Ek is in 1941 gebore op die plaas Feltham in die Maclear-distrik, die middelste van 9 kinders van Dirk en Emily Pretorius (néé Botha). My pa was voorman op die plaas wat aan ene Scot behoort het. My ouma Pretorius was die vroedvrou van die omgewing.
Die plaas was so 8 myl buite Ugie, ’n gehuggie in die Maclear-distrik, in die Noord-Oos-Kaap. Dit grens aan Griekwaland-Oos.
Hierdie was nie die eerste werk wat my pa gehad het nie. Hy is in 1913 gebore en dit was reg in die depressie toe hy sy loopbaan begin het. Hy het ook gehelp bou aan die spoorlyn vanaf Sterkstroom na Maclear.
Dit was moeilike dae en die enigste ryding wat my pa gehad het, was ’n kapkar. Sy perde was egter altyd van die beste, want hy het geweet hoe om met perde te werk. Hy het die meeste mense in die omgewing se jong perde ingebreek. Ek onthou hoe hy jare later toe ek al opgeskote was, eendag op ’n steeks Vosperd se rug geklim het en in ’n ommesientjie die perd op ’n trippelgang gehad het.
My ouma het my ’n staaltjie vertel van wat gebeur het toe hy een van my oupa se perde as karperd moes afrig. My pa het ’n perd gehad met die naam Prins. Ou Prins was ’n perd wat altyd links ingespan was. My oupa wou egter hê dat sy perdjie ook moes links trek. Enigiemand wat perde en osse ken, sal weet dat jy nie ’n dier inspan op ’n ander plek as waaraan hy gewoond is nie. Dit is nou as jy nie wil moeilikheid hê nie. My pa het egter geen ender keuse gehad nie en het gemeen hy sou Prins kon beheer. Daar was van die begin af probleme, maar my pa het besluit om voort te gaan. Dit het naderhand heel skaflik gegaan en my pa het gedink sy probleme is verby.
Die ander perdjie was kleiner as Prins, en moes maar maak soos Prins maak. Die erge probleme het begin toe my pa terugdraai na die opstal. Prins was seker al moeg van die ander perd saamsleep, en dit nog uit sy normale posisie. Hoe nader aan die huis hoe erger het dit gegaan. Prins wou later nie eers meer luister nie en het die stang vasgebyt en op loop gesit. Voor die opstal het ’n akkerboom gestaan waar my pa altyd uitgespan het, en Prins is in alleryl daarheen. Of ou Prins moedswillig was, en of dit toeval was, kon niemand sê nie. Ook moet onthou word dat Prins altyd links getrek het en dus altyd net regs van die boom verby beweeg het. Hierdie dag het hy dit ook so gedoen, met tragiese gevolge vir my oupa se perdjie. Die perdjie is kop eerste in die boom in, en daar is hy weggesleep, morsdood. Die tuie was natuurlik ook aan flarde.
Nog ander staaltjies was ek uit hierdie tydperk gehoor het, deur my ma vertel, is dat sy en Tant Heila Venter, een van my pa se susters, baie kere die jongstes op hul rue geabba het en met die ander aan die hand die ent Ugie toe geloop het. Ander kere weer het hulle die kapkar gebruik om na die Venters se plaas te gaan. Daar was ’n hoogte, Witbooi se hoogte, waar hulle moes uit. Dit is baie steil en die perde was maar befoeterd. Die twee vroue het dan aan die voet van die bult stilgehou en die kinders afgelaai. Een het dan die perde met kar en al tot bo-op die bult gelei, terwyl die ander by die kinders gebly het. Die perde is aan ’n boom vasgemaak en die persoon is weer af na waar die ander wag. Hulle het die kinders dan na bo gedra en die tog voortgesit.
Van Feltham kan ek uit my kinderdae nie baie onthou nie. Net so hier en daar ’n skimbeeld van my suster Yda ( wat net ouer as ek is ) wat ’n sak agter haar aansleep en okkerneute optel, of waar ons in die perdekar ry iewers heen. Ek het later in my lewe baie kere daar verby gery, maar nooit daar aangegaan nie. Gedurende Desember 1989 het ek en Rina (my vrou) die kontrei besoek, en daar ’n draai gemaak. Van die sandsteengebou het nog net die mure gestaan. Ek kon ook niks van die omgewing onthou nie. Dit is egter een van die mooiste dele van ons land. Ek verstaan dat daar denneplantasies in die omgewing aangeplant word. Die klimaat is baie geskik daarvoor. Die reënval is hoog en die winters baie koud.
