Ek sien bogenoemde here wonder (Poolshoogte) of Steve Hofmeyr weet wat hy sing, dis nou oor Steve se sing van Die Stem. Hulle wys op die noodsaaklikheid van simbole vir enige nasie,gee selfs te kenne dat ander gemeenskappe weet van hierdie simbole en die Afrikaner se stryd teen Britse imperialisme verstaan en respekteer. Die Stem as simbool is egter ‘n ander saak konstateer hulle uitdruklik want, vertel hulle tussen die lyne, die swartes hou nie daarvan nie.
Wat ‘n laggertjie; die swartes sing ‘Bring my masjiengeweer’ en ‘Maak dood die Boer’ sonder dat die betrokke twee here enige allergie daarteenoor toon maar die sing van Die Stem, waarvan die woorde geen geweld aanhits nie, ontlok hewige reaksie van die twee.
Hulle laat ook blyk dat die magte die syn, dus die swartes, met ‘n grootse versoeningsgebaar gekom het naamlik om ‘n deel van Die Stem in die volkslied in te sluit. Dit dui op “ ... wedersydse erkenning wat die land op ’n nuwe koers geplaas het.” Die feit dat die huidige regering nie sy kant bring om hierdie nuwe koers te handhaaf nie is geen rede om Die Stem nou af te stof en te sing nie. Altans, dit is wat ek aflei, min of meer, uit “Dat die verwagtinge van die nuwe koers weens die vergrype van ’n rasnasionalistiese staatselite uitbly, beteken nie ‘Die Stem’ moet as’t ware uit die brose weefwerk van wedersydse erkenning geskeur word nie.” Terloops, moes dit dan nie eintlik ‘[in]geprop’ gewees het in plaas van ‘[uit]geskeur’ nie?
Hoe dit ookal sy, wat ‘n laggertjie, steeds. Ons hou van die stem maar ons mag hom nie sing nie want dit affronteer ‘die ander’. Is dit nie tyd dat die ‘ander’ maar moet vasbyt en sterk wees nie (sou dit nou wel die geval wees dat hulle geaffronteer voel sónder dat die in-die-bresse-treërs dit in hulle koppe sit)? Is dit nie ook tyd dat ons maar moet begin normaal optree en ons simbole oproep en eer, soos en wanneer ons voel, hetsy om die braaivleisvuur, by ‘n sangfees of sommer net sommer nie? Ek dink dis tyd.
Maar op die onderwerp van tonetrap en hoon: Weet Deon Opperman ooit wat hy skryf (hy wat wonder of Steve weet wat hy sing)? Daar was twee TV-reekse (Opperman was die skrywer) waarin hy ons mense in ‘n uiters slegte lig gestel het. Die ergste is, die slegte goed is onwaar in die sin dat dit die indruk skep dat dit eie aan Boere- of Afrikaneraard is. Daar mag wel sulke gevalle gewees het soos in sommige van die tonele uitgebeeld maar dis uitskieters en kom buitendien onder alle nasies voor (selfs meer onder veral sekeres).
Hierdie verhale van Opperman is weer niks anders as die siek kniebuig in die rigting van die ‘ander’ nie. Wat is die boodskap wat hy oordra anders as ‘kyk hoe sleg is ons, júlle is nie so sleg soos ons nie, dis goed dat julle die Afrikaner verag want hy verdien om verag te word.’ As Opperman gedink het hierdie eie-bril-stukkend-trap-stories (vgl Woody Allen in Grab the Money and Run) gaan ‘n aansporing wees vir Afrikaners om te ‘versoen’ sit hy die pot mis. Dit werk die teendeel van versoening aan die hand: Die Afrikaner raak al hoe meer gatvol vir die foefies van die Boerehaters en populuskruipers en die ander landsbewoners se afsku in die Afrikaner word versterk. Hierdie soort stories werk polarisasie aan die hand.
Is dit wenslik om in die lig van die huidige heksejag op Afrikaans en Afrikaners, die Afrikanerdiaspora en die gedurige oproep om ‘versoening’ (lees ‘boetedoening, regstelling en betaling deur Afrikaners’) nog verdere olie op die vuur te gooi? Natuurlik nie. Deon Opperman weet nie wat hy skryf nie.
Jan Rap


Kommentaar
Jan, hoekom bekommer jy jou oor mense wat in ivoortorings lewe? En daarby ook: met watter gesag praat skrywers oor die wêreld? Hulle leef gewoonlik in hul verbeelding. Ek sal nie wat die twee here te sê het ernstig vat nie.
Ivan, as mens niks sê nie gaan hulle aanneem almal dink hulle is reg. Nou weet hulle darem daar is hier en daar iemand wat dink hulle praat twak.