How many pizza's today?

  • 2

As jy al ooit by die mark was sal jy weet van wie ekke nou praat.

Wild Oats. Naby Sedgefield. Digby Oesterland.

Al ooit opgelet mense se reaksie as hulle kom om te koop en nie werklik wil koop nie? Hulle proe en oeeeehhh en aaaahhhh en draai die oge en lek lippe af en dan beduie mammie met die dik grimering vir pappie in sy uitgetrapte Crocs dat hulle moet aanbeweeg want dit raak laat. Die kinners wil strand toe en ek ruik al die kokosneut nog lank voor die verveelde meisies met gebleikte hare en uitsteek bikinis aankom. Voete sloffend in die gemaak nagemaakte country gevoel basvloer. Mammie beduie met die terugsit van haar ontwerpersbril gekoop by Foshini se laaste uitverkoping en met 'n skelm knipoog dat "ons gaan netnou terugkom" en die meisies met die oordoende kokosneut reuk slons agterna en druk die blondekuif hartebreker met die gespierde arms nog nader. Hy druk haar weg want pappie met die Crocs aan is nog nie gewoond aan die mannetjie nie. Oompie Crocs met die goue ketting om die arm en regte Rolex wil-wil nog proe maar mammie met die dik grimering en vals glimlag het nie tyd nie sy wil by die jams uitkom. Want dis nog soos haar ouma die goed nog destyds gemaak het. Op die "plaas".

Snaaks hoe mense deesdae byna almal iets kan onthou van iets wat plaas is. Al was dit nou net 'n plaasvakansie op daai vriendin met wie sy niks te doene wil hê nie. Want haar boetie was vatterig en sy wens oompie Crocs was ook so vatterig.

So sien ons die nuwe mense onseker uitpak vroeg winteroggend. Lang, rietskraal mannetjie met sulke slierterige hare. Regte outydse Bryllcream soort van kapsel. Met die verskil dat daar baie lank laas 'n kam naby daai hare was. Hare in plek gehou deur 'n leesbril wat ek vermoed, bloot daar is vir die hare. Vroutjie klein en tingerig. Praat saggies en groet eg. Jy sien in haar oë as sy vir jou glimlag dat sy nie aansit nie. Sy wil vir jou glimlag. Dis nie sout vannie aarde mense die nie. Dis regte mense die. Outydse Italianers. Praat suiwer Ingels maar jy kan hoor hulle praat ook maar met daai foreign tipe rooi taal. Ken g'n woord Afrikaans nie maar dit maak mos nie saak as iemand regtig glimlag nie. Jy gooi dan maar jou beste Ingels en julle verstaan mekaar maar so tussen alles deur.

Hulle maak Pizzas. En pasta. Familiegroot Pizzas en groot, outydse wit bakke pastas. Klaar gesny in Italiaans grootte porsies wat eintlik 'n familie kan voed. R20 per porsie en R40 vir 'n pizza versier met regte Parma-ham en Italiaanse worsies en ander vleise wie se name ek nie aldag kan uitspreek nie maar hemels proe en regte Italiaanse kase en. En jy kry die foto in jou kop. Ek staan en soek uit en ek dink as hierdie twee net die kans kon kry om 'n restaurant oop te maak gaan hulle geld maak soos daskak maar hulle is hier en hulle het net nie geld nie.

Ek koop maar my vier pizzas want ek sien hulle ken van deeg reg voorberei soos ek daarvan hou en hier staan 'n kort dik mannetjie met dik brille nader en gryp my luiperd uit my hand. "How are you today, Oyster? How many Pizzas?" Die kleine dametjie lag sag en waardig en ek voer die grypende hand met my noot en die noot verdwyn iewers in 'n bodemlose boks in. "Keep the change."

"Thank you!" grynslag hy in my rigting en die rietskraal waardige Italianer vra of hy my kan help dra. Ek beduie nee, ek’s heel ok en ek loop draai by Johan vir my Amazing brood en hy beduie na die Pizzas en ek beduie dat die ouens ken van pizza maak. Johan beduie dat ek waar praat maar dit tragies die Italianers se storie.

Want sien: Hulle het basies net 'n huis. Klein met geen haard nie. Maar het harte van goud. Ken van kosmaak as daar 'n geldjie is wat daar meestal nie is nie. En wil hul talent met die wêreld deel want dis maar hoe hulle is. Te goed vir hierdie nuwe tipe van wêreld wees. So kry hulle uiteindelik hul plek by die mark en die mense is gaande. Wat ek later uitvind is dat hierdie twee sout vannie aarde mense basies verniet werk. Want Pofhanjies wat so gretig die luiperd uit my hand gryp het die kans van 'n leeftyd gesien:

Hy ry die twee mense mark toe. Dis al. Daarvoor vat hy die helfte van die omset plus die ryloon plus sy tyd en moeite. Ek en Johan sit en bereken dat die twee basies minder as hul kostes dek as pofhanjies sy "kostes" afgetrek het. Ek beduie vir klein vroutjie dat dinge nie so werk nie en dat ek eerder pizzas wil koop by haar persoonlik en dat ek dan R60 sal betaal maar ek gee die geld soos wat die nuwe manier van geld wissel plaasvind: Jy weet mos van pikkewyn handjies en hoe mens deesdae tenders kry.

Sy beduie vir my nee, sy kan dit nie doen nie want dan sal sy oneerlik wees teenoor Pofhandjies. Hy ry hulle immers elke Saterdag.

Ek los dit en koop maar ses pizzas. Net dalk kan hulle brood en melk koop.

oester

  • 2

Kommentaar

  • Mensig

    Julle maak mens honger met al die pizzas stories, asook Naomi se liplek-lekker pizza-prent hierby

  • Ja Oester, so is die lewe maar. As jy in die knyp is, maak mens partykeer nie die regte besluite nie. Die spreekwoord lui mos, 'n benoude kat maak benoude spronge. Soos jy weet, jy sal altyd iemand kry wat met jou idees of planne wil smokkel. Pofhandjies is oral in die samelewing, mens moet ligloop vir hulle. Hulle belowe jou die son maan en sterre, jy moet hulle net self loop haal.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top