My eerste gewaarwording van die wêreld was ’n kombuis met ’n stoof en ’n kinderoppasser met ’n baba op die rug. Die baba moes my suster Miela gewees het. Rondom die huis was ’n oop stuk veld met ’n bos so ’n entjie weg aan die een kant van die huis. Ma het partymaal met ons gaan stap in die pad wat langs die bos geloop het. Dan het ons ons verstom aan die apies in die bome. Ek het later gehoor dat dit die bosboustasie op Baziya in die Transkei was.
Later was dit ’n ander werf, baie groter met die bos aan die een kant en groot ooptes aan die ander kante. Ek sien nog die pad wat teen die heuweltjie afdaal, deur ’n laagtetjie gaan, om ’n effense draai na links swenk en dan geleidelik begin klim, met die grond wat op regterhand afdaal in die bos in. Op linkerhand is ’n gelykte met ’n land, wat ook weer na ’n paar honderd tree afdaal na die vallei. Voor die pad die werf binnegaan is daar ’n draadhek, met net daarna ’n paar bome op linkerhand.
Op die werf was daar die huis, skure en stalle en dan my pa se kantoor wat later aangebou was. Agter die skure was die kwekery waar my pa denne - en wattleplantjies gekweek het. Die werf was omhein. Dit was egter die grootte van ’n kleinhoewe. Aan die noordekant was daar ’n stofpad aan die buitekant van die omheining. Dit was nie ’n gemaakte pad nie, maar is gevorm deur die slees en ander verkeer, meestal perderuiters en voetgangers wat somtyds daar verbygekom het. Die plaaslike bevolking het nie motors gehad nie.
Daar was ’n land tussen die huis en die bos, waar my pa koring gesaai het. Hy het die grond omgeploeg met ’n span osse, en die grond dan gelyk geëg. Sodra die grond gelyk was, het hy die koring gesaai. Hy het ’n klompie saad in ’n sak gegooi en dan heen en weer oor die land te perd gery en die koring met sy hand gesaai. As daar nie koring op die land was nie, het my pa patats geplant. Seker ander groente ook, maar ek onthou net die patats. Dit was nie ’n groot land nie. Net genoeg vir eie gebruik.
Op die land wat langs die pad lê het my pa mielies gesaai. Eendag was ou Samson besig om hierdie land te êg. Ek het op die êg geklim om saam te ry. Dit het alles heel goed gegaan totdat ons weer ’n draai gemaak het. Die êg het omgeslaan en bo-op my geval. Wat verkeerd gegaan het weet ek nie. Ek het seker te naby aan die kant gesit. Ewentwel, al wat ek opgedoen het was ’n bloedneus. Dit het my gespeen van êgry.
Die huis was op ’n plato gebou. As mens op die rand gestaan het was daar sover die oog kon sien groepies strooise met ’n veekraal daarnaas. Die krale was meestal garingbome wat in ’n sirkel of vierkant geplant was. Daar was geen landerye nie. Die oorwegende kleur was groen. Die plantegroei was meestal gras met so hier en daar ’n natuurlike bos in ’n klofie.
Teen die hange van hierdie plato het ons, ek en swart kinders van die omgewing wat somtyds by my kom speel het, afgery met ’n slee wat my pa vir my gemaak het uit ’n dik stuk plank waarvan die een punt skuins geskaaf was. My pa het ook vir my vlieërs gemaak wat ek dan hier kom lanseer het, of liewer my pa het dit gedoen, want ek was nog te klein om die tou vas te hou.
Die enigste motor in die omgewing was my pa se Plymouth. Hy is egter op verskeie kere as ambulans gebruik om beseerdes van die omgewing na ’n naweek se jolyt na Umtata se hospitaal te vervoer.
Die Plymouth is ook maar spaarsamig gebruik, want dit was oorlog en petrol is gerantsoeneer. My pa het sy koepons meestal gehou vir wanneer die kinders wat op Ugie op skool was, gehaal moes word. Ou Samson moes maar altyd te perd gaan om die pos en ander dinge te gaan haal.
