontwerpers, wynproeërs, liedjieskrywers en ‘song’-sangers (vgl die afstootlike taal met die Afrivisiestorie), kaasmakers, tuisbrouers, deesdae se skilders en grafiese kunstenaars edm, 3) slordigheid, 4) moedswilligheid en 5) ’n kniebuig in die rigting van die populus, met ander woorde PK.

Jy raak ’n belangrike punt aan waar jy van Afrikaans se Germaanse agtergrond praat (eintlik is ‘agtergrond’ verkeerd want Afrikaans ís Germaans, ’n Dietse taal wat saam met Nederlands, Vlaams ens in die groep ‘Germaans’ val). Engels, alhoewel ook streng gesproke ’n Germaanse taal, het ’n sterk Romaanse inspuiting in 1066 gekry en die Germaanse ‘sleutel’ (analoog aan B-mol, F-majeur ens in musiek) het sodanig verander dat dit nie pas in die Afrikaanse sleutel nie. Die Afrikaans-Engelse sin “usually as ek my goals geset het achieve ek hulle” is net so ’n gemors as die Engels-Afrikaanse sin “gewoonlik if I have stelled my doelwitte I bereik them” omdat die sleutels gemeng is. Soos ek jou gesê het, jy verdra (praat selfs goed) eersgenoemde omdat a) jy daaraan gewoond is en/of b) omdat jy Engels ken en c) weens PK-redes.

Hierdie volgende stelling van jou is vir my bietjie van ’n raaisel, ek haal aan: “Nou goed, as die Nederlanders en die Duitsers aan weerskante van die Nederlands/Duitse grens nie beswaard is nie, waarom is jy dan so beswaard oor die invloed wat Engels op Afrikaans het?”

In die eerste plek, ek het saam met jou gestem dat die Nederlanders beswaard was oor die agteruitgang van Nederlands en in die tweede plek het ek nooit van die Duitsers gepraat nie en in die derde plek het ek geen kommentaar gelewer op die wedersydse invloed van die tale waar die lande aan mekaar grens nie. Hoe dit ook al sy, ek is nie soseer beswaard oor die invloed wat Engels op Afrikaans het nie, net so min as wat ’n Engelsman beswaard sou wees oor die invloed wat Afrikaans op Engels sou hê. Waaroor ek beswaard is, is oor die VERDRINGING van Afrikaans deur Engels.

Anders gestel, indien die invloed van Engels beperk is tot die mate wat naasliggende tale mekaar maar beïnvloed (Portugees op Afrikaans, Frans op Duits, taal A op taal B, die soort van ding) is dit maar die beloop van die lewe. Indien die invloed van Engels egter manifesteer as verdringing van Afrikaans is dit nou mos ’n hele ander storie. Afrikaanse woorde en sintaksis word stuksgewys vervang totdat die spreker uiteindelik slegs Engels praat; Afrikaans is dus vervang deur Engels en daar is nie sprake van ‘verrykte’ Afrikaans nie want dis dan mos nou Engels of hoe?

P3
Afrikaans het nie sy ontstaan deur slordigheid nie want slordigheid is moedswillig; jy trek byvoorbeeld nie per ongeluk jou oliebevlekte T-hemp aan werk toe nie. Miskien onkunde weens gebrek aan formele skoling maar beslis nie moedswillige slordigheid soos die aanbieders en meeste deelnemers by Afrivisie nie. Maar selfs al was die ontstaan van Afrikaans weens slordigheid, dit bied geen grond vir die aanvaarding van slordigheid tans nie. Die Australiërs duld nie misdaad omdat hulle voorvaders (baie van hulle) deur Britse howe as kriminele veroordeel en Australië toe verban is nie.

P4
Wat die woord ‘establishment’ betref, wat nou vir jou so ’n raaisel is dat ek dit as ’n geldige leenwoord beskou: Dis ’n woord wat ’n sekere spesifieke verskynsel beskryf. Daar is wel gevalle waar die Engelse woord ‘establishment’ presies sal ooreenkom met waar die Afrikaanse ‘instelling’ gebruik sal word maar, in die konteks waar ‘establishment’ in Afrikaans gebruik word, pas ‘instelling’ nie sonder ’n omskrywing nie. ’n Soortgelyke geval aan Engelse kant is die leenwoord ‘apartheid’; dit word geruik waar hulle ‘seperatism’ nie sonder ’n verdere omskrywing kan gebruik nie.

