In die wêreldletterkunde bestaan daar talle legendariese karakters soos King Arthur, die Griekse held, Odysseus, die Arabiese reisiger, Sindbad die matroos, Moses, Jesus, en nog vele ander. Die oudste opgetekende karakter is sekerlik Gilgamesh, die Sumeriese koning, wat, soos Sindbad, gereis het, en allerhande snaakse ondervindinge meegemaak het. Of Gilgamesh of enige van die ander karakters werklik gelewe het, is moeilik om te sê, maar daar is baie stories oor hulle.
Tydens een van sy reise het Gilgamesh ? baie ou man, met die naam Utnapashtim, raakgeloop, en volgens die verhaal wat hy vertel, moes hy al ? hele klompie eeue oud gewees het.
Baie eeue gelede, so vertel die ouman, was die gode verskriklik omgekrap omdat die mense op aarde so lawaai maak dat hulle in die godedom nie kon slaap nie. Enlil, die hoofgod, stel toe voor dat hulle ? vloed moet stuur wat alle lewe op aarde sou vernietig, sodat hulle darem ? nag lekker kon slaap. Die watergod, Ea, besluit toe om Utnapashtim te waarsku. Utnapashtim moes sy huis afbreek en daarmee ? boot bou. Dit moes ? groot boot wees, ongeveer ? kilometer lank en ? halfkilometer wyd, in vandag se taal. Hy moes die saad van alle lewende wesens bymekaar maak, en in die boot opgaar. Hy het net betyds die boot klaar gebou, toe kom die reën wat vir ses dae en ses nagte lank geval het. Die vloed wat so ontstaan het, het alles op aarde vernietig, en die enigste lewe was aan boord van sy skippie.
Na ? lang tyd het Utnapashtim ? luik oopgemaak, en ? duif uitgelaat. Na ? ruk het die duif teruggekeer, want nêrens kon hy grond kry om te gaan sit nie. Daarna het hy ? swaeltjie uitgestuur, maar die het ook teruggekom. Toe stuur hy ? raaf uit, en hy het nie teruggekom nie.
Uiteindelik het die boot teen ? berg gestrand, en die god, Ishtar, het ? reënboog gestuur as teken dat die gode belowe het om nooit weer ? vloed te stuur om die mense te vernietig nie.
In ? ander storie word vertel van Xisthurus, wat sy pa, Ardates, as koning van die Chaldeërs opgevolg het. Die god, Cronos, het hom in ? visioen besoek, en hom gewaarsku dat daar ? vloed gaan kom wat die mensdom gaan vernietig. Hy beveel hom toe om alle gebeure neer te skryf op kleitablet en in die stad, Sippara, te begrawe. Hy moes ook ? boot bou, alle viervoetige diere en voëls oplaai, en dan wag dat die vloed kom. Hy het toe die boot in vyf stadia gebou, al die diere en voëls van die wêreld daarin versamel sy vrou, kinders en vriende opgelaai, en toe het die vloed gekom. Na die reën het hulle nog lank rondgedobber, toe stuur Xisthurus voëls uit, wat gou teruggekeer het. Vir ? tweede keer stuur hy hulle uit en toe hulle weer terugkom, het hulle modder aan hulle pote gehad. Vir ? derde keer stuur hy hulle uit, en toe het hulle nie meer teruggekom nie. Hy loer toe uit en sien dat hulle teen ? berg gestrand het.
Die boodskap by alle vloedmites was dat die gode nie vertoorn mag word nie, anders sal hulle jou verdelg. Die Griekse gode het selfs van die berg Olimpus rondgeloer op soek na mense met wie dit te goed gaan, en hulle dan daar onder met een of ander ramp bygekom. So het Zeus eendag aardse kinders dopgehou, en besluit om ? einde te maak aan hulle wellus en traak-my-nieagtigheid. Hy het die teken gegee dat ? vloed oor die aarde moet losbars om al die mensekinders te verdrink. Deucalion, wat in die hooglande van Pthea gewoon het, het die donker wolke sien aankom, sy vrou geroep en haar beveel om genoeg proviand op sy skip te laai, wat hy op aanbeveling van die wyse Prometheus gebou het. Hulle het gewag tot die waters die boot gelig het, en toe vaar hulle weg die onbekende in. Visse het hulle vergesel op hulle tog, en oral het hy die gesigte van dooie mans, vrouens, en kinders in die stormwater sien dryf. Toe die storm bedaar, het sy skip teen die berg Parnassus gestrand. Deucalion het eers seker gemaak dat alles veilig is deur telkens ? duif uit te stuur om te gaan verken. Eers het die duif net teruggekom; toe het hy ? olyftakkie gebring, en op ? volgende keer het hy sommer net verdwyn. Hulle het uitgeklim op ? verlate stuk aarde, waar hulle ? altaar opgerig het vir Zeus en hom bedank dat hy so liefdevol was om hulle te red.
So het elke nasie en geloof sy geliefkoosde plek waar die ark sy finale rusplek gekry het. Die Jode en die Christene glo dis die berg Ararat, die Grieke wys na Parnassus, die Hindoes sweer dis die Himalajas, en die Meksikane hou vol dis Mt Apoala.
My gids en vriend glo weer dis êrens in die Drakensberge, en dan loer hy so na Giant’s Castle se kant toe. Die mense sê dit lyk soos ? reus wat op sy rug lê, maar vir hom lyk dit eerder soos ? skip.
Giant’s Castle:



Kommentaar
Ek lees juis nou Gilgamesj! Dit is in my oë nie ‘n mitologiese verhaal nie, maar ‘n eksistensiële een wat gaan oor die mens se soeke na die ewige lewe. Gilgamesj kry dit nie en hy aanvaar dat sy lewe sal eindig. Net die Gode is dit beskore om vir ewig te lewe. Hoe jy ookal na die ewige lewe soek – deur roem, ewige jeugdigheid, rykdom – jy sal dit nie kry nie. Pragtige stuk werk!