En toe vanoggend ...

  • 1

...stap my broer ewe kordaat vanuit Australië my kantoor binne.

“Paul – wat ‘n verrassing!” Ons soen en druk en ek vergeet skoon van die koors-verkoue wat al drie dae aan my kleef. Ek bestel SA koeksisters en sorg dat daar ‘n warm hoenderpasteitjie of twee saam kom. Na ‘n uur ruik my kantoor na koffiekatoeter en stoot só die stofreuk terug wat vanaf die grootpad in ons werksplek inwarrel. Hulle werk al maande aan die hoofstraat.

“Julle paaie lyk maar sleg...”

“Mmmm, nie soos dit gelyk het toe julle hier weg is nie, né?”

Ons gesels oor nostalgiese kinderdae en hy het DVD’s gebring vanuit Australië. Meestal oor:Hunting – action information & entertainment. Hy was altyd ‘n groot jagter. Ek ‘n groot bewaarder. Hy is hier om te kom skiet in SA. Ek skerts egter rustig saam en onthou die mooi foto’s vanuit die Kruger wat ek nog nie afgelaai het nie.

“Kyk gerus na hierdie DVD,” glimlag hy opgewonde. “Daar is ‘n vrou op wat varke met ‘n mes jag!”

“Rêrig? Ek bewaar mos meer,” kom die waarheid deur: “Hou nie daarvan as ‘n groot vyf sneuwel nie.”

Skielik spring hy op: “Is my vriend se kar veilig hier voor jou kantoor?”

“Ja-a-wat, redelik. Laat ek net die ontvangsdame vra om oog te hou, as dit jou beter sal laat voel.” Ek stap na die ontvangs en sien buite staan ‘n vreemde wit Renault. Ek vra Mary om oog te hou, en vertel saggies dat my broer dink hier is baie crime in SA, en daarom weggehardloop het. Terwyl ek terugswaai knipoog ek vir haar.

Ek is verbaas oor sy senuagtigheid. Is SA rêrig so sleg en onveilig soos hul voorgee? Ek frons verontwaardig. Gereed om vir my land, taal en volk te veg. Ek meen - SA se diere is goed genoeg om uitgemoor te word!

“Ek hoor hul gaan nog tot 2020 plase terugvat?”

My hart sak. Ek is gelukkig in SA. Tevrede met my cabin in Magoebaskloof wat tussen wolkberge, kranse en watervalletjies staan, en happy om wildtuin toe te gaan so paar keer in ‘n jaar.

“Ek dink jul moet dit heroorweeg om ook Australië toe te kom.”

“Ag nee man, ons is happy hier. Dis nie so erg nie. Ons het nog nie iets ernstigs oorgekom nie.”
“Ja, totdat jou kind vermoor word. Dan praat jy anders.”

Ek knip nie oog. Hy gaan voort: “Perth is net so mooi soos SA – indien nie mooier.”

Ek antwoord nie. Sien net die bekoring van die bosveld met sy hordes mopanies en wildevy wat op die oewer van die bruisende Olifantsrivier staan.

Ons gesels oor werk en kerk. Hy vertel van die kerk wat hulle bou en ek vertel van die seminaar wat ons in Johannesburg twee weke gelede bygewoon het. Die volgende oomblik sien ek weer die prentjie: my dogter wat bibberend uit die groot saal sluip om vir ons warm goed te gaan haal in ons voertuig. Daar kom sy toe af op twee mans wat besig is om die hele bakkie van binne te strip. Op soek na die tracker-device (Dit het nie eens ‘n tracker ingehad nie). Die skrik wat my dogter moes deurgaan en die konfrontasie. Die voertuig wat ons moes huur om terug te keer na Polokwane en die polisie waarvoor ons ure moes wag. Agterna, terwyl ons bewend terugry, besef ons eers dat hulle haar iets kon aangedoen het. Sy was erg getraumatiseerd.

Ek rep nie ‘n woord. Roep net kort-kort na die ontvangs: “Mary – is my broer se kar nog veilig?”

“Ja mevrou – alles reg.”

Later loop ons groetend na buite. Skielik word ek yskoud - die wit kar is weg. My broer en sy seun drentel egter rustig voort tot om die hoek van die kantoor en ons wuif vir oulaas.

Ek en Mary het verkeerde kar opgepas...

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top