Jou argument dat ‘achieve’ en ‘bereik’, en ‘goal’ en ‘doelwit’ ens nie presiese sinonieme is nie hou nie water nie want hoekom gebruik die Engelse, in Engels, dan nooit ‘bereik’ of ‘doelwit’ nie; of reken jy hulle sal nooit hulle gedagtes met daardie nuanse-verskil (soos die Afrikaners volgens jou dit nodig vind) wil uitdruk nie? Dit is tog loutere onsin.

Buitendien, daar is ’n menigte woorde tussen die verskillende tale waar die woordeboekbetekenis nie heeltemal dieselfde begrip oordra nie; dieselfde begrip word oorgedra deur die woord in ’n passende konteks te gebruik. ‘Wegsteek’ sal met ‘hide’ vertaal word maar in ’n ander konteks sal byvoorbeeld ‘wegkruip’ met ‘hide’ vertaal word. Die sinsnede ‘daar’s hy, dis beter’ sal met ‘there you go, that’s better’ vertaal word; die woordeboek-ekwivalente sal nie werk nie.

Indien woordeboek-ekwivalente presies die regte begrippe sou oordra, sou vertalers baie minder betaal word want al wat jy nodig het is ’n woordeboek. Terloops, om nou steeds die belaglikheid van mengeltaal uit te wys – dink net hoe maklik sal dit in Engels vertaal; die vertaler hoef omtrent niks werk te doen nie want dit is klaar halfpad Engels.

P5
As ’n taal nie meer gepraat word nie is hy weg. Dus, om te sê hy is nutteloos maak nie sin nie, net soos jy nie kan praat van jou nuttelose kar as hy gesteel is nie. Stel jou hierdie gesprek voor:
Angus: “My kar is nutteloos.”

Jan: “Hoe so?”

Angus: “Hy’s gesteel.”

Jy’s halfpad reg waar jy sê “dis die taalpatriotte wat namens die taal die stryd voer.” Heeltemal reg sou wees “dis sy sprekers wat namens die taal die stryd voer.” Frans, Spaans, Duits, Engels, Russies, Vlaams ens word nie aan die gang gehou deur ‘taalpatriotte’ nie maar deur hulle gewone sprekers. As Vlaams bedreig word deur Frans in België, en Frans bedreig word deur Engels in Kanada is dit nie net ‘taalpatriotte’ wat rug styf maak nie, dis die gewone sprekers ook. Die mense wat byvoorbeeld teen hidrobreking in die Karoo is, is nie noodwendig ingeskrewe en betalende lede van Greenpeace of landspatriotte nie maar die gewone mense wat daar woon en lief is vir die Karoo.

Soos Vlaams en Frans (in Kanada), word Afrikaans bedreig deur Engels. Die simptome van die skuif na Engels is duidelik in die mengeltaal wat al hoe meer na vore kom. Die wat ewe geluksalig voortploeter en hulself vertel die verengelsing verteenwoordig verryking leef in ’n waan of is, miskien meer waarskynlik, oneerlik. ’n Ander moontlikheid is dat hulle glad nie die soort lojaliteit teenoor hulle taal het as wat byvoorbeeld die Engelse teenoor Engels het nie juis omdat hulle in die proses van ‘opgradering’ na Engels toe is; hulle voel ’n veer vir Afrikaans.

Tuinbou: Dankie vir die raad oor die amarillis; ek dink die bolle het vrot geword.

Groetnis
Jan Rap

NS Hoekom hierdie nie onder ‘Kommentaar’ verskyn nie is omdat, by twee geleenthede al, halfpad deur die brief, Es-four-king-kom die krag afgesny het as ek vir my ’n bier gaan haal het of iets en dan is alles verlore en ek moet voor begin. Op ’n ander geleentheid het die weer die rekenaar uitgeslaan en moes ek ook weer als van vooraf skryf en 9 uit die 10 keer onthou ek nie als wat ek geskryf het nie. So, ek skryf maar die ding in Word en dis minder moeite om hom bloot as aanhangsel aan te heg as om hom te plak onder ‘Kommentaar’.

  • 8

Kommentaar

  • Beste Jan,

    Ek sien jy gebruik die woord stry dikwels in jou lang betoog hierbo, en dit is wat my gesprek met jou hoofsaaklik is: ʼn onproduktiewe gestryery oor ʼn sak gras. Ek stel tog nie belang in ʼn sak gras nie.

