“Ledigheid is die Duiwel se oorkussing”, het Ouma Lalie altyd gesê. Maar wat moet jy jou maak as jy jouself in 'n weermag bevind waar “hurry up and wait” aan die orde van die dag is? As jy nog jonk en jeukerig is, en te veel energie het om te kan stilsit, dan gáán jy mos in die moeilikheid kom.
Die laaste ses maande van my militêre diensplig was ek in Tsumeb in die noorde van die destydse Suidwes-Afrika gewees. Daar moes ek sorg dat die hoofkwartier van 61 Gemeganiseerde Bataljongroep se troepe altyd rantsoene beskikbaar gehad het, die wagte uitgesit was, en dan moes ek sommer allerhande ander algemene reëlings getref het soos wat dit nodig geraak het. Maar om dit alles nou vir slegs sowat 20 troepe te doen, het beteken dat ek heeltemal te veel tyd op hande gehad het.
Anders as die ander troepe in 61Meg se HK, was ek op afgedeelde diens gewees vanaf 1 Suid-Afrikaanse Infanterie Bataljon. So vir my om na afloop van my twee jaar diensplig uit die Weermag te kon uitklaar, moes ek dus eers terugkeer na 1SAI toe in Bloemfontein. Uit pure verveeldheid uit het ek 'n oproep gemaak na 1SAI toe om te reël dat hulle 'n sein aan 61Meg stuur. 1SAI moes in die sein versoek dat ek moes terugkeer om my uitklaarproses te begin.
Die sein het gekom, maar net toe ek my goed wil begin pak, hoor ek dat ek eers vir oulaas 'n skietoefening vir die HK se troepe moes reël.
“Die HK-troepe raak slapgat, Korporaal! Hulle sal mekaar doodskiet as hulle nou moet kontak slaan!”, het die RSM deur 'n klomp drankwalms vir my gesê.
Ek het 'n skietbaan op Grootfontein bespreek en gereël vir vervoer, rantsoene, teikens en valplate. Alles was reg dat die HK se dienspligtiges en permanente personeel 'n Tabel 2 skietoefening sou kon deurwerk. Die datum vir die oefening was so in die eerste week van Desember gewees, maar ek was glad nie van plan om dan nog daar rond te wees nie. My beplanning het 'n langerige “naweekpas” van sowat 7 dae behels. Eers sou ek in Pretoria rondkuier, en later sou ek dan terugkeer na Bloemfontein om uit te klaar.
61Meg se Deel II Orderklerk was Glen, wie se van ek nou vergeet het. Dié Engelsman was 'n onderkorpraal van Natal se wêreld. Sy ouers het daar geboer en hy kon vlot Zoeloe praat. Maar dit was nie al nie. Glen was ook baie kunstig, en kon akkurate karikature van mense teken dat jy duidelik die persoon daarin kon herken. Ek het lekker gelag toe Glen my 'n skryfblok wys met tekeninge van die eenheid se permanente personeel.
Staf Hennie had 'n groot, swart besemsnor, 'n prominente neus en 'n dik swartraam bril. Sy arms het nooit langs sy sye geswaai wanneer hy loop nie. Hy het hulle altyd stokstyf agtertoe gehou soos 'n bronstige kalkoenmannetjie. En dit was presies wat Glen uitgebeeld het. Natuurlik het hy die neus, snor en bril groter as normaal geteken, maar duidelik was dit Staf Hennie gewees.
Kommandant Van Lill se rondte magie kon jy op 'n myl herken, en die RSM se rooi neus en borrels om die kop het duidelik aangetoon dat hy soos ouder gewoonte weer onder die invloed van drank was.
Die vriendelike suster se tande het geblink soos sy oopbek geglimlag het, en haar dokterman met sy stetoskoop het na sy eie hart gestaan en luister.
Die tekening van die sekerheidsoffisier met sy fors en nors gesig het ons almal laat ril. Hy het niemand vertrou nie, en het DD1-aanklagvorms vinniger uitgereik as wat 'n ouma Krimiskaartjies na haar kleinkinders kon stuur. Glen het hom duidelik uitgebeeld met sy hoë voorkop en 'n DD1 in die hand.
