Gaan Engels dan Afrikaans vervang?

  • 6

Beste Jan,

Dit wil my voorkom of die “basiese probleem” waarvan jy praat, en wat ek , volgens Jan Rap, van wegskram, lê in die woord Ontlening.

Die HAT gee die volgende verklaring: ontleen, ww. (met aan) Oorneem van, put uit:  Woorde aan ’n ander taal ontleen. Ontleende gedagtes. Ontlening.

Dit beteken enige woord van enige taal wat in enige ander taal GEBRUIK word,  is ’n leenwoord.  

Volgens jou moet ’n woord “deel wees” van  ’n taal voor dit gebruik kan word. Hoe weet die spreker dat 'n woord deel is van Afrikaans of nie? Dink jy daar sit ‘n Big Brother en sorteer woorde? Hierdie een mag gebruik word; daardie een mag nie gebruik word nie. (Ons is reeds op pad na ‘n Orwelliaanse distopia met sy Doublespeak en Newspeak. Ons mag bv nie meer k-woorde gebruik, of self daaraan dink nie.) Moet die woordeboeke vir jou bepaal watter woorde leenwoorde is, en watter woorde nie in Afrikaans gebruik mag word nie? Moet die spreker van Afrikaans ’n taalkursus deurloop om te leer wanneer is ’n vreemde woord toegelaat as leenwoord en wanneer nie?

 Moet asseblief nie wegskram nie; beantwoord hierdie vraag.

Ek kan dink aan verskeie redes waarom enige taal van leenwoorde gebruik sal maak. Ek sal slegs Engelse leenwoorde uitwys, want dit is nog produktief, terwyl leenwoorde uit ander tale soos bv. Duits, Latyn, Portugees en Frans gevestig is.

1.       Vir die begrip wat deur die Engelse woord aangedui word, bestaan in Afrikaans nie ’n term nie. (Woorde wat betrekking het op die Wetenskap, Regswese, Landsbestuur, tegniek, ens.)

2.       Die Engelse woord druk die gedagte noukeuriger uit  as die Afrikaanse woord, en het ook soms ’n effens ander betekenis. Die gevoelswaarde van die woord speel hier ’n rol. (konversasie x gesprek, affronteer x beledig, soepel x buigsaam, kompensasie x vergoeding, heppie x gelukkig, bend x orkes, introducé x voorstel, stage x verhoog, jollie x vrolik, jintelman x heer,  spiets x toespraak, ens.)

3.       Engels het slegs één woord vir ’n sekere begrip, terwyl dit in Afrikaans ’n hele omskrywing is. (aktueel, nasionaliteit, prestige, memoriseer, ens.)

In Suid-Afrika is beide Engels en Afrikaans landstale. Engels het natuurlik die voordeel dat dit ook ’n wêreldtaal is, terwyl Afrikaans net hier gepraat word; dus sal Engels se invloed op Afrikaans groter wees.

Jou Steve-Gert-redenasie bly nog steeds verkeerd. Gert se kennis en verstaan van Afrikaans hang nie daarvan af of  ’n woord ’n leenwoord is of nie. Dit hang af van sy persoonlike woordeskat, of dit nou Afrikaanse, en/of Engelse, en/of Duitse,  en/of Griekse woorde bevat of nie. Ek is seker daarvan niemand wat Afrikaans praat, ken die betekenis van al die Afrikaanse woorde nie. Dit gaan dus nie daarom of Gert nie Engels ken nie, dit gaan oor watter woorde in sy woordeskat is.

Volgens jou kommunikeer ’n mens nie in Afrikaans as jy Engelse woorde tussenin gebruik nie. Sê vir my dan in watter taal kommunikeer iemand as hy sê: “Ons groepie het ’n band gestig om musiek te maak.” Of soos ek nou die dag gehoor het: “Die dokter het my vir ’n volle week afgeboek.” (Nie dat ek weet wat die “suiwer Afrikaans” vir “afgeboek” is nie. Weet jy?) Of: “Ek voel so happy noudat dit naweek is.”