    Waarin ek wel in belang stel, is alles wat met taal verband hou: sy ontstaan, voortbestaan, sy funksie, en hoe dit bygedra het tot die evolusie van die mens. Ek stel belang wat taalwetenskaplikes, linguiste, psigoloë, te sê het oor taal.

    Dan stel ek ook belang in Afrikaans, sy ontstaan en voortbestaan. Ek probeer antwoorde soek na vrae soos wat is die ooreenkoms of verskille tussen die ontstaan van Afrikaans en ander tale, hoe ontstaan streekverskille, en kan dit lei tot nuwe dialekte, of miskien nuwe tale? Ek dra ʼn boekie by my en teken so stilletjies op wat ek hoor as mense praat. As iemand in sy woordeskat “actually” gebruik as hy Afrikaans praat, beskou ek hom nie as ʼn beteuterde mens wat slordig praat nie. Niemand sal sy eie taal doelbewus slordig praat nie – dis dan sy moedertaal. Waarom het hy die woord gebruik? Dit pas nie fonologies in by Afrikaans nie, sintakties en semanties wel. Het Afrikaans ʼn sinonieme woord? Onder watter omstandighede het die persoon die woord gebruik, en met wie het hy gesels? Ensovoorts, ensovoorts.

    Groete,
    Angus

  • Beste Angus

    'Stry' was dalk die verkeerde woord; ek moes gesê het ons 'gesprek' of 'bespreking' oor mengeltaal. Dit beteken steeds dat ons meningsverskille gehad het maar dit sou jou nie die skrik op die lyf gejaag het nie.

    Of was dit die geleentheid om uit te tree? Want, om die waarheid te sê, ek het nie eintlik met jou gestry nie; ek het maar net die feite op die tafel gesit, naamlik:

    1)Mengeltaal (taal A en B onderling) is as 'n spreker van taal A/B ook kennis van taal B/A respektiewelik moet hê om te verstaan wat gesê word. 'n Enkeltaalspreker (A of B) sal nie verstaan nie omdat daar vreemde woorde in die taal is.

    2)Leenwoorde is wel in enige taal opgeneem vanuit verskeie ander tale en die spreker van 'n spesifieke taal hoef nie die tale te ken waarvan die woorde ontleen is nie, want dit is ingeburger in die spreker se taal. Hy sal in 99% van die gevalle nie eers weet aan watter taal die woorde ontleen is nie.

    3) In Afrikaans is die gebruik van mengeltaal aan die orde van die dag en uiteraard verryk dit dan nie die taal nie maar verswak sy uitdrukkingskrag, verarm die taal dus.

    3) Mens dink nie in taal nie.

    Groetnis

    Jan Rap

  • Beste Jan,

    Ek kan nie sien wat jou probleem met (1) hier bo is nie. Jy het waargeneem hoe twee mense, die een slegs Afrikaanssprekend, en die ander slegs Engelssprekend met mekaar kommunikeer. Hulle sal nie 'n gesprek kan voer nie, maar hoofsaaklik deur gebare mekaar laat verstaan wat hulle behoeftes is. So vingers van die een hand bymekaar en beduie na die mond, beteken dat jy honger is en kos soek. Toe ek in Rome was en by 'n vreemdeling wou weet waar 'n sekere gebou is, het hy met groot gebaar "sempre diritto" gesê en ek het verstaan dis reguit vorentoe. Hiermee het ek geen probleem nie.

    Volgens my waarneming sal mense wat jou sogenaamde "mengeltaal" praat, slegs met mense 'n geselskap voer as die ander persoon sal verstaan.

    In (2) het jy dit oor leengoed. Het jy die 99% nagevors? Laat my weet hoe jy dit gedoen het; ek stel belang. Hoe raak 'n vreemde woord uit 'n ander taal ingeburger? Was hy reeds ingeburger die heel eerste keer toe dit ontleen is?

    Ek volg nie jou logika in (3) nie. As 'n woord soos "establishment" die heel eerste keer in Afrikaans gebruik word, sê jy is dit mengeltaal, en mengeltaal verswak die uitdrukkingskrag. Mettertyd word "establishment" aanvaar as leenwoord, en nou versterk dit weer die taal se uitdrukkingskrag? Hoe so?

