Ryk klein kak swem met sy duur duikbrille wat bly opwasem tot by my vandag terwyl ek probeer om my brood te verdien. Ek sien die klein etter is halfdronk en sy meisie se pienk designer bikini is te klein vir die tiete wat sy daarin probeer prop en sy moedig hom vroumoedig aan vannie strand af. Die paartie is jolig en die drank en aaptwak vloei soos waters van genot. Hy vra my wat maak ek op hul strand en in hul see en ek sluk meer water as gewoonlik en ek beduie hom hy moet op die duur restaurant se spyskaart loop kyk wat ek hier maak. Die klein rykgat ploeter in die rowwe Blou Dam rond en ek neem 'n morele besluit om hom beslis nie te help as hy dalk innie kak sou beland nie.
Hy vra my of ek die see ken en ek beduie tussen die slukke water deur dat ek en die Blou Dam darem al 'n leeftyd en 'n paar geslagte lank saam kom en mekaar soort van verstaan. Ek vra die klein rykgat om my bietjie kans te gee want ek is net gou besig om my daaglikse brood te verdien en sal hom en sy maters en hul meisies met die klein bikini’s en groot tiete netnou alles mooi beduie. Maar net nie nou nie. Groot asseblief.
Hy vra my of hier haaie is en ek beduie ja, sure, dis hulle Shoprite hierdie en as jy mooi kyk sal jy hulle dalk gewaar. Jy verwag mos manne met baie tanne as jy in hulle buurt rondswem. Hy vra my of ek nou een of twee gesien het en ek beduie vir die klein rykgat dat ek nog nie so opgelet het nie want ek probeer nog my dag se brood verdien.
"Ja, maar is hier haaie?"
"Nee, hier’s geen haaie nie ... hulle kry jy gewoonlik iewers op foto’s en in National Geographic en doer annerkant die baai waar julle baie betaal om in hokke af te sak met lokaas ..."
"Kan ons maar hier waar dit dieper is swem? Jy is tog hier en dit lyk of jy die see ken?"
Ek ken nie die see, nie my ou mater. Ek en die Blou Dam leef maar so soort van saam."
"Blou Dam?"
"Blou Dam ja."
En toe ignore ek hierdie jong en ryk klein kak soos wat ek 'n deursnee stopstraat ignore.
Ek stap later met rukke en stote uit my Blou Dam en sit en kom tot verhaal op 'n klip en die spul dikgerookte effens aangeklamdes met vol broekies en groot tiete kom waggel aan.
Iewers tussen die spul is 'n slimme wat, ek vermoed, moed bymekaar geskraap het omdat ek vermoed dit sy pa se oom se spul huise teen die duine is. Dis hulle grond hierdie, pappa en hy ganie lat jy sommer op hulle stukkie eksklusiewe strand kom maak en swem soos jy wil nie. Iewers baie lank terug het een of ander dude met geld en invloed kon koop en kon verbied tot redelik onlangs toe. Selfs paaie kon toemaak.
Die jonge heer sonder gryntjie medemenslikheid beduie dat ek nie lank moet talm op hul strand nie. Want dit is hulle strand hierdie. Ek vra hom of sy oupa die Blou Dam ook gekoop het toe hulle hier kom plak het met hul uitheemse Spaanse boustyl gedrog van 'n huis en toe sien ek hy verstaan nie, en beduie dat ek gou sal loop want ek kan sien dis hulle strand hierdie. En wil nie innie pad wees nie.
En toe is ek skielik spyt dat ek nie baie lokaas had vir 'n paar van die groot manne met die lang rye tanne nie. Want net vanaand gaan hierdie spulletjie probeer swem in hul eksklusiewe baaitjie vanwaar sovele reeds weggejaag is, en ek dink by myself: as jy so groot en sterk kan wees en kan rang trek op land waar jy verwoes en vernietig het om jou eksklusiewe tydjie te kan geniet dan is dit tog sekerlik net regverdig as die manne met die baie tanne ook 'n gelyke kans kan het? Maar dis verkeerd vermoed ek. Dit sal onmenslik wees.
oester


Kommentaar
Oester ek het jou storie geniet. Vrede oor die groot dae. Gelukkig gaan die rykgatte weer terug Gauteng toe.
Oester
Soos altyd skryf jy uitmuntende staaltjies vanuit die Suid-Afrikaanse lewe, met die plaaslike patios ingegooi vir lekker smaak.
Ek wens net dat jou skaars skrywe meer gereeld sal wees.