Die togte Ugie toe was altyd ’n belewenis. Dit het gewoonlik goed gegaan tot ons by Ntywenka gekom het. Daar is vandag ’n gehuggie met hierdie naam bo-op die berg, maar destyds was dit die naam waaronder die pas bekend gestaan het. Daar was toe nog nie teerpaaie nie, trouens die paaie was maar redelik primitief. Die ingenieurs van destyds het ook blykbaar die kortste roete gekies sonder inagneming van die gradient, met die gevolg dat die Plymouth dit gewoonlik nie gemaak het nie. Dan is ’n span osse van een van die persone van die omgewing voor die Plymouth gespan en die hele pakkaas die res van die pas uitgesleep. Dit moes nogal ’n aardige inkomste vir hierdie persoon gewees het, want die Plymouth was nie die enigste motor wat teen die berg gaan staan het nie.
Ek het hierdie pas weer gedurende April 1994 gery, en dit nogal laat een aand terwyl die mis so dig was dat jy skaars tien tree voor jou kon sien. Die pad is nou wel geteer, maar die kwaliteit is nog power en slegs breed genoeg vir een voertuig.
Die eerste groterige dorpie bo - op die berg is Maclear. Die pad het egter nie deur die dorp gegaan nie, en jy moes afdraai as jy daar wou aangaan. Die pad vanaf Maclear na Ugie kruis die spoorlyn verskeie kere, en by elke kruising was daar ’n hek. Een van die passasiers, op daardie tydstip gewoonlik my ma, moes dan uitspring om die hek eers oop en dan weer toe te maak.
Gedurende een van hierdie besoeke aan Ugie het ek ’n groot stel afgetrap. Ek was baie lief vir ENO`s en het baiekeer my ma se bottel gevat en sommer ’n klomp in my mond gesit. Ons het by my ouma Botha tuisgegaan, en daar ontdek toe ’n bottel ENO`s, of so het ek gedink. Ek het ’n groot hap gevat, en tot my konsternasie agtergekom dat my ouma snuif daarin gebêre het. Ma ma moes my mond uitspoel met water om alles uit te kry.
Op ’n ander keer was ons iewers heen op pad, ek dink Elliotdale toe. My pa en ma het voor gesit, en ek en die kinderoppasser met Miela op haar skoot, agter in. Dit het gereën en my pa het nie vinnig gery nie. Die ruitveërs van die ou motors het mos met vakuum gewerk. As jy versnel, het hulle stadiger gewerk.
Ewenwel, ons ry nog so toe ek die die deur oopmaak. Hoekom ek dit wou doen, weet g’n niemand. Miskien was hy nie behoorlik op knip nie en wou ek dit toetrek. Die deur het oopgevlieg, met my agterna. Soos die voorsienigheid dit wou hê. het ek om lewe en dood aan die handvatsel bly klou. My pa het die petalje nie dadelik agtergekom nie, en dit was eers toe die oppasser op haar taal (Xhosa) sê dat die kind uit is, dat hy dit agter gekom. Hy het stilgehou, en moes my ma eers lawe om oor die skok te kom. Volgens my ouers het my voete vir ’n hele ent deur die modder gesleep. Ek het egter geen nagevolge oorgehou nie.
Op Xorana (bosboustasie in die Transkei) moes ons onself vermaak. Daar was nie al die afleidings en moderne geriewe waaraan vandag se kinders gewoond is en as vanselfsprekend aanvaar nie. Daar was egter baie vir ’n kind om te doen. Ons het die hele werf vir onsself gehad, en daar was baie bome waar ons kon speel.
Ek het ’n rooi speelkruiwa gehad wat ek by iemand gekry het. Die mense moes nogal van my gehou het toe ek ’n kind was, want ek het meer sulke presente gekry. My pa het altyd die kruiwaentjie op die krip gesit wanneer ons iewers heen gegaan het. Eendag net toe ons by die huis kom, wou ek dit hê en het afgesit stal toe. Al wat ek in die hande kon kry, was een van die handvatsels. Ek het getrek en die kruiwa het op my kop beland. Dit was van redelike dik staal gemaak en nogal swaar. My kop is oopgesny en die bloed het geloop.
Ek het eendag ’n blikkie rooi verf in die hande gekry en besluit om die kruiwa te verf. Toe my pa op my afkom, was die verf al goed aangeplak. Hy het my toe maar gehelp om die oortollige verf te verwyder.