    Ek verstaan nie wat jy bedoel as jy sê dat in Afrikaans mengeltaal gebruik word nie. Bedoel jy dalk met mengeltaal dat 'n Engelse woord in 'n Afrikaanse sin gebruik word? As jy bedoel wat ek verstaan jy bedoel, dan wil ek weet of jy al navorsing gedoen het hieroor? Het jy al mense se taal neergeskryf wat so praat? Ek bedoel hier nie sommer iets wat jy skielik uit jou duim suig nie. Het jy al hierdie neergeskryfde sinne vergelyk met sinne wat jy as korrek beskou? Weet jy hoe jy te werk moet gaan om te toets watter een die beste kommunikeer? Hier is 'n maklike: Ek laaik vis en tjips x Ek hou van vis en aartappelskyfies. (Toets die gesproke vorm, en dan laat jy my weet.)

    Jy beweer 'n mens dink nie in taal nie. Dit hang af wat jy met dink bedoel. As ek met my motor ry en die verkeerslig is rooi, dan sê ek nie vir myself in taal ek moet stop nie. As 'n bul my sou jaag, dink ek nie in taal dat ek nou moet hardloop nie. As ek per ongeluk my vinger teen die stoof verbrand, dink ek nie ek moet nou my hand wegruk nie. As ek egter beplan wat ek more gaan doen, dan dink ek deur middel van gedagtetaal. As ek dink hoe ek iets aan my studente gaan verduidelik, dink ek deur middel van taal. 'n Kollega gaan een van die dae met vakansie die Drakensberge besoek. Hy is van plan om vir twee weke met sy 4x4 rond te ry, en het my gevra om vir hom so 'n reisplan uit te werk. Ek sit en gesels met myself oor hoe hy moet ry, watter plekke hy moet besoek en watter besienswaardighede hy moet besigtig. Ek skryf hier aan jou en in my gedagtes beplan ek wat ek vir jou gaan sê. Skaak, so sê hulle, is suiwer denke, maar as ek speel, beplan ek deur middel van taal watter skuiwe ek gaan maak. Ek sê vir myself: "As ek die pion een vorentoe skuif, sal hy (dis nou my opponent), nie my ruiter met sy loper kan aanval nie." Ek hoor myself dit sê, en ek kan dit nie verhelp nie. Ek kan nie soos 'n padda sonder taal dink nie. (Seker maar omdat ek 'n mens is en nie 'n padda nie.)

    'n Mens kan dink sonder taal, maar dis moeilik om denke en taal te skei. Eintlik is dit bleddie moeilik om sonder taal te dink. Voor jy weet waar jy is, gesels jy maar weer met jouself.

    Groete,
    Angus

  • Beste Angus

    Met die Afrikaanse sin deurspek met Engelse woorde het jy geen probleem gehad nie maar met die Engelse sin deurspek met Afrikaanse woorde (alles net omgeruil) het jy gesê dit werk nie. 'Diagrammaties' lyk dit so (A=Afrikaanse woord en E=Engelse woord): Met E A A A E E A E A A het jy geen probleem gehad nie, dit eintlik goedgepraat maar A E E E A A E A E E (A's en E's net omgeruil) was 'n probleem. Hoekom?

    Ek sê dit is omdat jy, eerstens, gewoond is aan eersgenoemde - baie mense veral in die Kaap praat so - en tweedens omdat jy dit as goeie maniere beskou om laasgenoemde nie te kritiseer nie (PK dus) en derdens omdat jy nog geen Engelssprekende ooit sy taal so hoor vertwêr het nie; jy's dit nie gewoond nie. Tog is die een, in 'n sekere sin, presies soos die ander.

    So, ek sê weer vir jou, 'n spreker meng taal X met taal Y as slegs 'n XY-tweetalige dit kan verstaan. As X of Y as enkeltaliges dit nie kan verstaan nie dan is dit mengeltaal.

    As jy dan nou puntenerig wil wees, vervang '99%' met 'meeste'. Gaan vra jy nou maar vir die gemiddelde spreker of hy weet waar 'piering' in Afrikaans vandaan kom, of 'juggernaut' in Engels en die kans is goed (P~0.9) dat hy nie weet nie.