Maar Glen was nie al kunstenaar in ons midde nie. Danny het reeds 'n jaar lank kuns gestudeer by Pretoria se tegnikon voordat hy sy diensplig begin het. Vir hom het ek van die A1 grafiekpapier gegee wat ek gebruik het om rantsoenstatistiek op uit te beeld. In die skryfbehoeftekas was ook dik, permanente ink merkpenne wat hom in sy taak sou kon help.
Die kunstenaars het aan die werk gespring terwyl ek gou Omuthiya toe gegaan het om my geweer te gaan teruggee en oral daar uit te klaar. Terug in Tsumeb het ek my goed gepak, reiswysers vir myself uitgemaak om met die Flossie te kon vlieg, sowel as 'n treinkaartjiemagtiging sodat ek van Pretoria na Bloemfontein kon treinry.
Ek was opgewonde om te kon klaarkry met hierdie fase in my lewe, en het uitgesien na my voorgenome studies by Tuks. Ek het dus gou vergeet van die skietoefening wat ek gereël het.
Met my terugkeer in Bloemfontein, sowat 'n week voor ons uitklaardatum, het ek eers weer al die ou bekendes gaan groet. Siviele vriende wat ek by die kerk gemaak het in Roselaan, sowel as die personeel in 1SAI en die Vrystaat Kommandement.
Trix, die vriendelikste telefoniste in die hele wêreld, het dadelik my stem herken toe ek haar by die Kommandement skakel. Sy het geweet ek was in Tsumeb gewees, en het uitgevra na al my doen en late.
Dis toe wat ek onthou van die skietoefening.
Ek vra haar toe om vir my 'n oproep deur te sit 61Meg toe, en kry vir Danny op die lyn. Vir eers was dit moeilik gewees om te hoor wat aangaan aan die ander kant, want die man het so gelag toe hy hoor dis ek, dat hy skaars 'n duidelike woord kon praat.
Glen het die telefoon uit sy hand geneem en op sy stadige, besadigde manier vertel wat in Grootfontein gebeur het.
Met hulle aankoms daar het die troepe eerste die skietgat beman terwyl die permanente personeel na die 300m merk toe geloop het. Tabel 2 verg dat jy eers op 300m lê om groot teikens te skiet, dan op 200m moet jy sit en skiet, en op 100m skiet jy staalplate in 'n staande posisie.
Toe die laaste staalplaat val en die skietbaan offisier net sy “Staak vuur!” wil skree, gee Glen toe die teken en die teikens wip weer uit die skietgat uit op.
Die permanente personeel kon hulle oë nie glo nie.
“Dis te $%^&* goed om waar te wees”, het die RSM gesê en sy R1 op outomaties gesit en 'n vol magasyn gelaai. Hy skiet die tekening van Staf Hennie, nou na 'n A1 grootte vergroot, dat daar net repe papier oorbly.
Die ander laat nie op hulle wag nie, en die pret het begin. Die outomatiese geweervuur van R1's en R4's het lank gedreun totdat al die karikature totaal daarmee heen was.
Omtrent almal.
Die sekerheids-offisier s'n was nog so te sê ongeskonde. Op sy hoë voorkop was daar net een gaatjie op die teiken. 'n Kollega wou seker maak hy kry 'n boodskap.
En dit was toe ook hy wat wou uitvind wie verantwoordelik was vir hierdie petalje. Natuurlik is die maklikste ding om die een te blameer wat nie meer daar was nie – ek. Maar om 'n DD1 uit te maak en te beteken op 'n korporaal in die States wat binne 'n week sou uitklaar sou sinneloos wees.
In die weermag leer jy dat slegs offisiere gesalueer word, maar vandag salueer ek al my maats van dekades gelede, ongeag die rang wat hulle gedra het, vir die lekkerste tyd van ons lewens wat ons nooit weer wil oorhê nie!