Ek onthou die eerste en ook die laaste keer dat ek ’n present by ’n kersboom gekry het. Dit was deur ’n instansie, ek dink amper ’n Engelse kerk aangebied. Dit was in ’n saal op Maclear (?) aangebied. Ek onthou nog die boom en die baie liggies. My ma het my voor die tyd mooi afgerig hoe om op Engels dankie te sê, en ek onthou nog hoe ingenome die ou omie wat Kersvader gespeel het, was met my Engels. Hy het dit aan almal verkondig terwyl hy skaterlag. My present was ’n rooi lokomotief van blik. Ek het baie lank daarmee gespeel. Een gunsteling speletjie was om daarop in die gang af te ry. Snaaks, maar ek kan nie onthou wat van enige van my speelgoed geword het nie. Ek het dit nie meer gehad toe ek skool toe is nie.
Vakansietye wanneer die groter kinders by die huis was, het my pa ons laat resies hardloop. Elke kind het ’n voorgee gekry volgens sy ouderdom. My suster Yda kon vinnig hardloop en het gewoonlik gewen. Dan was daar ook nog die poel water waar ons baie keer gaan speel het. Die poel het gewemel van ‘n klein soort paddatjie wat soos ons gesê het, mooi kon sing. My ma was egter nie aldag baie ingenome met hierdie tydverdryf nie.
Op ’n keer het ’n familielid van my ma by ons gekuier. As ek reg onthou was dit oom Koos Botha. Hy het vir my ’n oulike karretjie, so ’n soort treppie gemaak, en ook tuie sodat die hond my kon rondtrek. Die hond, Kommandant, was vredeliewend en ek het baie met hom gespeel. Hy het dan ook hierdie las lankmoedig aanvaar.
Die voortuin was afgeskort met pale en het gewone klein hekkies gehad. Eendag sit ek in die karretjie met Kommandant ingespan. Daar het ’n reënbui uitgesak en ons het gewag dat dit ophou. As daar een ding was wat Kommandant nie kon verdra nie, was dit ’n swart vark. Ek weet nie waar hy hierdie renons in ’n swart vark vandaan gekry het nie, maar ons sit nog so lekker toe ons ’n rondlopervark in die land gewaar. Kommandant het hom seker eerste gesien. Die hek aan die patatland se kant was oop en hy het besluit om die indringer te gaan verjaag en het seker vergeet van die kar met passasier wat aan hom gekoppel was. Die kar met my daarin het die linkerpaal getref, en net daar agtergebly. Soos die geval met my oupa se perdjie, was die tuie onherstelbaar.
Dieselfde Kommandant was ’n baas molvanger. Hy het met sy voorpote gegrou dat jy net grond sien waai. As hy dan te stadig vorder, het hy sommer hompe grond gehap om die mol gouer beet te kry. Hy het menige molle so gedood.
Donderweer is ’n algemene verskynsel in die Transkei. Wanneer dit erg begin raak het, is ons kinders in ’n kamer ingeboender waar daar nie spieëls was nie, en die gordyne is styf toegetrek. Die oumense het mos geglo dat spieëls die weerlig aantrek. Na die storm is ons gewoonlik na buite om te sien wat se skade gedoen is, en natuurlik om in die modder te speel. Ons het dan baie keer van die hutte onder in die vlakte gesien brand, moontlik deur die weerlig veroorsaak.
Eendag het my pa ons na so ’n storm geroep, en ons ’n boom gaan wys wat deur die weerlig getref was. Die boom het so ’n honderd tree vanaf die huis aan die kant van die bos gestaan, en is van bo tot onder oopgekloof. Dit was die eerste keer dat ek die geweld van die natuur aanskou het.
Dit is ook paling wêreld en ons het baie keer daarvan gaan vang. Omtrent elke stroompie het palings in gehad. Ons moes egter ’n hele ent loop om by hierdie stroompies uit te kom, maar dit het ons nie afgeskrik nie. Dit was gewoonlik ek en my twee ouer broers Ouboet en Koos wat hierdie togte onderneem het. My pa het ook baie graag gehengel, maar dan het ons met die motor gegaan.
Ons het so agt myl vanaf die kus gebly en het gereeld daarheen gegaan, soms vir ’n hele paar dae, veral wanneer ons kuiermense gehad het. Ons het dan sommer in tente gebly, want daar was geen geriewe nie. Die natuur was nog heeltemal ongerep. Die plekke waar ons die meeste gegaan het, was Koffiebaai en Cwebe. Ek weet nie of die plekke nou ander name het nie. My pa het baie nagte uitgegaan om te hengel, en een aand het hy en ’n vriend amper verdrink toe die gety uitgekom het sonder dat hulle dit agter gekom het en hulle afgesny is van die strand. Hulle het heelwat hengelgerei verloor, waaronder die Karbiedlampies wat toe algemeen in gebruik was.
