Kleinduimpie, 'n lag en 'n traan

  • 1

‘n Vliegtuig het skaars geval, of iemand het ‘n grap daaroor te maak. Ek onthou dit al uit my kinderdae uit. Maar sommige wat direk by die tragedies betrokke is, dink nie altyd dis snaaks nie. Te verstane ook.

Is dit ons geskiedenis van oorlog en geweld wat ons onsensitief maak vir tragedies? Gebruik ons humor om ons deur onmoontlike situasies te help? Is dit deel van die tegnieke wat ons aanwend om te oorleef?

Humor het myns insiens sy plek, mits dit op die regte plek en smaakvol oorkom. Jy moet weet waar jy kan grap en waar nie.

In die begin van Desember 2014 het ‘n klein tragedie my ook oorgekom. Ek was in ‘n toestand van skok, ek my gesin en familie om my het op daardie stadium nie gedink dis snaaks nie. Maar binne ‘n halfuur het die eerste grap gekom… Van my af, nogal!

Ek het pamflette wat so ongevraagd in ons hek gedruk word gaan optel. Die wind was aan die opsteek, en van die papiere het al begin rondwaai. Ek het die hek oopgemaak en die wat buite gelê het bymekaar gemaak. Terug binne die erf merk ek ‘n pamflet wat langs my hekmotor ingewaai het. Toe ek buk en dit optel, gaan die hekmotor toe, en my regterduim se punt word tussen die hek se rattand en die motor se rat deurgetrek.

Wat van die pamflette geword het weet ek nie. Ek het kermend in die huis ingehol, en tussen die woorde wat nie hier herhaal gaan word nie, het ek eerste hardop gewonder of ek ooit weer gaan kan klavier speel?

Alle planne om die aand by vriende te gaan eet is dadelik daarmee heen.

Met ‘n handdoek om my hand en ons kos nog in die kattebak, is ons na die hospitaal se noodeenheid toe. Terwyl ek daar in pyn sit kom my tienerseun langs my sit.

“Wat jy nou hieruit kan leer, Simeon, is dat jy nooit jou naels té kort moet knip nie!”

“Ja, Pa, nie dat ek altyd my vinger kan lê op alles wat ek uit jou foute moet leer nie!”

“Dink nou net," sê Simeon, “met die duim se punt so mooi oop gaan jy nie sukkel om stories uit die duim te suig nie. Hulle gaan sommer uitval!”

Die ortopeed kom stel homself voor: “Ek is Dr Francois Sprong,” waarop ek antwoord: “Kleinduimpie Barnard.”

Met ‘n slimfoon byderhand het ek ‘n foto van die grusame vinger geneem. Vir my eie rekords. Ek het geweet dit gaan later my goed te pas kom.

"Hoeveel van die vinger is weg?” vra my broer se sms uit Switzerland. My antwoord was die grillerige foto. Hy wil mos weet!

“Jy GAAN weer klavier speel,” bemoedig hy my.

Die aand het ek gemerk hoe vinnig my mense kan versnel toe die verpleegpersoneel my hand in ‘n oplossing antiseptiese sous indruk en ek hardop die pyn te kenne gee. Voor jy kon sê “rat” was hulle daar weg. Almal was moeg, getraumatiseer en die werklikheid van die tragedie het begin insink.

Die jaar 2014 was nie maklik nie. Ons het in die middel van die jaar my skoonpa aan die dood afgestaan en hierdie duim-episode was nou ‘n laaste strooitjie wat die kameel se rug laat knak het. Ek het die slapelose nag met baie in my gedagtes aangevat.

Die volgende oggend se klein operasie was 'n sukses. Teen drieuur se besoektyd was ek gereed om saam met besoekers huis toe te gaan.

Boodskappe het van alle oorde af gekom. My skoonsuster het my herinner aan ‘n skurwe grap oor ‘n duim sonder ‘n nael. My swaer het laat weet: “Thumbs up!”

Raymond per WhatsApp nadat hy die voor en na foto’s van die duim gesien het: “Wat het gebeur? Die een is dan ‘n duim korter as die ander een!”

En nadat ek hom vertel het: “Jy gaan sukkel om ‘n lift te kry. Jy’t klaar duimgegooi!”

Waarop ek antwoord: “My duim is korter, nie af nie. So ek behoort tot by Centurion te kom, maar Kaapstad is uit!”

“Hoe gaan dit nou met jou?”  wil iemand anders weet.

“Voel afgestomp…”

"Sorry to hear about your thumb,” WhatsApp Mark my. “It will be sorely missed!”

“Pa, ons het die puntjie van jou duim langs die hekmotor gekry,” laat Simeon my per sms weet.

“Krul dit nog rond? Gee dit vir die kat om mee te speel.”

“Neeeeee! Eeeeeuuuw!”

Nadat ek my Joodse vriend van Zambië van duim-ongeluk vertel het, en ook van my aanvanklike bekommernis of ek weer sal kan klavier speel, kry ek sy antwoord: “Sorry to hear about your thumb, Mate. It reminds me of what I lost at eight days of age. But that’s not the reason why I cannot play the piano!”

Tussen die lag met ‘n traan deur verwerk ons die pyn. Ons lag eerder, want huil help net ‘n kort rukkie en lag langer. Ek onthou ‘n grap langer as ‘n hartseer storie. So ek verkies die grappies, maar skram nie weg van ernstig wees nie. Ek bly immers in Suid Afrika, en dis nie aldag ‘n grap nie.

  • 1

Kommentaar

  • Om ernstig te wees kos harde werk en konsentrasie. Daar is tyd vir humor en ernstigheid. Ek sien gewoonlik die humor eerste raak wat my al duur te staan gekom het. Ek is seker naief maar sien ook eerder die positiewe en die goed in mense. In elke mens is daar goed, dit hang net af of die sleg die oorhand het of nie. Soos daar in elke mens "zef" is, is daar ook die ander kant. 

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top