As bogenoemde sinne nie Afrikaans is nie, watter taal is dit dan? Engels? ’n Nuwe taal? Dit kommunikeer in elk geval deksels goed.

Dis baie duidelik dat die Bybelse skeppingsverhaal vir jou as taalmodel dien.  Jy skryf: “My model, naamlik dat ons taal klaargemaak iewers gekry en laat agteruitgaan het is vir my 'n model wat die verskynsel beter verklaar (dus eerder Occam se mes as evolusie), soos, byvoorbeeld, ons die omgewing verwaarloos.”

Daar is net twee taalteorieë vir die ontstaan van taal: die Bybelmodel waarvolgens die mens skielik ’n taalvermoë bekom het (Natural Theology) en die evolusionêre ontstaan van ’n taal wat ’n langsame proses is.

Neem jy my dus kwalik as ek aanneem dat jy die Bybelse model aanhang as jy praat van “my model” en “dat ons taal klaargemaak iewers gekry en laat agteruitgaan het.”?

Ek volg nie wat jy met “taalbesoedeling” bedoel nie. Is Engels dan ’n vuil taal dat dit die skone, blanke en reine Afrikaans sal besoedel? Geen taal besoedel ’n ander taal nie. Elke taal is ’n taalstelsel geskep deur die taalvermoë van die mens, en taal dien as kommunikasiemiddel tussen mense. Dit is nie ’n politieke speelbal wat vertroetel moet word nie.

Daar bestaan nie so iets soos taalverwaarlosing nie, maar as jy daarmee defleksie bedoel, dan praat ek en jy ’n verwaarloosde taal, nl Afrikaans. Hier wil ek nog ’n evolusionêre begrip by jou tuisbring, en dit is besnoeiingseleksie. (Eng truncate) Deur seleksie word alles wat onnodig is uitgesny, soos bv die naamvalsvorme, ens. Deur besnoeiingseleksie word tale vereenvoudig, natuurlik met die makliker kommunikasie wat daarmee gepaard gaan.

In jou en my skrywe oor Afrikaans is daar duidelik twee sienings:

1.       Afrikaans is nog nie volwasse genoeg om langs Engels in Suid-Afrika staande te bly nie. Afrikaans gaan mettertyd verdwyn en deur Engels vervang word.

2.       Afrikaans is ’n volwasse, volwaardige taal, soos Duits, Engels, Frans en alle ander tale. Net soos ander tale, sal dit groei om voortdurend aan te pas by nuwe omstandighede en nuwe verwikkelinge. Net soos ander tale sal dit ook van alle taalmiddele soos ontlening, Lehnübersetzung, afleiding, samestelling, ens. gebruik maak om te groei.

Groete,

Angus

  • 6

Kommentaar

  • Pieter Redelinghuys

    Beste Angus,

    Met hierdie skrywe oor taal merk ek dat jy nie alleen 'n knap wetenskaplike is nie maar ook interessante gedagtes oor taal kan voortbring, en vrae kan stel . Een aspek wat jy nie genoem het nie is seker die vrees van sekere Afrikaners vir die "verbastering" (miscegenation) van die Afrikaanse taal. Lui dit 'n êrens 'n klok?

    Vir die Afrikaner is volksidentiteit en taal byna sinoniem, en meer relevant as bv in die geval van  Engels wat wêreldwyd gepraat word: Die praat van Engels in Australië maak nie van die Australiërs Engelse nie, ook nie die Kanadese Engelse nie.

    Praat die "Kleurlinge" van die Wes-Kaap Afrikaans of 'n mengsel van Afrikaans en Engels? Praat hulle 'n nuwe taal?