Ons kinders het meestal in die rotspoele gespeel en wonderlike dinge ontdek. Dan het ons ook by verskeie geleenthede bale rou rubber opgetel wat blykbaar van die vrag was van gekelderde vragskepe. Dit was toe oorlogstyd, waarvan ons geen benul gehad het nie. Die grootmense het dikwels daarvan gepraat, vernaam aangesien my ma se broer ook aangesluit het. Hy is by Tobruk gevangene geneem. Ek onthou nog goed die dag toe hy terug gekeer het. Ons het spesiaal vir die geleentheid Ugie toe gegaan om hom terug te verwelkom. Dit was die eerste keer dat ek ’n uniform gesien het.
Ons was egter op ’n ander manier bewus gemaak dat daar iewers ’n oorlog aan die gang was. Op die buur bosboustasie was kinders wat saam met hul ouma uit London na veiligheid gestuur was. Hulle het ’n paar keer by ons kom kuier, maar ons kon mekaar natuurlik nie verstaan nie, en het nie juis van mekaar gehou nie.
My ouers was natuurlik redelik pro Duits, vernaam my ma wat Duitse voorouers gehad het. Haar ouma Emilie Mai was ’n dogter van Duitse immigrante. Dan kom die Bothas ook oorspronklik uit Duitsland. Ek glo my ouers het niks van Hitler se wandade geweet nie. Sy het ook na die oorlog ’n paar keer voedsel en klere aan ’n Duitse gesin gestuur. Die dame het ’n foto van haarself en haar kind aan my ma gestuur. Alles hiervan kon ek natuurlik niks verstaan nie.
Dan was daar ook gedurende die oorlog die kwessie van die bruin brood. Wit broodmeel was onverkrygbaar, aangesien Jannie Smuts alles aan die Kakies gegee het. My pa het egter ’n plan gemaak en ’n groot sif gemaak sodat my ma die semels kon uitsif. Dit was natuurlik teen die wet om dit te doen. Baie min vreemde mense het egter op Xorana gekom, en my ma was veilig. Dit is seker die rede waarom ek tot vandag toe nie bruinbrood eet nie.
Ons het dikwels by mense op Mqanduli gaan kuier, vernaam as daar winkels toe gegaan moes word. Of hulle verwant was, kan ek nie sê nie. Die mense se van was de Bruyn. Ook as daar nagmaal was, het my ouers ons jonger kinders by die mense gelos en saam met die grootmense Umtata toe gegaan vir die kerkdiens.
Die oom het ’n saagmeule gehad en sy skoonseun het dit saam met hom bedryf. Hy en sy vrou het gewoonlik saam by die huis agtergebly, seker om ons op te pas. Hierdie Sondag was dit ook weer so.
Die grootmense was skaars weg of die oudste seun sê ek moet vir hom van die handtertjies wat sy ma gemaak het, uit die spens gaan haal. Die deur was kwansuis gesluit, en hy tel my toe deur die venster. Ek was skaars binne of die jonger seun kom ingestap. Hy het my daar verwilder en seker vir sy getroude suster gaan vertel. Sy het op haar beurt vir haar man vertel, en hy het my uit die tent waarin ons gespeel het, gesleep en ’n loesing gegee.
Die grootmense was skaars by die huis, of die getroude dogter vertel vir haar ma met smaak van die petalje, en dit voor my ma. Ek kon sien my ma was baie verleë, en het my uit die voete gemaak, want ek het geweet dat as my pa daarvan hoor, word ek weer gelooi. Die rit terug was maar baie stroef, maar my ma het my pa verbied om my weer te slaan. Sy was ook ontstoke omdat ’n vreemde man aan haar kind geslaan het. Ek was toe nog baie jonk.
Op ’n ander geleentheid het dinge egter amper tragies verloop. Net buite die dorp is daar ’n rivier, en dié Sondag besluit die klomp om soontoe te gaan. Die oudste seun het ’n fiets gehad, en hy bind toe sy fiets met ’n tou agter aan die vragmotor vas. Dit het vir ’n entjie goed gegaan, maar toe begin die vragmotor vinniger beweeg, en die fietsryer verloor beheer. Hy het geval dat dit so klap, maar die bestuurder het net aangehou met ry. Gelukkig het die fietsryer nie baie seer gekry nie. Die bestuurder was dieselfde persoon wat my so gelooi het.
Dirk Pretorius