    Jy vra hoe word 'n woord ingeburger. Ek het jou voorheen gesê, nie deur slordigheid - met ander woorde mengeltaal - nie maar deur die woord aan te neem omdat 'n ekwivalente woord nie eintlik in die taal bestaan nie. Soos 'establishment' byvoorbeeld of, in die geval van Engels, 'apartheid', 'angst', 'spoor', 'juggernaut' en 'yacht' om nou maar enkeles te noem. Dus was 'establishment', of enige van die Engelse voorbeelde wat ek genoem, het nooit mengeltaal nie; dit het geen woorde VERVANG soos in mengeltaal gebeur nie.

    Hoe kan jy sê jy weet nie wat ek met mengeltaal bedoel nie; ek het dan al voorbeelde, 'neergeskryfde' voorbeelde soos jy daarna verwys, aan jou genoem. Die spesifieke voorbeeld "usually as ek vir my goals geset het achieve ek hulle" is deur 'n kok op een of ander KykNetprogram gebruik; dis nie uit my duim gesuig soos jy beweer nie. Die korrekte Afrikaans kan wees "gewoonlik bereik ek die doelwitte wat ek vir myself stel."

    "Ek laaik vis en tjips" klink glad nie beter as "ek hou van vis en skyfies" nie (jou voorbeeld hierbo). Om die waarheid te sê, dit klink sleg en platvloers.

    Skaak is 'n goeie voorbeeld van hoe mens NIE in 'n taal dink nie. Jy kan lank peins oor die pion wat jy wil vorentoe skuif en dan skielik sien jy sommer twee skuiwe vooruit - as jy in plaas van die pion te skuif, met jou ruiter die opponent se loper slag is hy skaak met 'n vurkaanval en jy kan sy toring buit. Dit kom in 'n oogwink. As jy later aan 'n omstander verduidelik hoe jy dit agtergekom het neem dit miskien 30 sekondes, ordegroottes meer tyd as toe jy daaraan gedink het. Ek gee toe, jy kan in jou kop gesels maar insigte kom in breukdele van 'n sekonde.

    Groetnis

    Jan Rap

  • Beste Jan,

    Verstaan goed, ek praat niks goed nie en ek praat niks sleg nie. Jy is die een wat "suiwer Afrikaans" (wat dit ook al beteken), goedpraat, en mengeltaal (wat dit ook al beteken) sleg praat. Ek kyk en luister na wat met 'n taal gebeur, en probeer dit verklaar.

    Engels en Afrikaans is tale wat naas mekaar gebruik word in Suid-Afrika, en dis 'n feit. Daaraan kan jy en niemand iets aan doen nie. Engels het sy verloop grotendeels deurgemaak en is meer gevestig as Afrikaans, wat nog maar in sy beginstadium is. Afrikaans moet nog so 'n klompie eeue deurmaak om meer gevestig te raak. Dit is te verstane dat die invloed van Engels op Afrikaans groot sal wees. Afrikaans het ook 'n invloed op Engels hier in SA, maar tot mindere mate. Jy kan maar sê dis 'n linguistiese wet: tale beïnvloed mekaar as hulle naas mekaar op dieselfde gebied gebruik word.

    Ek is nie die een wat puntenerig is nie; ek sou die eienskap eerder aan jou wou toeskryf. (As jy sê iemand is puntenerig, bedoel jy hy is liggeraak en moeilik om te bevredig.)

    Jy hoef nie te weet waar 'n woord vandaan kom vir die betekenis daarvan nie. Slegs iemand wat taal bestudeer sal weet waar "piering" vandaan kom. Ek volg nie die oefening van jou nie.

    Ek het jou gevra om te toets of "Ek laaik vis en tjips" beter of slegter kommunikeer as "Ek hou van vis en aartappelskyfies". Nou vergelyk jy sommer hoe dit vir jou klink. Natuurlik klink eersgenoemde sleg en platvloers. Toe Afrikaans ontstaan het, het dit ook sleg en platvloers geklink vir die kritici daarvan. Een van my ondersoeke het juis te make met mense met Afrikaanse vanne wat Engels praat. Ek wil by hulle weet waarom Engels, en nie Afrikaans nie, hulle huistaal is. Ek kry verskeie antwoorde. Die man is met 'n Engelssprekende vrou getroud, of dis beter as die kinders Engels leer, want daarmee sal hulle meer vermag, of Afrikaans klink so platvloers, hulle is skaam om dit te praat.

