Drie dae in die Kruger

  • 3

Einde April 2014 het ons gesin met ‘n oorvol Fortuner, gekerfde biltong en gedroogde geelperskes die R536 na die Nasionale Kruger wildtuin aangedurf. Die grootste uitdaging is om ‘n luiperd te sien. Met ons vorige besoek moes ons droëbek terugkeer sonder ‘n foto van hierdie volmaakte vaartbelynde kat.

Kolle in die sand
Die verrassing het gewag! Laatmiddag, in die nogwarm sand van die Sabierivier het sy rondgerol en luilekker gespeel tussen biesies en agter waterpoeletjies. Sy was ver vanaf die brug waarop ons gestaan het, maar kon die lens die naaswit en goudkleurigheid van haar vel met onreëlmatige rosette genoegsaam nader trek.

Die luiperd – wat een van die Groot Vyf is - is byna bedreig, en word jaarliks minder as gevolg van trofeejag en stropers wat die velle soek. Hierdie roofdier word meer gevrees as die leeu omrede hul gewelddadigheid, dapperheid en intelligensie.

Prys van verwerping
Teen die blousel agtergrond van die water-rimpels het die steenkoolgrys kleur van die daggaboy sy beeld se eensaamheid vertoon. Ou buffelbulle word uit die trop verdryf en sal in modderpoele of onder ‘n boom staan om af te koel.

Wanneer gekwes, is die buffel uiters gevaarlik. Met sy dreigende, krom horings in die lug sal hy storm en op die laaste oomblik dit laat sak om sy vyand die lug in te slinger.

Koning van die woud
Die leeu bly die dier met die meeste aantrekkingskrag. Voor hierdie mannetjie tussen die droë gras lê die wyfie. Dit was paartyd en hulle het voortgegaan sonder dat die voertuie steur. Hierdie formidabele rooi-en-swart maanhaar se reputasie loop hom voorwaar vooruit.

As die grootste karnivoor op die vasteland, dwing die leeu se krag en statuur respek af by al die ander diere. ‘n Groot groep sal selfs buffels, seekoeie en olifante aandurf.

Roep van die kroondraer
In SA ken die meeste mense die onvergeetlike, deurdringende roep van die manjifieke visarend. Naby waters, bo-in groot bome, kan die wit borsvere maklik vanaf ver raakgesien word. Hulle lengte strek tussen 63-73cm. Indien die prooi diep in die water swem, sal hulle op ‘n aanskoulike manier tot onder die water induik, net om huiwerloos en grasieus te verskyn met ‘n groot vis in die sterk kloue.

Wat sien jy?
Onder op die foto lê ‘n skurwe gepantserde krok in die son en bak. Draer van die vreesaanjaende reputasie: mensvreter. Is hierdie een se stertpunt weg of net teruggedraai? Besluit maar self.

Die grootste Nylkrokodil wat nog ooit doodgemaak was in die Okavango-delta, was 5,86 m lank en het sowat 800 kg geweeg.

Moeilikheid, moeilikheid!
Die reëls en regulasies van die Nasionale Krugerwildtuin stel dit duidelik dat geen liggaamsdeel buite enige voertuig mag wees tydens wildsbesigtiging nie. Hierdie seun waag dit nogal om ‘n video te neem terwyl ‘n trop olifante met hul kroos oor die pad tussen die voertuie deurstap. Baie gevaarlik!

Skadukolle tussen blare
Om hierdie foto (bo regs) te kon neem het ons een uur en 45 minute gesit en wag. Dis net diereliefhebbers wat so laf is. Om ‘n luiperd in ‘n hoë boom agter welige blare raak te sien is amper onmoontlik. Bedags lê hulle en slaap gekamoefleer op die groot stam van ‘n boom. Dié luiperd was baie ver en het ons soms gekiek sonder om iets raak te sien, hopende vir ‘n gelukskoot. En ja – tussen 30 floppies pop hierdie een toe uit: ’n vinnige loer-tussen-takkies skildery. Nie ‘n wenprent nie, maar steeds die moeite werd.

Kringe in die water
Die hemel word rooi. By die Sunsetdam naby Onder-Sabie dwarrel amberkleurige stof in die skemer, terwyl die swartgrys water perdesilwer rimpels op die wateroppervlakte kolk. Wanneer die hek by die ruskamp vanaand sluit, sal dié seekoeie uitklim om met hul gewebde tone saggies rondom die kamp en rivieroewer te wei. Gedurende die nag draai ek die slaapsak styf om my lyf terwyl ek sluimerend luister na hul gesnork en vretery digby die tent. Opwindend!

Met die Sunsetdam aan die een kant en die Sabierivier aan die ander is hier bykans heeljaar diere te sien. Hier is ‘n verskeidenheid van watervoëls soos maraboes, ooievaars, nimmersatte en kormorante. Natuurlik kom maak die groot vyfgereeld hul draai en is dit die drinkplek van wildehonde.

Renosterkaperjolle
Op die plat grasvlakte staan ‘n oorlogstenk. Hierdie renoster was so rustig dat ek amper aan hom kon raak. Wat ‘n kwesbare teiken! Die witrenoster het ‘n voorliefde vir modderbaddens. Dis nie bloot ‘n skoonheidsroetine nie, maar vang die modder die bosluise ook vas. Wanneer die modder dan droog word en afval, val die bloedsuiers saam af.

Alhoewel bysiende het die renoster ‘n sterk ontwikkelde reuk- en hoorsintuig. Kyk hoe afsonderlik draai hierdie een sy ore.

Die groot dors
By die rivier teen die regop duine woel dit leeus. Die ‘mega-pride-familie” (ons kon net 12 sien) is ‘n indrukwekkende groep leeus om te aanskou. Hierdie taankleurige roofdiere het hulle dors kom les ná die vorige nag se gekattemaai. Vroegoggend was die hitte alreeds salig.

Leeus maak dit duidelik wie baas is. Mannetjies baken hul gebied af met ontploffende gromgeluide en ‘n oorverdowende gebrul wat tot 8 km ver in die nag gehoor kan word. Dit bring die bosveld tot stilte.

Getooi in rooi
Geen sonsondergang is dieselfde nie. Dit bly uniek soos ‘n vingerafdruk. Tussen duisendede foto’s is daar duisende verskille. Ons drie dae in die Kruger was verby. Met slegs herinneringe vasgevang op asemrowende stilfoto’s as enigste troos.

Op pad terug na die stad, is almal swyend. Hartseer, tog vol wysheid. Want elke sonsondergang koester die belofte van ‘n nuwe sonsopkoms. Dae kosbaar uit die hand van die Skepper.

Klim op die pad van die natuur sodat dit jou inneem.

Trienie Mahne

  • 3

Kommentaar

  • Mooi fotos en mooi beskrywings, Trienie. Miskien moes jy eerder 'n wildbewaarder gewees het!

    Groete,

    Varkspek

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top