Dagsê George
Jou kommentaar onderaan my brief van 23 deser verwys.
My brief se opskrif moes eintlik wees ‘Antwoord op Dirk Rigter en George/Pieter Redelinghuys se kommentaar’ maar ek het vergeet om dit by te sit en ek het ook vergeet om die verwysing te gee, naamlik my vorige brief wat ‘n reaksie was op Dirk Rigter se ‘alles tevergeefs’-brief.
Die kommentaar onderaan my brief was deur Dirk Rigter en die Redelinghuys kommentaar was onder die opskrif ‘George Redelinghuys’ maar is onderteken (die naam onderaan die kommentaar) deur Pieter Redelinghuys, vandaar die naam George/Pieter in my brief. Ek vermoed die verwarring (naamlik dat ek jou aangespreek het) is te wyte aan die feit dat jy heelwaarskynlik nie hulle kommentaar onderaan daardie brief van my gesien het nie. So die ‘George’ was George Redelinghuys, nie George Bekker nie. (Terloops, weer eens vir my ‘n bewys dat hierdie kommentaarstorie nie goed werk nie; sigbladbriewe, as mens dit so kan noem, werk baie beter).
Maar terwyl ek nou jou aandag het (hopelik); ek is diep gewond omdat jy sê om“ ... met [my]en Kobus te argumenteer is 'n hopelose saak en enige man of vrou wat dit doen moet sy kop laat lees.” Ek het tog al baie hier gesê dat dit ek mag wees wat die kat aan die stert beet het en, indien dit die geval is, laat my weet; mens is nooit te oud om te leer nie en ek verwelkom om reggehelp te word. Miskien het ek dit nie duidelik gestel nie, einste Dirk Rigter het my juis al vertel dat ek onsamehangend skryf en ek het daarna probeer meer samehangend wees.
Dat jy my met Kobus vergelyk verbaas my ook. Ek het niks teen Kobus nie (alhoewel ons ook al swaarde gekruis het hier) maar ek vermy godsiensdebatte; as twee ouens stry en die een staaf sy argumente met, sê, die Bybel en die ander een staaf syne met, argumentsonthalwe, die Heilige Koran gaan hulle ooreenkom ‘n paar myl anderkant waar twee parallelle lyne ontmoet, nie eers in die oneindigheid nie.
Die paar keer wat ek wel oor godsdiens gepraat het – in reaksie op Thomas, Angus en George Claassen se prediking – was nie in sendingmodus nie; dit was meer oor geloof in die algemeen kan jy maar sê.
Ek kan ook nie verstaan dat jy reken ek kan nie eerlik wees nie; kom ek rêrigwaar oneerlik voor? Sê my asseblief waar jy dink ek oneerlik was dat ek dit kan regstel of ten minste ‘n verklaring gee.
Jou politieke ontleding vind ek goed uiteengesit en beredeneerd; vanuit my sienswyse (wat nie reg mag wees nie onthou) kan ek nie veel fout vind daarmee nie. Een ding, egter, die implikasie is onder andere dat jy reken wat nou aan die gang is, is die enigste alternatief is vir die destydse bedeling. Dit is nie noodwendig die geval nie. Ek kry die idee jy beskou die huidige toestand as onvermydelik, die natuurlike verloop van die geskiedenis, en daar is net mooi niks wat ons daaraan kan doen nie.
Wat my bring by jou beskuldiging dat ek ‘n onwrikbare houding sou hê. Onwrikbaar ten opsigte waarvan? My betoog kom grootliks daarop neer dat, siende dat dit nou bykans onmoontlik geword het om die teenswoordige sirkus goed te praat, dit nou mode geword het om die verlede, en spesifiek die Afrikaner, te verbooslik en dit is gewoon nie waar nie; die Afrikaner is nie die wreedaard soos deur die apologete vir die huidige gemors verkondig word nie.
Is dit nou onwrikbaar om in die verband voet by stuk te hou, naamlik dat die Afrikaner NIE boos en wreed is nie of, indien almal, die hele wêreld, dan in elk geval boos en vals is, dat die Afrikaner uitgesonder word? Ek dink nie so nie.
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Jan, dit is goed om van jou te verneem en jy het my volle aandag. Ek hou van jou reaksie en dink ons sal lekker kan gesels oor 'n beker koffie of koppie tee (sterker drinkgoed sal nie eers nodig wees nie). Dat jy 'n konserwatiewer Afrikaner as ek is, is ook nie 'n probleem nie, want ons is albei op ons standpunte geregtig. Dis net as jy en Kobus vasskop gee julle nie 'n halfduim toe nie. Ek het in 'n stadium met Kobus gekorrespondeer oor die verskillende weergawes van die skeppingsverhaal in Genesis 1 en 2. Dit was 'n vermorsing van tyd. As jy op politieke gebied nie heeltemal so onbuigsaam (dis eintlik 'n te sagte woord) soos Kobus op godsdienstige gebied is nie kan ons ver kom.
Moet ook iets oor my naam sê. My naam is nie gegee omdat ons familie 'n bewondering vir Engelse koninklikes het nie - inteendeel. My voorname gaan terug na 'n Duitse oupagrootjie wat George Daniël Schoonraad geheet het. Verlede jaar verskyn daar 'n stomende, uitasem storie op LitNet geskryf deur George. Dis toe 'n jonger George met geweldig hoë testosteroonvlakke en om enige misverstand in die toekoms te voorkom kan ek nie meer slegs my voornaam gebruik nie, veral as daar nog 'n George Redelinghuys ook is.
Jammer dat ek jou 'diep gewond' het en dan nog van oneerlikheid ook beskuldig. Daarmee het ek bedoel dat as jy 'n mening uitspreek jy daarby sal hou selfs al verander die prentjie gedurende die debat. In 'n sekere sin was daar iets onvermydeliks aan die situasie van sowat 20 jaar gelede. Ons kon kompromië aangaan of veg, met die wete dat ons noodwendig sal verloor. Waaroor ek nie twyfel het nie is dat De Klerk nie die beste span na die onderhandelings gestuur het nie (hoe klink dit vir 'n eufemisme?) en dat hulle slap was. Dit het ons in 'n onbenydenswaardige posisie geplaas maar beteken nie dat ons nie standpunt kan inneem nie. Solidariteit en mense soos prof Koos Malan wys vir ons dat baie steeds gedoen kan word. Malan sê in Woensdag se Beeld: “Die gemeenskapsgevoel onder die Afrikaner is baie sterker as wat ons dink en partypolitiek is sekondêr. Met partypolitiek word minderhede se belange vervreem, maar in burgerlike organisasies word dit herontdek."
Stem saam met die laaste deel van jou brief. Al moet ons ons veral met die hede besig hou is die werklike feite van die verlede ook belangrik en Giliomee gee vir ons belangrike insigte. Beste wense.