    Nou wil ek by jou weet wat is platvloers? Dink jy miskien jy is beter as die persoon wat sê: "Ek laaik vis en tjips"? Dink jy miskien as iets platvloers klink, dat dit slegter of beter kommunikeer? (So terloops, "commin" kommunikeer baie beter wat jy wou sê as "platvloers".)

    Jy beskou "establishment" as 'n goeie voorbeeld van 'n leenwoord, maar jy besef nie nie dat dit 'n Afrikaanse woord vervang nie. Dit pas nie eens in by die Afrikaanse fonologie nie, en toe dit aanvanklik gebruik is, het dit heelwat teenkanting ondervind. Ek het nog nie gekyk nie, maar ek twyfel of dit in 'n Afrikaans verklarende woordeboek te vinde sal wees.

    Ek beskou "establishment" as 'n leenwoord, omdat dit in Afrikaans gebruik word, en omdat dit nie heeltemal sinoniem is met grondvesting of inrigting nie.

    Groete,
    Angus

  • Beste Jan,
    So van skaak gepraat, hoe verstaan jy die filosofie van die Ruy Lopez of enige ander skaakopening sonder taal?

    Groete,
    Angus

  • Beste Angus

    Ek het al duisendmaal (oukei nie heeltemal nie; 3 of 4 keer) gesê ek is nie ‘n taalpuris soos vele my al beskuldig het nie, ek is bloot bekommerd oor die duidelike agteruitgaan van Afrikaans. Ek het nog die voorbeeld gebruik dat iemand wat bekommerd oor die uitroei van walvisse nie noodwendig ‘n lid van Greenpeace hoef te wees nie.

    Soos jy sê, Engels en Afrikaans word naas mekaar in SA gebruik en die een sal wel ‘n invloed op die ander hê. Engels, egter, kan nie anders as om ‘n ordegrootte meer invloed op Afrikaans te hê as wat Afrikaans op Engels het nie: Engels MOET by die werkplek gebruik word, MOET op universiteit gebruik word (ek wonder wanneer laas het ‘n Afrikaanse verhandeling verskyn), MOET in die poskantoor, aanklagkantoor, belastingkantoor en munisipale kantoor gebruik word.

    Dan nog, by dit alles, is (omtrent) al die vakansie-oorde Engels, die televisie is oorwegend Engels (selfs RSG en KykNet prop hulle programme vol Engels; dra die idee oor dat Afrikaans sekondêr is) en by kafees, restourante en die soort plekke is alles Engels. Uit die aard van die saak begin mengeltaal gebruik word; die ou praat dan oral Engels behalwe by die huis en selfs daar dan gebruik hy die Engelse terme wat hy op kantoor en in die openbare lewe moet gebruik.

    Omdat, soos jy self sê, Engels nie fonologies by Afrikaans pas nie, is hierdie mengeltaal alles behalwe taalverryking is, inteendeel, dit verarm die taal want ‘taalvreemde’ woorde (Engels) word gebruik. Om Afrikaans dus te handhaaf moet gewaak word teen hierdie oorname deur Engels.

    Wat jy sien as ‘n oordrewe behoefte om ‘suiwer’ Afrikaans te propageer is niks anders as ‘n strewe vir gelykberegtiging vir Afrikaans nie, maw dat Afrikaans net so suiwer gepraat word as wat die Engelssprekendes hier Engels praat.

    Wat die puntenerigheid betref, jy wou weet of ek die 99% nagevors het. Vir my het dit gelyk of jy nou wil weet of dit presies 99% is en ek het aangedui dat dit die 99% op die meeste dui; dit kan 57% of 73% of 81% ook wees. Die punt is dit is oorwegend; dis nou dat mense leenwoorde se oorsprong nie ken nie omdat die woord ingeburger is, anders as met mengeltaalwoorde wat uit Engels net lukraak ingegooi is. Juis dit is die ‘oefening van [my]’ wat jy sê jy nie volg nie: Ek sê leenwoorde is ingeburger, reeds Afrikaans geword maar die ingooi van Engelse woorde is NIE leenwoorde nie, dis mengeltaal.

    Jammer as ek volgens jou jou vraag oor die vis en skyfies verkeerd geantwoord het, laat ek dit weer antwoord. Jy wil weet of ‘ek laaik vis en tjips’ beter kommunikeer as ‘ek hou van vis en skyfies’. Nee, dit kommunikeer nie beter nie en klink boonop platvloers.