    Groete,

    Pieter Redelinghuys

  • Beste Pieter,

    Dankie vir jou bemoedigende reaksie op my brief aan Jan. Hierdie einste Jan Rap vrees die verbastering van Afrikaans, en heeltemal tereg ook. Ek het al voorheen in een van my skrywes dit evolusionisties probeer verklaar. Die patriotiese gevoel van die mens teenoor sy taal is maar een van die middele om die gene te beskerm teen uitwissing. Jan wou nog nooit hieraan byt nie; dit lyk my hy is 'n Kreasionis. 🙂
     
    My siening is dat Afrikaans alreeds volwaardige en volwasse taalstatus bereik het, dat dit nie verbastering hoef te vrees nie. Twee tale langs mekaar is nie uniek nie. Kyk maar wat gebeur op die grens tussen Nederland en Duitsland. Die taal wat weerskante gepraat word, is baie dieselfde. Sou 'n mens sê dat die mense aan die Nederlandse kant Nederlands praat, of dat die mense aan die Duitse kant Duits praat, is jou gevolgtrekking meer gebaseer op sosiale en politieke redes as linguisties. Eienaardig ook is dat hierdie Duits makliker verstaan word deur die Hollandse bure as  bv. deur Duitssprekende Switsers of Oostenrykers.  
     
    Ek dink teen hierdie tyd kan 'n mens al van Kaaps praat as 'n dialek van Afrikaans. 
     
    Wat ek graag sou wou weet is wat is die houding van bv die Berlynse Duitser teenoor die die Duits wat  gepraat word aan die Nederlandse grens? Is daar ook taalindoenas wat neersien op hierdie verbastering?
     
    Groete,
    Angus
  • Meneer Angus

     
    Ek is tans nou tans in matriek en ons het n debat onderwerp wat juis handel oor die invloed van engels op ons taal, ek sal graag van u standpunte wil gebruik maak, maar ek benodig u volle naam en beskrywing! ek hoop u kan my help! ek stem saam met u standpunt en sal dit graag ook so wil bewys in die debat gesprek. 
    Dankie Corlia
     
  • Beste Angus

    Ek doen 'n debat met die soortgelyke onderwerp en wonder of jy dalk die oorspronklike brief van Jan het, aangesien ek net op jou brief afgekom het? Ons onderwerp vir die ATKV debat is die volgende: Die invloed van Engels sal verreikende gevolge hê  vir die voortbestaan van die Afrikaans. Ek sal dit vreeslik waardeer as u vir my 'n paar van jou idees onder die bogenoemde onderwerp kan gee.
     
    Groete
    Stefanie
     
  • Beste Meneer Angus

    Ek is ook besig met die skole ATKV debat oor Engels se verreikende gevolge op die voortbestaan van Afrikaans - ek glo dis olie op die vuur- ons taal groei nou juis!  Ek sal dit baie waardeer as u dalk van u standpunte ter ondersteuning van hierdie standpunt met my sal kan deel.

    Baie dankie vir u tyd.

    Christiaan

  • Aan alle partye,

    Wat baie belangrik is om in oorweging te bring is beide Engels en Afrikaans se veranderinge oor die vormings-jare. Beide tale is gebore uit Germaanse tale en beide bevat woorde wat uit bv. Latyns en Frans kom.

    Ek self het lank gesoek na 'n "suiwer" Afrikaanse vertaling van die Engelse "prestige" voor ek gevind het dit is nie "suiwer" Engels nie, maar soos RSVP, 'n Franse woord wat beide tale ontleen, en dus in dieselfde manier gebruik.

    Die "verbastering" van Afrikaans deur Engelse woorde te gebruik is meer gereeld eerder 'n relatiewe jong taal wat 'n ouer taal (nie eg-Engels nie) se woorde leen want die jonger taal het nog nie 'n woord daarvoor geskep nie.

    Ek voel eerder die probleem hier is juis sprekers van beide Engels en Afrikaans wat voel hul tale moet suiwer gehou word en nie in ag neem dat hierdie tale nog glad nie so gevorder soos sekere ander tale is nie en juis nog uitgebrei moet word.

    Ons het 'n lekker taal. En geen Germaanse of Franse taal kan "lekker" so goed beskryf Afrikaans nie. Ons hoef nie bang te wees dat ons taal weg gaan val solank is dit bly praat en skryf en toelaat om te groei nie.

    Lekker dag vir almal.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top