    Nou wil jy weet wat is ‘platvloers’. Wel, ek is platvloers; my ma het so gesê toe ek eenkeer, terwyl ek daar gekuier het (Somerset-Oos) kaalvoet en kortbroek saam met haar dorp toe gegaan het. Sy’t haar oë uit haar kop geskaam het sy ook gesê. My vrou reken ek is platvloers oor ek in die tuin staan en water afslaan (ek weet nie wat’s fout daarmee nie; my hond doen dit ook en daaroor rep sy nie ‘n woord nie).

    Miskien weet ek nie van beter nie maar, wat taalgebruik betref, weet ek wel van beter. Soos jy self sê, ‘natuurlik klink … [dit]… platvloers’ as mens sê ‘ek laaik vis en tjips.’ En, om jou vraag te antwoord, ja ek dink wel gewone kommunikasie klink EN kommunikeer beter as platvloerse kommunikasie, net soos dit platvloers is om kortbroek en kaalvoet jou ma in die dorp te ontmoet.

    Ek het reeds vertel waarom ‘establishment’ ‘n leenwoord is; dit beskryf ‘n sekere verskynsel / entiteit in ‘n sekere milieu, net soos die funksie van die woord ‘apartheid’ in Engels. ‘Establishment’ en ‘apartheid’ vervang nie respektiewelik ‘instelling’ en ‘seperatism’ nie. Die Engelse woorde in die sin ‘actually as ek my goals geset het achieve ek hulle’ vervang wel ekwivalente Afrikaanse woorde; hulle is dus nie leenwoorde nie maar mengelwoorde. Afrikaanse mense wat nie Engels ken nie sal daardie sin nie verstaan nie. ‘n Sin met leenwoorde in sal wel verstaan word al is die persoon eentalig.

    Jou stelling (miskien die man aangehaal wie se kinders Engelse skool toe is) dat die kinders meer vermag as hulle Engels leer hou nie water nie. In Suid-Afrika, al die jare, leer AL die kinders Engels op skool. By NASA se Jet Propulsion Laborotory werk ‘n grootkop met die gewone Boerenaam Japie (oorspronklik uit eertydse Suid-Wes dink ek), hy’t Engels geleer op skool. Mens hoef nie die Engelse aksent na te aap om met hulle te kommunikeer nie.

    Die werklike rede waarom ‘n getroude paartjie se kinders in ‘n Engelse of Afrikaanse skool is het dus niks met bemagtiging te doen nie; dit hang af van watter een van die ouers die sterker persoonlikheid het. As die Engelsprekende ouer die sterker persoonlikheid het gaan die kind na ‘n Engelse skool toe, as die Afrikaanse ouer die sterker persoonlikheid het gaan die kind na ‘n Afrikaanse skool toe, maak nie saak watter een die man of die vrou is nie.

    Groetnis

    Jan Rap

  • Beste Jan Rap,
    Jou walvis-analogie hou nie water nie, (soos jy sal sê). Taalpuriste het geen organisasie waaraan hulle behoort nie; hulle funksioneer sommer so op hulle eie.
    In par 2 hierbo, trouens in al jou skrywes, is dit duidelik dat jy twee sake met mekaar verwar. Die invloed wat Engels en Afrikaans op mekaar het is ʼn linguistiese saak, terwyl die uitdruk en vervanging van Afrikaans deur Engels in die staatsdiens, universiteite en skole, ʼn politieke saak is.
    Indien jy ʼn sê gehad het, wat sou jy doen? Watter taal wat in Suid-Afrika gepraat word, gaan jy verhef tot amptelike taal? Al elf tale? Net Engels en Afrikaans? Net Afrikaans? Net Engels?
    Wat jy ook al kies, dit skep probleme. Al elf tale? Die koste daaraan verbonde is astronomies, en die probleme veelvuldig. Dink maar net daaraan dat die klerk agter die toonbank vir my, vir jou en ons Zulu-vriend ewe goed in die taal van ons keuses moet kan bedien. Net Engels en Afrikaans? Dan is ons waar ons maar altyd was: noodwendige oorslaan na Engels omdat die klerk agter die toonbank nie Afrikaans verstaan nie, en klagtes van Afrikaanssprekendes omdat hulle taal verontreg, uitgedruk en vertrap word. Sprekers van die ander nege landstale kan ook nou kla. Net Afrikaans? Dis ondenkbaar. Al wat oorbly is net Engels. Almal ken Engels, al is dit net so rabberab, en sonder Engels kan ons nie klaarkom nie. Selfs die student op ʼn Afrikaanse of Zulu-universiteit is verlore sonder ʼn kennis van Engels.
    Linguisties is dit egter onmoontlik dat een taal ʼn ander taal word. Elke taal het sy eie struktuur, en daarom kan Afrikaans onmoontlik Engels word. Nog nooit het een taal ʼn ander bestaande taal geword nie. ʼn Wêreldtaal soos Engels kan onmoontlik ʼn taal soos Afrikaans verarm, want verarm beteken dat die woordeskat daarvan afneem sodat dit naderhand moeilik kommunikeer.
    Niemand kan Afrikaans se toekoms voorspel nie, maar dit het nog nie die woordeskat wat ander wêreldtale het nie; dus is daar nog ʼn moontlikheid van groei. Afrikaans kan in die proses ook verdwyn. Dit kan ook wees dat uit Afrikaans ander dialekte ontstaan, veral onder die invloed van Engels.
    Die doel van taal in sy gesproke vorm is om te kommunikeer, nie dat dit “suiwer” gepraat word nie. Mense wat probeer “suiwer” Afrikaans praat, soek dikwels na wat die regte woorde moet wees, en O, Toggie! solank dit net nie ʼn Anglisisme is nie! Die Engels wat jy hier hoor is egte South African English; dis όf onder die invloed van die Afrikaanse όf die Zulu/Xhosa/Sesotho-aksent. Selfs mense wat Engelssprekend is, se Engels klink maar baie geaffekteerd.
    Ek glo nie taalkundiges sal hou van jou byvoeging tot die definisie van wat ʼn leenwoord is nie, nl dat die spreker nie die oorsprong van die woord moet ken nie. Dan sal “establishment” nie slaag nie, want selfs ʼn kind sal jou die oorsprong daarvan kan sê.
    Ek het nie jou persoonlike mening gevra of “Ek laaik vis en tjips” beter of slegter kommunikeer as “Ek hou van vis en aartappelskyfies” nie. Ek het jou gevra om dit te toets. Wat die algemeenste gebruik word, is een van die aanduidings van goeie kommunikasie.
    Volgens wat jy skryf, kommunikeer platvloerse taal swakker as verhewe taal. Hoe so? As verhewe Nederlands dan beter gekommunikeer het, waarom het die platvloerse Afrikaans dan ontstaan?
    Jy hou aan om te sê dat Afrikaanse mense wat nie Engels ken nie, nie sal verstaan as iemand sê: “actually, as ek my goals geset het achieve ek hulle” nie. As mense met mekaar gesels, praat hulle dieselfde taal. Niemand sal so iets sê vir iemand wat nie Engels ken nie. Buitendien, waar kry jy nog mense, veral “Afrikaanse mense” wat nie Engels verstaan nie?
    Daar moet ʼn rede wees waarom iemand so praat. Hy verkies dit heel waarskynlik bo: “inderdaad, as ek my doeleindes vooropgestel en beplan het, volbring ek hulle,” of iets dergeliks.
    Jou hele betoog oor waarom kinders na Engelse of Afrikaanse skole gestuur word, hou ook nie water nie, soos jy sê. Die meeste Afrikaanssprekende kinders in Engelse skole se ouers is beide Afrikaanssprekend. Die rede waarom hulle hul kinders na Engelse skole toe stuur, is omdat dit beter vir hulle toekoms is. Sommige verengels omdat Afrikaans vir hulle te platvloers is. Slegs in ’n paar gevalle is die man met ʼn Engelse meisie getroud, daarom is hulle huistaal Engels en stuur hulle hul kinders na Engelse skole.
    Dan beweer jy dat aksent nie ʼn rol speel in kommunikasie nie. Hoe verkeerd! Ek sukkel om iemand wat Afrikaans met ʼn Engelse aksent praat, te verstaan. So sukkel ek ook om iemand te verstaan wat Engels met ʼn Zulu-aksent praat. (Ek moet toegee, ek sukkel nie om oom Schalk Lourens se Engels te verstaan nie.)

    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top